Roy Memphis – Swaeltjie

Roy Memphis is op 2 Oktober 1948 in Bethlehem in die Vrystaat gebore as Nico van den Berg. Hy het reeds op 6-jarige ouderdom die kitaar bemeester, en het in later jare ook sanglesse geneem. Hy het skool gegaan aan Egerton Primêre en Sekondêre skole in Ladysmith in KwaZulu-Natal, en het op skool reeds verskeie goue toekennings vir sang ontvang. Op hoërskool het hy die popgroep “The Matadors” gestig, en hulle het gereeld oor naweke in die MOTH-saal op die dorp opgetree. In 1965, nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het, het hy in Durban gaan woon waar hy en sy broer Jacques die groep “The Static Stones” begin het. Op hierdie stadium moes hy ‘n verhoog naam kies, en het hy besluit om twee van sy groot helde in die musiekwêreld te gebruik – Roy is afgelei van Roy Orbison se naam en Memphis is afgelei van Elvis Presley se tuisdorp.

In die vroeë 1970s het hy verhuis na Johannesburg en het hy vir ‘n oudisie gegaan by die RPM-platemaatskappy, wat gelei het tot ‘n plate kontrak. Sy eerste uitreiking was ‘n solus sewe van “O Huil Nie Mama” in 1972, en later daardie jaar het hy ook die liedjie “Maar In Amerika” op solus sewe uitgereik. Dit het die #17-posisie op die SA Top 20 bereik en was vir 1 week op die treffersparade. Die liedjie is ook op ‘n stadium gebruik om die seiljagte in die Kaapstad hawe af te sien tydens die Kaap na Rio seiljag wedren. In 1973 is sy enigste langspeelplaat, “Waar Die Son Skyn”, vrygestel.

Hoewel Roy hierna besluit het om eerder ‘n besigheidsman te word as om ‘n loopbaan as sanger te volg, het hy tog gereeld na-ure by verskeie instansies opgetree, insluitend die Victoria Hotel in Johannesburg, die Holiday Inn by die OR Tambo Lughawe, asook by Sun City. Een van sy laaste optredes was juis in 1995 in die Crystal Palace by Sun City.

Roy was getroud met Fransie Annandale en ‘n seun, Jacques, is uit die huwelik gebore. Hy is op 22 Februarie 1996 in die jeugdige ouderdom van 47 aan kanker oorlede.

Hierdie liedjie is in 1972 op solus sewe uitgereik as die B-kant van “Maar In Amerika”.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.