Christa Steyn – By jou voel ek veilig

Christina Maria Schutte is op 15 Junie 1958 in Krugersdorp gebore. Haar ouers was Ben en Myra Schutte, en sy het op Potchefstroom grootgeword waar haar pa ‘n predikant was. Sy het matriek aan die Potchefstroom Gimnasium voltooi waarna sy die graad B. Mus. aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys voltooi het. Sy was ‘n lid van die Alabama Studentegeselskap op universiteit, en het haar man, Douw Steyn, wat ook lid van die koor was, daar ontmoet. Hulle is in 1979 getroud en twee kinders, Douw en Madeleen, is uit die huwelik gebore.

Christa het in 1980 begin liedjies skryf en het in 1982 en in 1984 die komposisie-afdeling van die ATKV se Crescendo-kompetisie gewen. Haar eerste langspeelplaat, “Aan Die Einde Van Die Reënboog”, in 1986 vrygestel met vier van die liedjies wat haar eie komposisies was. In dieselfde jaar is sy versoek om saam met Jannie du Toit ‘n program aan te bied vir die 100-jarige bestaan van Johannesburg, en so het die bekende “Blik En Snaar” ontstaan. Dit vertel die verhaal van Afrikaanse musiek op ‘n vermaaklike manier en was baie gewild, soveel so dat hulle deur Suid-Afrika, asook deur Europa, getoer het met die produksie en dit in die vroeë 1990s op televisie aangebied het.

Christa het ook saam met Bles Bridges die land vol getoer en hulle het selfs in die Nico Malan-teater in Kaapstad saam met ‘n simfonieorkes opgetree. Sy het in hierdie tyd ook betrokke geraak by die ATKV se werkswinkels vir liedjieskrywers en was tot en met 2000 aktief hierby betrokke. In 1987 het sy haar tweede langspeelplaat, “Christa”, vrygestel met 8 van die 12 liedjies wat sy self geskryf het, en die jaar daarna het sy weer geleentheid gekry om saam met Jannie du Toit te werk toe sy as musiek regisseur aangestel is vir TRUK se produksie van “Kerslig Vers En Melodie”. Oor die jare het Christa saam met baie van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars gewerk en opgetree, onder andere Laurika Rauch, Anneli van Rooyen, Jan de Wet, Karin Hougaard en Lucas Maree. In 1990 het sy haar derde langspeelplaat, “Spirit Of Ecstasy”, uitgereik en het in die jare daarna vele albums op CD vrygestel. Sy het ook saam met Jannie du Toit ‘n groot aantal produksies op die planke gebring en het by al die vernaamste kunste feeste opgetree, insluitend KKNK en Aardklop.

Christa is in 2011 met bors- en lewer kanker gediagnoseer, en is op 11 Junie 2012, slegs 4 dae voor haar 54ste verjaardag oorlede.

Hierdie liedjie is in 1987 op die album “Christa” vrygestel.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.