Aktueel Die fenominale Boervroue 22 Augustus 2016
Die Boervrou
Die geskiedenis van die Boervrou is ‘n handleiding tot die liefde vir God, Volk en Vaderland. Wat beteken God, Volk en Vaderland? Dit is ‘n liefde, ‘n begeerte, onbeskryflik groot vir iets wat eg en uniek is. GOD is die begin punt van dit waarin ons glo, sonder Hom is ons niks. Ons VOLK is ons trots en ons VADERLAND is ons erfdeel. Die man die vegter, die vrou die moeder, dit is ons plig. Ons geskiedenis het ons geleer hoe sterk die Boervrou was, ‘n pilaar om teen te leun in vreugde en in smart.
‘n Stukkie uit die geskiedenis
Die manne is in die veld, die vroue op die plaas, oorlog is verklaar. Die kinders is bang, die manne is bekommerd maar moet veg, die vrou by die huis moet nou kop hou en die man se skoene aantrek want gevaar is oppad. ‘n Klop aan die deur en die vrou weet wie dit is. Plase word verbrand en die wat nie vlug nie word in konsentrasie kampe gegooi. In oop trein trokke word moeder en kind aangery na die begin van die einde van baie van ons moeders en kinders van ons Volk. Babas wat sterf omdat hulle die koue of die honger nie kon verduur nie is van die moeder afgeskeur en langs die pad afgegooi. In die kampe het die moeder die een na die ander kindjie aan die dood afgestaan, hoeveel moes hulle nie verduur. Buiten hul smarte was die woord aan die manne moenie ophou veg nie. Die opofferings was groot en tog het die vrou nooit ophou bid en glo dat God hul sal red nie. 27 000 Vrouens en Kinders het gesterf vir iets waarin hulle geglo het, dit waaraan ons vandag nog glo, God, Volk en Vaderland, hulle het gesterf sodat ons iets kon erf. Dit is die Boervrou die Moeder van die Volk. Ons is bevoorreg, ons word voorberei, geestelik en natuurlik, die pad wat ons wil stap is ons keuse. Of is dit? Nee, dit is elke moeder se plig om reg te maak want God het jou kinders in jou hande toevertrou en jy c moet hulle beskerm tot die dood toe. As ons Boervroue saam staan en die moontlike doen deur bymekaar te kom en te leer wat van ons verwag word kan ons manne die geveg aanpak sonder enige bekommernis en met God se genade sal die Vierkleur weer wapper.
GOD REGEER!!!
Die Afrikanervrou
Deur Denker
Die Tagtigjarige Oorlog van die klein Nederlandse volk teen die Spaanse Ryk was ‘n merkwaardigste gebeurtenis. Die belangrikste lesse uit dié lang stryd te leer, is die vurige patriotisme, beslistheid, leeuemoed en die morele waarde van die Nederlandse vrou. Dit was die moeders wat hul seuns van die vroegste jare af geleer het om al hulle kragte in te span, om alle moontlike pogings aan te wend om die vyand te dwarsboom, en nie te rus voor die juk van hul nekke afgewerp is nie. Duisende moeders en dogters het kragdadige grootse werk in stilte gedoen.
Die Nederlandse vroue het die mans met nuwe moed besiel wanneer neerslagtigheid ingetree het. Dit was die vasberadenheid en die morele invloed van die vroue wat die manne aangespoor het om tot die dood toe te volhard en te oorwin. Dit was van hierdie vroue saam met Jan van Riebeeck na die Kaap gekom het. Toe die HOIK later besef dat Kaapland uitermate geskik was vir ‘n volksplanting en dat Tafelbaai ‘n vername strategiese punt geword het, het hulle Hollanders aangemoedig om daarheen te verhuis. Hulle moes persone van onbesproke karakter en sedelike gedrag wees.
Meeste inwoners in die Kaap was ongetroude mans en vyftig meisies van onbevlekte karakter is uit Holland gestuur. Daardie meisies het geleer om onafhanklik te wees, kragdadig, beginselvas en eerbaar. Ook Franse en Duitsers wat Kaap toe verhuis het, was veral deur hulle vroue aangemoedig en ondersteun omdat hulle hul vaderland verlaat het ter wille van hulle gewetens en vaste beginsels. Hier het hulle Afrikaners in woord en daad geword.
