Geskiedenis 24 Augustus

nuus radioPiet Retief
PIETER MOURIETS (PIET) RETIEF sou dié samebindende leier van die Groot Trek kon geword het, as dit nie was dat die Voortrekkers sulke inherente individualiste was nie. Hoogs bekwaam en geëer, sou die mantel van goewerneur wel dadelik op hom val die oomblik toe hy hom by die ander trekkers aansluit, maar hierdie aanwysing het ongelukkig nie die leierstryd laat verdwyn nie.
Hy was ’n sakeman, en waarskynlik ook die geleerdste onder die trekkers. Hy het met 120 weerbare manne en sowat honderd waens gekom, en in dié was ook sy vrou, Magdalena (vroeër die weduwee Greyling), en hul twee seuns en twee dogters. Sy dogters was albei so mooi dat dit aanleiding gegee het tot die naam van sy plaas by Riebeek-Oos—Mooimeisiesfontein.
Maar een van die tragedies in sy lewe was dat mislukte sakebedrywighede hom in 1832 vir ’n kort rukkie in die sogenaamde “debtors’ yard” in die Grahamstadse tronk laat beland het.
Retief (gebore in die Wamakersvallei, Wellington, op 12 November 1780 en gedood by Dingaanstat, Zoeloeland, op 6 Februarie 1838) was die skrywer van die bekende Retief-manifes. Daarin het hy die redes bekend gemaak waarom die trekkers die Kaapkolonie verlaat. Sowat honderd jaar later sou ’n geleerde nog sê dat die geskiedenis van die hele Suid-Afrika tot op daardie tydstip net kommentaar op die Retief-manifes was.
Die verhaal van sy dood is oorbekend: hoe hy van die Zoeloekoning Dingane die belofte gekry het van ’n groot stuk grond, wat alles daartoe gelei het dat hy, sewentig manskappe en ’n groot aantal agterryers doodgemaak is.

Daar bestaan, sover bekend, geen outentieke afbeelding van Retief nie. Hy het aan die Oosgrens wel ’n skildery van hom laat maak wat ongelukkig verlore gegaan het. Ons illustrasie is gegrond op die bekende “identikit” wat deur Eric Stockenström saamgestel is, gebaseer op die gesigte van Retief se broer en suster.

Uit oorlewering weet ons dat hy ’n man van middelmatige grootte was, effens donker van kleur, met swart hare en baard en ernstige maar vriendelike gelaatstrekke.

 

Regs voorstelling van Piet Retief

Bo: Voorstelling van Piet Retief

“Uit alles,” skryf Die Huisgenoot in Desember 1938, “kry ons die indruk dat hy ’n gebore leier was, ’n man met ’n sterk persoonlikheid en groot deursettingsvermoë, maar daarby was hy sagmoedig en vriendelik van aard en ’n man van innerlike godsvrug. Die verslaendheid en gevoel van hulpeloosheid wat sy heengaan onder die trekkers veroorsaak het, was meteens die maatstaf van sy grootheid.

Daar is twee verklarings vir die oorsprong van die naam van Pietermaritzburg, die hoofstad van die provinsie KwaZulu-Natal.  Die bekende verklaring is dat dit genoem is na Piet(er) Retief sowel as Gerrit Maritz. Volgens ’n tweede verklaring is Piet Retief egter alleen vernoem en is sy voorname—te wete Pieter Mouriets—opgeneem in “Pieter Mouriets Burg”, wat later as Pietermaritzburg herinterpreteer sou word.

Die dorp Piet Retief in die provinsie Mpumalanga dra ook Piet Retief se naam.

Piet Uys

 

links Piet Uys

PIETER LAFRAS (PIET) UYS was die eintlike leier van die trek van Jacobus Uys, sy bejaarde pa van diep in die sestig. Die geselskap het uit sowat honderd mense bestaan wat van Uitenhage af getrek het. Hulle was een van die laaste georganiseerde groepe wat die Kaapkolonie met die Groot Trek verlaat het.

