Dimpel Pretorius & Sy Springbokspan – Wanneer sien ek jou weer

Willem Francois (Boet of Dimpel) Pretorius is op 15 Desember 1937 in Johannesburg gebore en het matriek aan die Hoërskool D.F. Malan voltooi. Op 15 het hy aan ‘n talentkompetisie deelgeneem en ‘n goue medalje vir sang gewen, waarna sy pa vir hom ‘n kitaar gekoop het. Hy het homself hierna op kitaar toegespits en alle aspirasies om ‘n sanger te word laat vaar. Na skool het hy by die spoorweë as klerk begin werk, maar het na twee jaar bedank. Op daardie stadium was hy reeds ‘n baie bekwame kitaarspeler en is toe die geleentheid gebied om ‘n lid te word van sy groot held, Jurie Ferreira, se orkes. Tussen 1955 en 1958 het hy ook gereeld opgetree in die orkeste van Peet Pelser, Duffy Ravenscroft en Nico Carstens.

Boet het toe besluit om musiek te studeer, musiekteorie by Richard Cherry en orkestrasie by bekende musikante soos Jos Cleber, Noel Stockton, Mike Simpson, Art Heatlie, George Hayden en Con Lamprecht. Hy het ook elektroniese ingenieurswese studeer om hom voor te berei vir ‘n loopbaan in die musiekbedryf. In 1961 het hy as opname-ingenieur by die Trutone platemaatskappy begin werk, het twee jaar later oorgeskuif na Troubadour en was daarna ook vir vier jaar lank hoof klankingenieur by Gallo. Dis ook hier waar hy vir Albie Venter en Andre Viljoen ontmoet het, en waar Andre hom na Dimpel herdoop het weens die kuiltjies in sy wange.

In 1967 is sy eerste album “Timothy – Die Laaste Wals – 33 Dans Treffers” op die Brigadiers-etiket uitgereik, en is hy in daardie tyd as hoof opname-ingenieur by Brigadiers aangestel. Hy het ook opgetree as musiek regisseur vir rolprente soos Kaptein Caprivi, wat deur Brigadiers uitgereik is. In 1982, na sewe jaar by Brigadiers, het hy en Andre Viljoen, saam met Gé Korsten en advokaat Retief van Rooyen, die Decibel Platemaatskappy gestig. Hulle eerste album was Sias Reinecke se “Meisie” en kort hierna is Boet se album “45 treffers” (beide in 1982) uitgereik. Decibel se eerste goue plaat was Leon Schuster se “Rugby” album wat in 1985 uitgereik is.

Boet is getroud met Yvonne en drie dogters is uit die huwelik gebore. Hulle woon deesdae in Hammanskraal buite Pretoria.

Hierdie liedjie is vanaf die album “’Springbok Rugbydans Met Die Rustenburg Express” deur die Dimpel Pretorius & Sy Springbokke wat in 1975 vrygestel is. Die sangers is onmiskenbaar Groep Twee.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.