Die Voorsienigheid het dit so beskik dat die land waar die Afrikanervolk tot stand gekom het, so bevoorreg en geseënd was deur die inkoming van die beste en edelste bloed van karaktervaste families. Die vroue was in morele reinheid, innerlike waarde en godsdienstige vrug hoogstaande. Aan die knie van die moeders het die seuns en dogters die beginsels en leefwyse ingedrink wat soos suurdeeg deur die hele geskiedenis van die Afrikanervolk sou werk.
Die eienskappe wat die moeders veral op hulle seuns en dogters afgeprent het, was sindelikheid, eerlikheid, beslistheid, godsvrug, vaderlandsliefde en eerbied vir vader, moeder en ouer persone. Die kinders is geleer om Afrikaners te wees.
Dit was die vroue wat ‘n merkwaardig onkeerbare volksgevoel laat ontwaak het. Hulle het die kindertjies ‘n liefde ingeboesem vir die nuwe vaderland wat hulle aangeneem het. Die gevolg was dat daar by die seuns en meisies van hul vroegste jare af ‘n kragdadige gevoel ontkiem het wat deur die geskiedenis van Suid-Afrika ‘n sterk invloed uitgeoefen het. Daardie vasberadenheid is nog in wese by vandag se vroue teenwoordig. Hulle veg vir hulle beginsels en taal en godsdiens en vryheid, selfs al raak sommige mans bedruk.
Bron: Vryburger
Het vrouens regtig aan veldslae in die Anglo- Boere-oorlog deelgeneem? Lees hier oor die verstommende vrouens wat saam met hulle mans in die loopgrawe geveg het, dié wat daar gesneuwel het en selfs een wat saam is na ’n krygsgevangenekamp in Ceylon.
Die geskiedenisboeke is vol van die ondersteunende rol wat vrouens in die Anglo-Boere-oorlog gespeel het.
Nonnie de la Rey, Hendrina Joubert en Annie Botha is bekend as generaals se vrouens, maar wie weet wat grootwildjagter Otto Krantz se vrou gedoen het, of wat van Helena Herbst Wagner of Sarah Raal?
Baie Boervroue het as spioene gewerk en die twee bekendste van hulle was ’n mev Van Warmelo en haar dogter Johanna wat dwarsdeur die oorlog inligting aan die kommando’s oorgedra het.
In die begin van die oorlog was dit nie ongewoon dat vrouens hulle mans slagveld toe vergesel het nie.
Toe die Bethal kommando onder leiding van kommandant Engelbrecht by Helpmekaar aankom, was daar vrouens en kinders by. In die heel voorste wa het die reuse Johannes S (Hans) Vermaak se vrou en kinders, almal ongewapen, hom vergesel.
’n Mev PJ Moll van die Pretoria-omgewing het haar man vir 11 maande op kommando gevolg voor sy en haar baba gevang is en na ’n konsentrasiekamp by Newcastle gestuur is.
Kommandant-generaal Piet Joubert het die voorbeeld gestel toe hy sy vrou, Hendrina, op kommando saamgeneem het. Sy kommandolede se vrouens het gou Hendrina se voorbeeld gevolg en was konstant besig met die voorbereiding van kos en die omsien na gewondes. En, as dit nodig was, het hulle self die geweer opgeneem.
Geskiedskrywers verwys na die veldslae rondom Tugela waar Britse magte ’n swaar gewonde 19-jarige Boere-meisie gevange geneem het. Net voor haar dood het sy vir hulle vertel dat sy langs haar man in die loopgraaf gelê en skiet het. Hy is dood ’n paar oomblikke voor ’n koeël haar getref het.
John X Merriman, die Kaapse politikus, het in sy joernaal geskryf dat twee Boervroue op 1 Maart 1900 dood gevind is in die loopgrawe waar hul saam met hul mans geveg het. In sy boek “A Guardsman memories, A Book of Recollections” skryf E Gleichen dat hy op Pietershoogte vroueklere gevind het.
Na die slag van Paardeberg in Februarie 1900, waar daar 50 vrouens en kinders in Piet Cronje se laer was, het generaal Christiaan de Wet vrouens verbied om hul mans front toe te volg.
Toe Louis Botha kommandant-generaal van die weermag word, het hy ’n bevel uitgereik dat vrouens nie eers toegelaat moet word om die laers te besoek nie. Toe die Britte Pretoria egter begin nader, het verskeie vroue heldhaftige pogings aangewend om die kommando’s te besoek om hul te bemoedig. Ironies genoeg was Annie Botha, Louis Botha se wederhelfte, een van dié vrouens.
