Francois & Elizabeth Fourie – Wil jy dans, Carina?

Francois Fourie is op 3 November 1955 in Pretoria gebore en het aan die Hoërskool Nylstroom matrikuleer, terwyl Elizabeth Holtzhausen op 17 November 1956 in Krugersdorp gebore is en aan die Hoërskool Monument haar skoolopleiding voltooi het. Hulle het ontmoet terwyl hulle beide onderwys aan die Universiteit van Pretoria studeer het en is in 1979 getroud. Hulle het hulle onderwysloopbane op Potgietersrus begin, maar Francois het kort hierna die versekerings wêreld betree en ‘n suksesvolle makelaar geword. Soos hy bevorder is, het hulle dikwels verhuis en het op ‘n stadium ook in Kroonstad gewoon.

Buiten vir skoolhou het Elizabeth haar besig gehou met musiek en het haar eerste solo-album, Branders, in 1983 uitgereik. Nadat hulle na Johannesburg verhuis het, het Francois en Elizabeth in 1990 die langspeelplaat Wil jy dans, Carina? uitgereik en het groot sukses gehad met veral die titel liedjie. Francois en Elizabeth sing omdat dit vir hulle lekker is, en beskou hulle musiek loopbaan nie as ‘n voltydse werk nie, alhoewel die optredes en toere hulle baie besig gehou het. Hulle sing ook in verskillende genres – ligte musiek, geestelike musiek en kinderliedjies – en tree sodoende gereeld op by skole en opvoedkundige instansies, kerke en geestelike geleenthede, asook by ligte musiek konsertaanbiedings.

Die jare 2000-2020 was ‘n besondere groei tydperk, met die uitreiking van verskeie albums en bladmusiek deur hulle eie onafhanklike musiek maatskappy, E F MUSIEK. Elizabeth het haar gevestig as ‘n kranige skrywer van kinderliedjies en het verskeie kinder-albums uitgereik, terwyl die Fouries ook geestelike albums, onder andere Die Hemel het ‘n nommer (2003), Hemeldans (2015) en Somerkersfees (2018) uitgereik het. Hulle lied Daarom, gebaseer op Ps 16, is ook ingesluit in die FAK Sangbundel.

Op die terrein van ligte musiek is Francois en Elizabeth besonder gewild, en het hulle reeds in Nederland, Australië, Namibië en Zimbabwe opgetree. In 2005 het hulle ook ‘n boot toer op die Ryn in Duitsland meegemaak en het hulle ‘n spesiale toekenning van die Nederlandse Vereniging vir die bevordering van Afrikaans ontvang. Ter plaatse het Francois en Elizabeth al verskyn in produksies soos StoepStories, op die ATKV verhoog, asook by al die vernaamste kunste feeste, insluitend KKNK en Aardklop. Hulle optredes op televisie sluit in Noot vir Noot, Kwela, DKNT, Roer, JukeBox, en Maak ‘n Las.

In 2010 het hulle na die Vaal de Gráce gholf landgoed net buite Parys in die Vrystaat verhuis waar Francois werksaam is as ‘n eiendoms makelaar en Elizabeth die musiek kantoor, besprekings en die skryf van nuwe musiek hanteer. Hulle is ook lief vir die rustigheid van die natuur en geniet dit om stap, fiets te ry, gholf te speel en vis te vang. Hulle tree ook steeds graag op en beplan om dit vol te hou terwyl hulle goeie gesondheid geniet en vir solank as mense hulle bly uitnooi.

Hulle kan gekontak word deur hulle webwerf, www.francois-en-elizabeth.co.za.

Hierdie liedjie is vanaf die album “Wil Jy Dans, Carina?” wat in 1990 uitgereik is.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.