Hoewel hy nie ’n lang man was nie, was Piet Uys goed gebou, met groot bruin oë, ’n vol baard, bruin hare en ’n sterk stem. Hy was vriendelik en hoog geëerd onder sy mense.
Uys is op 10 Julie 1797 op Potteberg (Swellendam) gebore. Hy het in 1815 met ’n niggie van hom, Alida Maria Uys, getrou en die egpaar het drie seuns gehad. Hy is op 11 April 1838 by Italeni oorlede, die enigste Voortrekkerleier wat tydens die Groot Trek in ’n geveg gesneuwel het. Die bygaande illustrasie is gegrond op ’n denkbeeldige portret van hom (SA Biblioteek).

Die Uyse het dit van die begin af laat blyk dat hulle hulle apart hou van die ander trekgroepe, maar besluit tog ook om Natal as woonplek te kies. Uys vind dit egter uiters moeilik om met Maritz saam te werk.
Ná die Bloukransmoorde word daar dringend na hom en Potgieter om hulp opgesien om staande te bly teen die plundermagte van Dingane, maar gebrek aan samewerking loop uit op die nederlaag by Italeni, waar Uys sneuwel. Potgieter word van lafhartigheid beskuldig, en hy verlaat daarom Natal.
Uys se jong seun Dirkie het by Italeni saam met sy pa in die voorste geledere geveg en gesneuwel. Hy is as kinderheld gehuldig omdat hy sou geweier het om te vlug toe hy bemerk dat sy pa dodelik gewond was (lees meer oor Dirkie Uys ondertoe in hierdie artikel).
Wat val dadelik op as ’n mens die verskillende trekkerleiers so naas mekaar beskou? Vir eers hul onwrikbaarheid en vermoë om die leiding te neem, hul volharding in die sake waarin hulle geglo het. Maar dan was daar ook die onderlinge tweedrag, wat volgens baie waarnemers dikwels tekenend was van die Boere. Dié het maar deur al die jare heen onder mekaar getwis en gestry—miskien juis omdat daar so baie leiers onder hulle was!

Maar is daar dan geen groterige plek in die land wat Piet Uys se naam dra nie? Blykbaar nie en ’n mens kan wel wonder waarom. As die leser egter van só ’n plek weet, verneem ons baie graag daarvan. Een betreklik onvermeldingswaardige vernoeming van Uys wat hierdie navorser kon opspoor, is die naam van ’n stasie tussen Sannaspos en Wepener in die Vrystaat—as daardie stasie nog bestaan. Die stasie is Uysklip genoem, in navolging van die sogenaamde Uysklip, die plek waar Piet Uys ’n verbond met Moroka, opperhoof van die Barolong, gesluit het.

ou voorstelling van boerwaens gemaak deur krygers

BO: ’n Ou voorstelling van swart krygers by modelle van Boerewaens adem iets van ’n lank vergange tyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Foto: U.S. Library of Congress

 

Dirkie Uys, kinderheld van die Groot Trek

Só lui die heldeverhaal oor Dirkie Uys, tienerseun van Piet Uys, in een van die aangrypendste gebeurtenisse in die veelbewoë lotgevalle van die Trekkers: die Slag by Italeni, in die huidige KwaZulu-Natal.Y aan sy sneuwel hulle… die Voortrekkerleier en sy dapper jong seun, wat botweg geweier het om sy sterwende pa op die slagveld agter te laat en te vlug, soos sy pa hom beveel het om te doen.

 

Dirkie Uys probeer sy pa beskerm

Bo: Dirkie Uys probeer sy gewonde pa beskerm net om self te sterf, volgens ’n paneel in die Voortrekkermonument, Pretoria.

Geskiedkundiges verskil kennelik oor hoe oud Dirkie was op daardie droewige dag in April 1838, want sy ouderdom word deur verskillende bronne as twaalf, dertien en vyftien aangegee. Verskeie van die ou bronne stel dit egter op slegs twaalf jaar.