Die ander een was Petronella, generaal Meyer se vrou. Hulle is, ewe netjies geklee, gereeld op die rug van ’n perd naby die laers gesien waarheen hulle kos geneem het en die Boere probeer moed inpraat het.
Grootwildjagter Otto Krantz se vrou, net bekend as M Krantz, het daardie tyd die toonbeeld van vrouevegters-in-rokke geword. ’n Foto van haar met geweer en bandelier wat sy bo-oor ’n Victoriaanse rok dra, kompleet met hoedjie op die kop, is wêreldwyd gepubliseer.
Sy en haar man was deel van die Vryheid-kommando wat deelgeneem het aan die beleg van Ladysmith. Dié vrou was ook aan haar man se sy met die slag van Elandslaagte op 21 Oktober 1899, daarna by Tugela en sy was een van die eerstes om na die Vrystaatse veldslae te vertrek. Toe haar man gevang is, het sy toestemming verkry om hom as krygsgevangene na ’n kamp in Ceylon te vergesel.
Een van die bekendste gevalle van ’n vrou wat ’n rok in die loopgrawe gedra het is dié van Sarah Raal. Sarah en twee vriendinne het van Springfontein Konsentrasiekamp ontsnap en is deur ’n nabye kommando ingeneem. Sarah was vir ’n lang tyd saam met ’n korporaalskap van 20 mans en het help skiet wanneer dit nodig was, maar sy is later gevang en het die laaste deel van die oorlog in die Kroonstadse konsentrasiekamp deurgebring.
Baie vrouens het egter besluit om hul mans se klere aan te trek en as ‘mans’ slagveld toe te gaan. In sy herinneringe skryf Ben Bouwer: “Daar kan ’n lang lys van vrouesoldate in mansklere gemaak word.”
Onder die gevangenes wat deur Britse magte by Colesberg gevang is was drie Boervroue wat mansklere gedra het. Dit is eers verskeie weke nadat hulle in ’n Kaapse tronk gesit is, dat daar ontdek is dat hulle vrouens is.
Volgens Hillegas, ’n Amerikaanse oorlogskorrespondent, het hordes Boervroue deelgeneem aan veldslae. Hy het ook geskryf oor ’n Helena Herbst Wagner van Zeerust wat vir vyf maande in die laers en loopgrawe geleef het voor daar uitgevind is dat sy ’n vrou is.
Helena se man is vroeg in die oorlog al weg op kommando en hy het haar alleen gelos by hulle baba. Die baba is in Januarie 1900 dood en dit is toe dat Helena haar man se klere aangetrek het, ’n geweer en bandolier bekom het en na die Natalse front toe is om na hom te soek. Toe sy hom nie kon kry nie, het sy by kommandant Ben Viljoen se kommando aangesluit en aan die veldslae van Spioenkop, Pontdrif en Pietershoogte deelgeneem.
Met die trek na Van Tondersnek het Helena uitgevind dat haar man ernstig gewond in ’n Johannesburgse hospitaal lê en sy het die kommando tydelik verlaat om hom te gaan verpleeg.

In ‘Words by an Eye-Witness’ skryf outeur Linesman dat Boervrouens gesien is agter die koppies by Colenso en Vaalkrantz. Daar is ’n foto in Sophia Izedinova se boek, “A few months with the Boers”, van ’n groep vrouens en kinders met gewere en bandeliere met die onderskrif: “’n Groep vrouens wat wapens teen die Britte opgeneem het.”
Dieselfde foto’s van kinders met gewere kan in Nonnie de la Rey, vrou van generaal Koos de la Rey, se boek gesien word. Jacoba Elizabeth de la Rey, bekend as Nonnie, en Koos se verhaal is waarskynlik een van die bekendste uit dié oorlog. Nonnie, gebore Greef, het Koos ontmoet toe sy 18 jaar oud was. Sy was die dogter van ’n vooraanstaande boer en stigter van die dorp Lichtenburg.
Aanvanklik was Nonnie se ma nie geneë dat haar dogter met Koos, nege jaar ouer as sy, moes trou nie. Koos en Nonnie is egter, met haar ouers se toestemming, op 24 Oktober 1876 getroud en het net buite Lichtenburg gebly.
Hendrina, generaal Piet Joubert se vrou
In die eerste fase van die oorlog het Nonnie dikwels vir Koos op kommando besoek. Toe Nonnie die nuus van haar oudste kind, Adaan, se dood ontvang, het sy na haar man op die slagveld gehaas. Ná die slag van Magersfontein het hulle na Jacobsdal gegaan om sáám die graf van hulle seun te besoek.
