Chris du Toit – Ek wandel saam met U (Just a closer walk with Thee)

Christoffel Nicolaas du Toit is op 13 Julie 1929 in Bloemfontein gebore, maar sy ouers het na Johannesburg verhuis toe hy 3 jaar oud was. Hy het waarskynlik sy musiektalent van sy moeder geërf en het toevallig daarvan bewus geword nadat hy op ‘n kitaar begin tokkel het wat deur ‘n oom, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog diens gedoen het, by die huis gelos is. Na skool het hy by die orkes van Arnout Malherbe aangesluit en het hy gereeld saam met hulle opgetree by die Moon Hotel in Johannesburg. In 1948 het hy aangesluit by die orkes van Hendrik Susan en het hy ook van sy eerste liedjies begin komponeer, onder andere die baie gewilde “Outa In Die Langpad” wat hy saam met Neels Steyn geskryf het. In die vroeë 1950s, toe Nico Carstens afgestig van Hendrik Susan het om sy eie orkes te begin, het Chris saam met hom verskuif. Chris het in hierdie tyd twee Duitse liedjies na Afrikaans vertaal as “Die Woudprinses” en “Die Ringetjie” en beide het treffers geword vir Jurie Ferreira.

Aan die einde van 1955 is hy aangestel as musiek regisseur by die Trutone Platemaatskappy en het hy baanbrekerswerk verrig deur te reël dat baie kunstenaars langspeelplate uitreik, sommige vir die eerste keer. So het, onder andere, Frans en Sannie Briel, Ronnie Theron en Louis de Lange langspeelplate op die Trutone-, Juweel- en Pêrel-etikette opgeneem. Chris het ook dikwels die kunstenaars in die ateljee op die kitaar begelei.

In die vroeë 1960s het hy die liedjie “Om En Om Die Braaivleisvuur” gekomponeer vir die rolprent “Kimberley Jim” waarin Jim Reeves die hoofrol vertolk het. Hoewel Chris meesal verwerkings vir ander kunstenaars gedoen het, het hy tog verskeie langspeelplate as ‘n solo kunstenaar uitgereik, insluitend “Chris du Toit se Goudstad” en “Die Keur Op Kitaar” in die 1960s, terwyl hy in die 1970s hom hoofsaaklik toegespits het op gewilde popmusiek treffers van die dag met langspeelplate soos “Lara’s Theme” en “A Taste Of Honey”.

In 1962 is Chris aangestel as musiek regisseur by die Teal Platemaatskappy en het hy hom beywer vir die bevordering van Afrikaanse musiek deur plaatopnames te maak met gevestigde kunstenaars soos Sam Petzer, Flippie van Vuuren en Danie Barnard, maar het hy ook nuwe talent ontdek, insluitend Nick Taylor, Hennie van Loggerenberg, Thierry King, Gene Petersen en Maureen Moore. Chris het ook sy vernuf as orkestreerder en regisseur bewys toe hy in 1963 Virginia Lee se langspeelplaat “Boerenooientjie” uitgereik het. Hy het hierna verskeie van Virginia se ander langspeelplate behartig.

Nadat hy Teal verlaat het, het Chris by die Lugmag orkes aangesluit waar hy vir verskeie jare ‘n lid was. Daarna het hy hoofsaaklik as ‘n vryskut musikant opgetree, hoewel hy in 1967/68 vir Die Nasionale Pers Boekhandel as musiek regisseur opgetree het en verskeie plate met die Pendisque-etiket uitgereik het.

Chris du Toit is op 14 April 1995, na ‘n lang siekbed, in die ouderdom van 65 oorlede.

Hierdie liedjie is vanaf die album “Die Keur Op Kitaar” wat in 1963 uitgereik is.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.