Nadat die Voortrekkerleier Piet Retief en sy manne in Februarie 1838 deur die Zoeloe-koning Dingane om die lewe gebring was, is Voortrekkers elders ook deur die Zoeloes aangeval en gedood. Dit was ’n donker tyd vir die verpletterde Trekkers, van wie die meeste met alle geweld uit Natal wou padgee. Die Voortrekkervroue het egter voet by stuk gehou dat hulle nie Natal sou verlaat voordat Dingane gestraf is nie.

Hierdie Natalse Voortrekkers het ’n beroep op Trekkers elders gedoen om hulle te help, veral op die trekke van Piet Uys en Andries Hendrik Potgieter in die Vrystaat. Ná ’n onenigheid oor watter leier die strafekspedisie teen die Zoeloes moes lei, is besluit dat Uys en Potgieter met gelyke status elk in bevel van sy eie kommando sou wees—iets wat uit ’n militêre oogpunt gesien ’n groot flater was. Uys se seun Dirkie was ook in sy pa se kommando en saam het hulle in die voorste geledere geveg.

Die tragiese uiteinde was dat Uys dodelik gewond was deur ’n assegaai terwyl hy twee van sy vasgekeerde manne te perd wou gaan red. Die reddingsgeselskap moes noodgedwonge vlug, en Uys het verskeie kere van sy perd afgeval omdat sy kragte vinnig afgeneem het. Oplaas het hy finaal van sy perd afgegly—of gevra dat die ander manskappe hom op die grond moes neerlaat—en het hy hulle en Dirkie aangesê om hulself te probeer red.

Oor presies wat daarna gebeur het, verskil die historiese verslae. Volgens die een weergawe sou Dirkie, wat reeds saam met die meeste van vlugtendes ’n ent voor sy pa gery het, teruggekyk en gesien het hoe die Zoeloes op sy sterwende pa toesak. Hy sou sy perd omgeswaai en gestorm het met die uitroep dat hy saam met sy pa sou sterf. Hy sou drie Zoeloe-krygsmanne geskiet het, voordat hy met assegaaisteke van sy perd gedwing is. Dirkie sou langs pa geval het waarna altwee doodgesteek is.

Volgens ’n ander weergawe is dit egter waarskynlik dat hy nie eers aanstaltes gemaak het om sy pa alleen aan die Zoeloe-krysmanne oor te laat nie, maar uit die staanspoor langs sy pa stelling ingeneem het om weerstand te bied, voordat hy ook deur die Zoeloes oorweldig is.  Een ekspedisielid het selfs vertel dat Dirkie eerste doodgesteek is en sy pa net daarna.

Die oorlewendes het so vinnig as moontlik na die Buffelsrivier teruggetrek en die Zoeloes het die agtervolging ná ’n tydjie gestaak.

’n Derde weergawe van die Dirkie Uys-verhaal wil dit weer hê dat hy en ’n ander jeugdige besig was om agter te raak onder die vlugtendes toe hulle met hul perde ’n waterstroom moes oorsteek waar die riete kol-kol dig aan die oewers gegroei het. ’n Aantal Zoeloes het hulle in die water aangeval. Die ander jeugdige het ontsnap, maar Dirkie se perd het gegly en hy kon nie wegkom nie.

Ná die Slag by Bloedrivier, toe die Trekkers Dingane se mag gebreek het, is die oorskot van Piet Uys deur Trekkers gevind wat daarna gaan soek het. Dirkie s’n is egter nooit gekry nie. Een storie dat sop van sy lyk gekook en gedrink is, is bes moontlik niks meer as ’n versinsel nie.

Maar soos een navorser dit stel: “Laat ons nooit vergeet dat die betreklike vrede en gees van naasbestaan wat ons vandag in hierdie mooi land ervaar, meer as ’n eeu en ’n half gelede ook met kinderbloed gekoop is nie.”

Die Wonderwerk van Bloedrivier

Andries Pretorius slaan die herhaalde aanvalle van 10,000 geoefende en dapper Zoeloekrygers af en laat een uit drie van hulle sneuwel.

