Nico Carstens is op 10 Februarie 1926 in Kaapstad gebore as Nicolaas Cornelius Carstens. Hy het sy eerste trekklavier gekry toe hy 13 jaar oud was, en het sy eerste liedjie op 17 gekomponeer. Hy het ‘n lang en roemryke loopbaan gehad as musikant, orkesleier en komponis, het sowat 1,200 liedjies in sy lewe geskryf en meer as 100 albums vrygestel. Nico is op 1 November 2016 in die ouderdom van 90 oorlede.
Tienie Coetzer is op 31 Januarie 1924 in Bethlehem in die Vrystaat gebore as Theunis Johannes Naude Coetzer, en het reeds as jong seun die mandolien en traporrel leer bespeel. Nadat sy ma oorlede is toe hy ses jaar oud was, het hy by vriende van sy pa op ‘n plaas in die Warmbad-distrik groot geword. Op skool het hy banjo in die skool orkes gespeel, en nadat hy sy skoolopleiding aan die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg voltooi het, het hy by die Voorloper Orkes aangesluit voordat in 1945 verskuif het na Hendrik Susan se orkes. Dit was saam met Hendrik Susan dat hy ontwikkel het in ‘n uitstekende kitaarspeler, en met hierdie instrument vir homself bekendheid verwerf het. Tienie was vir 8 jaar lid van hierdie orkes, wat hom een van die langs dienende lede gemaak het, en het verskeie landswye konsert toere saam met hulle onderneem en plaatopnames saam met hulle gemaak.
Tydens sy loopbaan het hy saam met van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars opgetree en opnames gemaak, onder andere Nico Carstens, Neels Steyn, Flippie van Vuuren en Duffy Davenscroft, hoewel hy ook ‘n aantal plate as ‘n solo kunstenaar uitgereik het. Hy het gereeld deelgeneem aan bekende radioprogramme soos “Bog Met Blou Maandag” en die “Koffiehuiskonsert”, en het opgetree in die rolprente “Kom Saam Vanaand” (1949), “Hier’s Ons Weer” (1950) en “Altyd In My Drome” (1952).
Tienie is op 26 Junie 1992 in die ouderdom van 68 oorlede.
Hierdie liedjie is in 1967 op die album “Emma Kolemma” vrygestel.
