Gordon Charles Bayman is op 9 Januarie 1917 gebore en het sy kinderjare in die Kaap in ‘n regte storieboek-omgewing deurgebring, wat grootliks daartoe bygedra het dat hy ‘n briljante storieverteller geword het. Hy was welbekend as radio omroeper en as verhoog- en rolprentakteur, veral vir sy karakterisering van sy geliefde Kaapse Kleurling, vir wie hy baie respek gehad het en ook goed geken het. Hy het dit so goed uitgebeeld dat hy verskeie kere die rol van ‘n “Gamat” in rolprente vertolk het, o.a. Satanskoraal (1959), En Die Vonke Spat (1961) en King Hendrik (1965). Op die destydse Springbok Radio was hy baie geliefd as omroeper en stemkunstenaar, veral as deel van die gewilde Caltex Show saam met o.a. Flippie Laker, Pip Freedman, Ken Taylor, Leslie Richfield en Geoff Slaymaker. Sy stem is ook in menige radioverhaal en advertensie gehoor. Sy vermoë om byna foutloos in talle aksente te praat het hom in staat gestel om verskillende nasionaliteite en etniese groepe te vertolk.
Gabriel het in ‘n groot aantal verhoogstukke opgetree, o.a. Waiting For Godot (1959 vir die N.T.O.), Eldorado (1960), The Amorous Prawn (1961 in die Alexander Teater), The Physicists (1963 vir die Langford-Inglis Maatskappy), Dear Me, The Sky Is Falling (1963), A Flea In Her Ear (1968 saam met die Johannesburgse Repertoire Spelers) en in die musiekblyspel Canterbury Tales (1970-71 in die Stadskouburg in Johannesburg). As radio omroeper het hy uitgeblink in o.a. 33 Half Moon Street (1965-66 geskryf deur Adrian Steed en later deur Douglas Laws), General Motors On Safari (1965-69 o.l.v. Michael McCabe), The Adventures Of Sherlock Holmes: The Illustrious Client (1967 deur Adrian Steed), die aksiereeks Squad Cars (1968-85 onder die direksie van David Gooden), Eloquent Silence (1969 o.l.v. Cecil Jubber), The Challenge Of Space (1969-70 saam met Donald Monat) en natuurlik die baie suksesvolle Caltex Show.
Ook as sanger het hy die Kaapse Kleurling baie goed uitgebeeld. Op hierdie album, wat in 1967 uitgereik is, word hy begelei deur Ballie en Sy Bolle, wat niemand anders was as Chris du Toit en Flippie van Vuuren se orkes nie. Op twee van die snitte, “Ertjies En Boontjies” en “Guy Het Nie Hare Nie”, sing Gabriel se dogter, Susan, saam met hom. Die album bevat pragtige en opregte Kleurling “moppies” en “goemaliedjies”.
Hy het ook ‘n paar uithaler storie langspeelplate uitgereik waarop hy ook verhale uit sy eie pen vertel, o.a. Die Franse Paddas Van Franschhoek, Abdol Gaan Visvang, The Thorntree Ring en Mr. Loudmouth Caterpillar. Op hierdie plate hoor mens nie eintlik sy alledaagse stem nie, maar wel die stem van ‘n meester storieverteller. Hy is dikwels deur die media “die man met een-honderd-en-een-stemme” genoem.
Hy is op 1 Junie 1980 in die ouderdom van 63 oorlede.
Hierdie liedjie is vanaf die album “Gabriel Bayman Croaks Cape Comic Songs” wat in 1967 uitgereik is. Hoewel die titel Engels is, is al die liedjies op die album in Afrikaans. Die liedjie verwys na ‘n proses wat, tesame met die brand van ou lappe, gebruik is tydens die vervaardiging van wynvate.