Andries Pretorius se roem as veldheer berus in die eerste plek op sy skitterende oorwinning by Bloedrivier. Die oorwinning wat hy hier behaal het, is sonder weerga in die militêre geskiedenis van Suid-Afrika. In geen ander veldtog het daar aan die een kant so veel en aan die ander so weinig gesneuwel nie – 3,000 Zoeloes teenoor nie ‘n enkele Voortrekker nie. Bloedrivier was egter nie die enigste veldslag waar Pretorius sy vernuf as aanvoerder getoon het nie. By Congella het hy Kaptein T.C Smith se nagtelike opmars gestuit op ‘n wyse wat bewondering afdwing. By Port Natal het hy die Britse mag suksesvol beleër, maar tevergeefs probeer om die landing van Britse versterkings onder Luitenant Kolonel A.J. Cloete te keer. By Boomplaats het hy sy terrein goed gekies en sy aanval deeglik beplan, maar sy ongedissiplineerde mag was nie opgewasse teen sir Harry Smith se groter, goed gedissiplineerde en beter gewapende mag nie.

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius is op 27 November 1798 in die distrik Graaff-Reinet gebore. Sy ouers was Marthinus Wessel Ptretorius en Susanna Elizabeth Viljoen. Sy eerste lewensjare bring hy op sy vader se plaas Drie Koppen (tans Glen Harry) sowat 50km noordoos van Graaff-Reinet deur. Hoeveel formele onderrrig hy ontvang het, is nie bekend nie, maar die talle briewe wat daar van hom bewaar gebly het, toon dat hy, nieteenstaande ‘n byna onleesbare handskrif, sy gedagtes duidelik kon formuleer.

In November 1818 tree Pretorius op Tulbach in die huwelik met die agtienjarige Christina Petronella de Wet. Uit hierdie huwelik is tien kinders gebore – drie seuns en sewe dogters. Die oudste seun, Marthinus Wessel, sou later staatspresident van die Suid-Afrikaanse Republiek en die Oranje-Vrystaat word.

Na sy troue het Pretorius op Letskraal, sowat 10km van sy vader se woonplaas, gaan woon. Sy vermoë om leiding op die slagveld te gee, word reeds in hierdie tyd raakgesien, want gedurende die Sesde Grensoorlog (1834-1835) voer hy ‘n kommando Graaff-Reinetters teen die Xhosas aan.

Gedurende die somer van 1838-1839 onderneem Pretorius en twee van sy broers ‘n verkenningstog na Transvaal en Natal. Dit is veral Natal wat ‘n gunstige indruk op hom maak en kort na sy terugkeer in Graaff-Reinet in Januarie 1838 kondig hy dan ook aan dat sy plase te koop is. Die moord op Piet Retief se geselskap die daaropvolgende maand demp hoegenaamd nie sy vasbeslotenheid om na Natal te trek nie. In die begin van Oktober 1838 vertrek hy met sy trekgeselskap na Natal. Aan die Modderrivier naby Uysklip laat hy sy trekgeselskap agter, terwyl hy hom met sestig man vooruit haas na Natal om betyds te wees vir die kommando wat op die punt gestaan het om teen die Zoeloes uit te trek. Op 22 November 1838 ry hy Jacobus Potgieter se laer aan die Klein-Tugela binne. Die Voortrekkers se predikant, Erasmus Smit, teken op hierdie dag in sy dagboek aan: “In den na-middag arriveerde er weer een zeer waardige medereiziger, Andries Pretorius (als een wel toegeruste en gesabelde en gepistoolde dragonder) te paard in ons leger.”

Die veertigjarige Pretorius met sy sterk persoonlikheid, fors gestalte, selfversekerde houding, helder verstand en aansienlike redenaarstalent het uit die staanspoor ‘n gunstige indruk op die voortrekkers langs die Klein-Tugela gemaak. Vier dae later is hy dan ook tot hoofkommandant verkies van die kommando wat op die punt gestaan het om teen die Zoeloes uit te trek.

Hierdie kommando, wat later as die Wenkommando bekend sou staan, is voorafgegaan deur twee massamoorde – die moord op Piet Retief en sy gevolg in die Zoeloe-hoofstad Umgungundhlovu, en die moord op die Voortrekkers langs die Bloukrans- en die Boesmansrivier. Saam met Piet Retief is 60 en ongeveer 30 nie-blanke agterryers op wreedaardige wyse met kieries doogeslaan.

