Die Vier Transvalers was:
1. Faan Harris – konsertina
2. Frans Ebersohn – kitaar
3. Sewes van Rensburg – kitaar
4. Bossie Bosman (bas) tjello
Die liedjie (ook bekend as die Duitswes-wals) het te make met Suid-Afrikaanse soldate se inval in die destydse Duitswes-Afrika, kort na die begin van die 1ste Wêreldoorlog in 1914. Op daardie stadium was die gebied onder Duitse beheer en Suid-Afrika was ‘n Britse kolonie. Met die uitbreek van die 1ste Wêreldoorlog het die Britse Regering die Suid-Afrikaanse Eerste Minister, Louis Botha, gevra om Duitwes-Afrika binne te val en beheer oor die gebied te neem, en teen Julie 1915 het die Duitsers oorgegee. Na die 1ste Wêreldoorlog oorlog is dit deur die Statebond onder beheer van Suid-Afrika geplaas vir administratiewe doeleindes, en het bekend gestaan as Suidwes-Afrika, totdat dit op 21 Maart 1990 onafhanklikheid verkry het as Namibië.
Oor die liedjie se ontstaan en die betekenis van die lirieke is daar baie onsekerheid en is dit grootliks oop vir interpretasie. Randall Wicomb het per geleentheid vertel dat ‘n sekere professor baie jare gelede vir ‘n boer in Loeriesfontein, ene Klasie Louw, wat toe reeds meer as 80 jaar oud was, gevra het oor die liedjie, en hoewel hy dit geken het, kon hy net die koor-gedeelte onthou. Jare daarna het dieselfde professor met ‘n oom, genaamd Ben Spies van Heidelberg, Transvaal, gesels en hierdie oom kon weer net ‘n vers of twee onthou. Op hierdie wyse het die koortjie en versies egter bymekaar uitgekom. Ongelukkig is dit onbekend wie die professor was.
Die liedjie vertel ondermeer van die wrede kant van die oorlog, bv “Duitswes is vol van die Boertjie se bloed”, asook van sommige Suid-Afrikaners se onwilligheid om te baklei teen hul voormalige makkers wat na Duitswes-Afrika gevlug het om Britse heerskappy na die Anglo-Boereoorlog te ontsnap. Die term “platpote” was ‘n bynaam wat gegee is aan veral Britse soldate omdat die Boere hulle gereeld “flat-footed” gevang het tydens die Anglo-Boereoorlog.
Sover bepaal kan word is die liedjie oorspronklik in 1932 opgeneem met die titel “Ek Is Mama Se Kind-Wals” deur die legendariese Vier Transvalers van Faan Harris, en is ‘n paar jaar later ook deur die Baanbrekers opgeneem met die titel “Ek Is Ma Se Enigste Kind-Wals”. Rassie Erasmus & Sy Outydse Boereorkes het baie jare later sukses daarmee behaal as “Ek Is My Mamma Se Enigste Kind”. Al hierdie liedjies was instrumentale weergawes. In 1938 het David De Lange sekere van die oorspronklike lirieke geneem en sy eie bygevoeg om dit na ‘n liefdes liedjie te verander. Hy het dit saam met die Welgens Suikerbossie Orkes opgeneem as die “Hannetjie Wals”. Oor die jare het baie kunstenaars die liedjie onder verskillende titels opgeneem, onder andere “Die Rooirokwals”, “Dans Met Die Rooirok”, “Duitswes-Wals”, en dis vermoedelik ook soms “Saartjie” genoem. Dis ‘n egte tradisionele volkswysie en is oor die jare opgeneem deur omtrent elke konsertinaspeler wat sy sout werd was.
Die bekendste weergawe is sekerlik Randall Wicomb se “Duitswes-Wals” wat oorspronklik in 1986 op solus sewe uitgereik is, en wat ook bekend staan as “Dans Met Die Rooi Rok”. Randall en sy vrou Koba het hulle eie lirieke bygevoeg by dié van die oorspronklike liedjie.
Hierdie liedjie is vanaf die album “Die Oorspronklike Vier Transvalers” wat in 1983 uitgereik is, maar dis dieselfde weergawe wat oorspronklik in 1932 op ‘n 78-spoed plaat uitgereik is.
