Sias Reinecke – Ek verlang nog na jou

Sias Reinecke is op 23 April 1940 in Johannesburg gebore en het op 5 reeds in skoolkonserte begin sing, en op 6 het hy die kitaar en mondfluitjie bemeester. Hy het sy skoolloopbaan voltooi aan Laerskool Rosettenville en aan Hoërskool Fakkel in Johannesburg, waarna hy vir twee jaar lank by die Spoorweë gewerk het. In 1962 het hy by die SAUK in Johannesburg aangesluit as assistent program bediener en is in dieselfde jaar getroud met Marie Campbell. Vyf kinders is uit die huwelik gebore.

In 1963 het hy vir Gert van Tonder ontmoet wat ook by die SAUK werksaam was en het hulle besluit om saam te begin sing as “Folk Two”. Hulle eerste optrede was in 1965 by die Primrose Amateur Talent organisasie se “Dixieland” konsert. Michael Meyer van Springbok Radio het hierna voorgestel dat hulle hulle naam verander na Groep 2 / Group 2, en kort hierna is hulle eerste solus sewe, “Die Oukraalliedjie” met “Die Padda Wou Gaan Opsit” op die B-kant, deur EMI vrygestel. Dit was ‘n groot treffer wat in 1967 #3 op die Suid-Afrikaanse Top 20 bereik het, en vir 15 weke op die treffersparade was. Hulle het hierna nog twee Top 20 treffers gehad met “Daar’s niks soos ware liefde” in 1971 en “Dink jy darem nog aan my” in 1972. Hulle eerste langspeelplaat, “Groep Twee”, is ook in 1967 vrygestel.

Die sukses van “Die Oukraalliedje” het in 1968 daartoe gelei dat hulle in Cannes, Frankryk, opgetree het saam met beroemde kunstenaars soos Tom Jones, Petula Clark, The Beatles en Udo Jurgens. Na hulle terugkeer na Suid-Afrika het hulle vir elf weke saam met Min Shaw en die Günther Kallmann Koor deur die land getoer. Sias het tydens die toer besluit om ‘n nuwe groep saam met twee lede van die Günther Kallmann Koor, die Neuenfeldt-susters, Angelika en Monika, te begin. Hulle het bekend gestaan as The Trebleaires en het een solus sewe en een langspeelplaat uitgereik voordat hulle ontbind het. Gert van Tonder het in hierdie tyd Groep Twee voorgesit saam met Eddie Trautman, maar na Eddie in 1971 in ‘n motorongeluk oorlede is, het Sias en Gert weer as Groep Twee begin optree. Hule het twee Sarie-toekennings ontvang tydens hulle bestaan.

In Oktober 1979 het Sias besluit om Groep Twee finaal te verlaat en as solo kunstenaar op te tree, hoewel hy reeds in 1972 sy eerste solo langspeelplaat, “My Geskenk aan Jou”, uitgereik het. Sy tweede langspeelplaat, “Klein Karoo”, is in 1977 vrygestel, en hy het ook ‘n plaat saam met Joanna Field, “Want Ons Is Bymekaar”, in 1979 uitgereik. In 1981 het hy die Sarie-toekenning vir Beste Afrikaanse Langspeler ontvang vir “Sproetjies”.

Hy het gereeld deur Suid-Afrika en die destydse Suidwes-Afrika getoer saam met kunstenaars soos Carike Keuzenkamp, Alida White, Joanna Field en Leonore Veenemans, en het ook heelwat liedjies gekomponeer, onder andere “Klein Karoo”, “Ek En My Kitaar” en “Wie Sal Kom Nagsê”. Sias is op 8 Oktober 1982 tydens ‘n toer by Amersfoort aan ‘n hartaanval oorlede.

Hierdie liedjie is in 1974 op solus 7 uitgereik as die B-kant van “Die Seewind Bring Heimweë”.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.