Aan die bloukrans- en die Boesmansrivier is 40 mans, 56 vroue, 185 kinders en meer as 200 gekleurde bediendes om die lewe gebring. In totaal dus byna 600 mense. Met die doel om hierdie moorde te wreek, het ‘n kommando onder Potgieter en Piet Uys in April 1838 teen die Zoeloes uitgetrek, haar hulle is in die slag van Italeni op die vlug gedryf. Die voortrekkers was egter vasbeslote om die moorde nie ongestraf te laat nie. Daar is reëlings getref vir ‘n verdere kommando en dit was met hierdie kommando dat Pretorius aan die einde van November 1838 teen die Zoeloes uitgetrek het. Pretorius se kommando het die Tugela net bokant die aansluiting van die Klein-Tugela oorgesteek en oor die teenswoordige Ladysmith opgeruk na Zoeloeland. Die kommando het bestaan uit 470 blanke mans en ‘n onbekende aantal swartes en Kleurlinge. Anders as Potgieter en Uys se kommando wat die Zoeloes te perd aangedurf het, neem Pretorius 57 waens en een oskar saam.

By die teenswoordige Danskraal ten noorde van Ladysmith het Sarel Cilliers op aandrang van Pretorius vir die eerse keer in die openbaar die gedagte geopper dat die kommando as ‘n geheel ‘n gelofte aan God moet aflê. Die gedagte het byval gevind en op Sondag 9 Desember 1838 het Sarel Cilliers dan ook aan die Wasbankrivier namens die aanwesiges ‘n gelofte aan God afgelê. In ‘n gebed het hy belowe dat as God hulle in die komende botsing die oorwinning sou skenk, hulle ‘n kerk sou bou en dat hulle, sowel as hul nageslag, altyd die dag waarop die oorwinning behaal is, altyd tot eer van God sou vier. In die daaropvolgende dae is die gelofte by elke aandgodsdiens herhaal.

Op weg na Zoeloeland het Pretorius getoon dat hy ‘n wakker en versigtige aanvoerder was wat hom nie deur die vyand wou laat verras nie. Hy het elke aand die waens in ‘n kring laat trek, die perde en trekosse binne die laer laat bring en nagwagte uitgesit. Die laer is in die oggend eers opgebreek nadat die omgewing in alle rigtings verken is. Wanneer die waens begin beweeg het, was dit meestal twee-twee tot vier-vier langs mekaar sodat daar in geval van nood haastig laer getrek kan word. Naas Pretorius se voorsorgmaatreëls teen enige verrassing, was een van die vernaamste kenmerke van sy leierskap die nadruk wat hy gelê het op die geestelike voorbereiding van sy manne. Die reeds vermelde gelofte wat hy laat aflê het, was een faset daavan. Verder het hy hulle voortdurend aangespoor tot eengesindheid, erns en gehoorsaamheid. Op Saterdag 15 Desember 1838 het die kommando by ‘n rivier gekom wat die Zoeloes die Ncome genoem het, maar wat vandag as Bloedriver bekend staan. Hier het Pretorius halt geroep om, soos ook die voorafgaande dae, die waens in die vorm van ‘n laer te trek. Berigte wat hy in die loop van die dag van sy verkenners ontvang het, het hom laat besef dat die Zoeloe leër hulle nou enige dag kon aanval, en daarom het hy die laerplek versigtig gekies.

 

Laer van Slag Van Bloedrivier

Hy het die laer teenaan ‘n diep sloot laat trek sodat enige aanval uit die suide deur die sloot belemmer sou word. Sowat 300 meter na die oostekant was die rivier, wat op dié plek ‘n lang seekoeigat gevorm het. Die rede waarom hy die laer nie nader aan die rivier laat rek het nie, was blykbaar dat die sloot vlakker geword het in die rigting van die rivier. Die waens was reeds, of in elk geval getrek toe ‘n boodskapper by Pretorius aankom met die nuus dat Hans de Lange die Zoeloeleër ongeveer twee uur te perd (20km) van die laer waargeneem het. Pretorius het die laer sonder versuim laat versterk met veghekke wat tussen die wawiele aangebring is. Hierdie veghekke, wat in die laer aan die Klein-Tugela gemaak is, moes die vyand verhinder om onder die waens deur te kruip.