Toe lord Methuen vir Nonnie uit haar huis verdryf, het sy en haar jonger kinders op 1 Desember 1900 met ’n wa en osse, ’n spaider, melkkoeie en ’n groepie bediendes vertrek om tot die einde van die oorlog in Mei 1902, rond te swerf. Nonnie het gesorg dat sy altyd naby haar man se kommando bly.
De la Rey het ook altyd geweet waar sy vrou en kinders was en het nooit ’n geleentheid laat verbygaan om hulle te besoek nie.
Nonnie het ’n boek, oorspronklik getiteld ‘Mijne omzwervingend en beproevingen gedurende den oorlog’ in 1903 in Amsterdam publiseer.
Dis nie net die vrouens in loopgrawe wat die oorlogspoging ondersteun het nie. Vrouens het kommando’s van die begin van die oorlog van kos voorsien. Vir die eerste twee maande van die oorlog is elke stads- en plaashuis in ’n bakkery omskep en vrouens het die kommando’s van brood en beskuit voorsien.
Cornelia Reitz, op daardie stadium staatsekretaris van die ZAR, FW Reitz, se vrou het op elke trein wat kommandolede deur Pretoria vervoer het, gewag met toebroodjies, koffie en melk. Cornelia was Reitz se tweede vrou en toe hulle op 11 Desember 1889 getroud is, was sy die direkteur van die Eunice Ladies Institute in Bloemfontein. Die dorpie Cornelia is na haar vernoem.
Kaapse vrouens wie se mans as rebelle gevange geneem is, het agter hulle aan tronke toe getrek om die mans van kos te voorsien. ’n Bekende geval is die vrouens van die 16 rebelle van Barkly Oos wat in 1899 skuldig bevind is aan hoogverraad en aangehou is in Tokai, Kaap. Die neefs Jan en Karel van Pletsen se vrouens, Frederika en Bess, was deel van ’n groep wat naby die tronk afgeneem is.
Vrouens wat op die plase agtergebly het, moes die vee en landerye versorg en kommandolede was altyd welkom om vir kos en vars perde aan te doen by enige plaashuis. Afsetpunte vir kos en klere is daargestel en ’n ene mev Peter Maritz Botha, blykbaar een van die rykste vrouens in die Republiek, het agter ’n tafel gestaan en sop uitgedeel aan verhongerde mans, vrouens en kinders.
Dit was ook meestal boervroue wat die veldhospitale beman het. Generaal Badenhorst het aangeteken dat ’n mev E Lotz van die Boshof-distrik sy kommando as verpleegster vergesel het van Januarie 1901 tot die einde van die oorlog in 1902.
Baie vrouens is egter dorpe toe om daar in die hospitale met gewonde kommandolede te help. Twee dogters van die vorige president van die Transvaal, Thomas Francois Burgers, het verpleeg in die Burke Hospitaal in Pretoria, gestig vir gewonde kommandolede. Martha Meyer, dogter van generaal Lucas Meyer, het ook naam gemaak as ’n toegewyde verpleegster van gewonde Boere.
Aan die begin van die oorlog is baie huise omskep in klerefabrieke. President Paul Kruger se dogters en sy twee kleindogters, Nettie en Elsie Eloff, dogters van Elsie Francina en Frederik Christoffel Eloff, het die klere-projek in Pretoria bestuur. Hier het honderde vroue in die Hooggeregshofgebou hemde, broeke en jasse gemaak en na die kommando’s aangestuur. Hulle het aanhou werk tot die Britte Pretoria ingeneem het.
Die twee Eloff kleindogters was, saam met Cornelia Reitz en ’n mev Van Alphen, vrou van die posmeestergeneraal, die beste skutte in die vroue-skietklub wat reeds in die begin van die oorlog in Pretoria gestig is. Hulle plan was om Pretoria vrou-alleen te verdedig terwyl die mans weg is.
Daar word gesê dat Nettie Eloff president Kruger se gunsteling kleinkind was. Nettie is later met ’n Bredel getroud en Elsie met HD Broekhuizen. Later jare, met die rebellie, het Elsie die vroue van Pretoria georganiseer om hulp te verleen aan die gevange rebellieleiers.
Sy het ook ’n leidende rol gespeel in die organisasie van die vrouebetoging van 1915, en was een van die vroue wat die petisie vir die vrylating van die rebellieleiers aan die Goewerneur-Generaal oorhandig het.
Bron: Bronberger