Met 220 man het Pretorius daarop uitgery in die rigting waar Hans de Lange die Zoeloe leër opgemerk het. Toe hy die Zoeloes in die gesig kry, was dit reeds laat die middag. Hulle was, soos hy dit enkele dae dae later in ‘n brief gestel het, op “een zeer gelyken berg” saamgetrek. Hy het onmiddelik besef dat dit n groot waagstuk sou wees om die Zoeloes in die middag in so ‘n bergagtige omgewing aan te val. Hy het dan ook Sarel Cilliers se voorstel, dat hulle die Zoeloes sonder versuim moes aanval, van die hand gewys en met sy manne na die laer teruggekeer. Dit het wel beteken dat hy die inisiatief aan die vyand afstaan, maar die voordele van ‘n gelyk slagveld, ‘n laer wat beskutting bied en ‘n sterker mag het na sy mening swaarder geweeg. Dit was, soos die volgende dag sou blyk, ‘n wyse besluit. Pretorius het besef dat die Zoeloes nog dieselfde nag, of vroeg die volgende ogend, tot die aanval kon oorgaan. Hy het dan ook sonder versuim die nodige voorbereidings vir so ‘n moontlikheid getref. Soos die voorafgaande aande het hy die trekosse en perde, wat saam meer as ‘n duisend stuks getel het, binne die laer laat bring. Hierdie besondere aand het hy ook by die waens sweepstokke met lanterns laat aanbring sodat die Zoeloes nie in die donker ongesiens tot by die waens kon kom nie en sodat die manne kon sien om hul gewere te laai.

Twee uur voor dagbreek op Sondagoggend, 16 Desember 1838, het Pretorius sy manne laat wek. Die mis wat gedurende die nag toegesak het, het nog oor die laer gehang, maar toe dit in die ooste begin lig word, merk die manne tot hul vreugde dat dit opklaar. en feitlik gelyktydig gewaar die wagte dat die Zoeloes nader kom. Spoedig was die laer aan alle kante deur duisende Zoeloes omring. Volgens die betroubaarste skattings was daar ongeveer 10 000. Daarteenoor was daar in die laer slegs 470 blankses (onder wie drie engelse), 60 swart krygsmanne van Alexander Biggar en ‘n onbekende aantal swartes en Kleurlinge wat as touleiers, wadrywers en beeswagters diens gedoen het. Vir elke man binne die laer was daar dus 20 Zoeloes. Die oormag het Pretorius bekommer, maar hy het nogtans sy manne moed ingepraat. “Nu kunt gy self begrypen,” het hy ‘n week na die geveg aan Jacobus Boshof op Graaff-Reinet geskryf, “welk gezigt dit opleverde, en dat het er op aan kwam om een onverschrokken gelaat te toonen. Ik zag klaar dat wy nu doen moesten wat wy konden, ik moedigde myne manschappen overluid aan, kun verzekerde dat hoe groot die magt der Zoolas ook schynen mogt, zy tegen ons nit konden bestaan.”

 

links  Andries Pretoruis

Bo: Andries Pretorius

Die voorhoede het blykbaar sonder versuim op die laer afgestorm en die eerste skote het reeds voor sonop geklap. Uit die laer is so hewig geskiet dat geen Zoeloe daarin kon slaag om tot teenaan die waens te kom nie  – dit klink byna ongelooflik as ‘n mens in gedagte hou dat die laai van die gewere met behulp van ‘n laaistok heelwat tyd moet geneem het. Daar moet egter ook in gedagte gehou word dat elke man meer as een geweer gehad het. Die digte formasie waarin die Zoeloes gestorm het, het dit feitlik onmoontlik gemaak om mis te skit en met een lading growwe bokhael kon meer as een Zoeloe neergevel word. Daarby, met agt man by elke wa, moet die vuurlinie betreklik dig gewees het. Die Zoeloes wat nie platgeskiet is nie, was verplig om terug te val.

Na ‘n kort ruspose het die helfte van die Zoeloemag weer met totale doodsveragting op die laer afgestorm. Weer is hulle deur Pretorius se manne teruggedryf. Ook ‘n derde stormloop is met groot verliese aan Zoeloe-kant afgeslaan. Na drie mislukte stormlope was die Zoeloes teensinnig om weer tot die aanval oor te gaan. Hulle het buite bereik van die geweervuur ‘n afwagtende houding aangeneem. Pretorius het daarop vyf man, onder wie sy broer Bart, te perd uit die laer gestuur om op die Zoeloes te skiet.  Die Zoeloes het nie op hul laat wag nie en die vyf man moes terugjaag na die veiligheid van die laer. Toe die Zoeloes binne bereik van die geweervuur kom, is hulle weer met groot verliese teruggedryf. Pretorius het hierdie taktiek nog ‘n keer met dieselfde sukses behaal.

Nadat die Zoeloes altesaam sowat vyf keer tevergeefs op die laer afgestorm het, het Pretorius bevel geggee dat 150 man te perd tot die aanval moes oorgaan. Dit was die groot keerpunt in die geveg. Die 150 perderuiters het die Zoeloe leër in twee verdeel en op die vlug gedryf. Hierdie wending het ongeveer twee uur na die aanvang van die geveg gekom. Dit kon dus nie veel later as agtuur, op die uiterste nege-uur, in die oggend gewees het nie. Toe Pretorius merk dat die vyand op die vlug slaan, het hy met ‘n verdere 150 man uit die laer gejaag om hulle te agtervolg. Die Zoeloes het in alle windrigtings gevlug, maar by twee plekke, die sloot en die rivier, kon hulle nie vinnig genoeg wegkom nie en hier het die Voortrekkers ‘n ware slagting onder hulle aangerig. By die sloot is daar na die geveg 400 lyke getel. Die water in die rivier was plek-plek so rooi gekleur dat dit sedertdien as Bloedrivier bekend staan. Met 300 perderuiters het Pretorius die vlugtende Zoeloes agterna gesit en verder afgemaai. Teen ongeveer elfuur die oggend was al die manne terug in die laer. Pretorius het almal byeengeroep om God te dank vir die oorwinning.

Aan Voortrekkerkant het niemand gesneuwel nie. Slegs drie man, Pretorius, Philip Fourie en Gerrit Raath, het wonde opgedoen. Aan Zoeloekant het meer as 3000 gesneuwel. Met die moontlike uitsondering van die slag by Isandhlwana is dit die grootste getal mense wat ooit in een enkele geveg op Suid-Afrikaanse bodem geval het. En as ‘n mens die verliese weerskante vergelyk – 3000 teenoor geen – is dit soos reeds gesê, die grootste oorwinning in ons militêre geskiedenis. In geen ander veldslag het daar aan die een kant so baie en aan die ander so weinig gesneuwel nie.

Die oorwinning by Bloedrivier het Pretorius oornag beroemd gemaak. en tereg ook, want sy aandeel in die oorwinning was nie gering nie; sy keuse van die plek vir die laer, sy besluit om die Zoeloes nie in ‘n bergagtige omgewing aan te durf nie, die wyse waarop hy sy manne aangespoor het, die versigtigheid wat hy deurgaans aan die dag gelê het – dit alles dui op buitengewone krygsvernuf. Na die slag van Bloedrivier het die Voortrekkers die Republiek van Natal gestig en hulle veral in die omgewing van Pietermaritzburg en Port Natal (die huidige Durban) gevestig. Die nuwe onafhanklike republiek sou egter nie ‘n lang lewe hê nie. Vroeg in 1842 het die Voortrekkers verneem dat die Brise owerheid besluit het om die hawe van Port Natal weer te beset.

Leopold Scoltz

Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne

Rubicon Pers, Kaapstad

ISBN 0 947 00606 0


 

(Visited 60 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator: SAUK TV

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.