Chris Blignaut – Ou ryperd

Christian August Blignaut is op 27 April 1897 in Johannesburg gebore en het ook daar grootgeword en skool gegaan. Sy ma was hoogs musikaal aangelê en het vir Chris van kleins af gehelp met sy musiek. Op 18 het hy gereageer op ‘n advertensie van African Theatres wat na sangers gesoek het, en in 1914 het hy vir sowat 3 weke Engelse en Nederlandse liedjies tydens pouses in bioskope gesing onder die skuilnaam Harold Wise. Hy het die Engelse naam gebruik omdat die plate-agente geglo het dat ‘n Afrikaanse naam ongewild sou wees so kort na die Anglo-Boereoorlog. Chris het egter kort hierna weer sy eie naam begin gebruik.

In die vroeë 1920s het hy stemopleiding ontvang en in 1923 het hy vir die eerste keer in die openbaar in Afrikaans gesing tydens ‘n optrede by ‘n myn konsert aan die Wes-Rand, en het kort daarna eerste plek behaal in ‘n radio-talentkompetisie wat uit die ou Stuttafords-gebou in Johannesburg uitgesaai is. Sy eerste Afrikaanse snit, “Daar Oorkant Die Spruit”, het oorweldigende positiewe reaksie uitgelok, en hy het net daar en dan besluit dat sy toekoms in die Afrikaanse lied lê. Vroeg in sy loopbaan het hy vir hom ‘n klein ukelele (‘n baie klein kitaaragtige instrument) aangeskaf en het hy dit gereeld tydens opvoerings bespeel. Omdat hy ‘n groot man van bykans twee meter en 120 kilogram was, het hy na homself begin verwys as “die groot man met die klein dingetjie”.

Chris Blignaut het op 20 Maart 1930 die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar geword wat ‘n plate kontrak kon losslaan. Op 15 Mei 1930 het die Columbia maatskappy se klank toerusting in die Kaap aangekom, en het Chris van sy eerste opnames op die blou Columbia LE-etiket uitgereik. In 1933 is hy na Engeland om opnames vir die blou en rooi Columbia DE- en AE-reekse daar te maak, omdat daar besluit is dat dit te duur sou wees om die apparaat weer na Suid-Afrika te bring. Van die eerste liedjies wat hy daar saam met Engelse orkeste opgeneem was “Hannetjie Verjaar” en “Ou Ryperd”. Sy opnames was baie gewild in Suid-Afrika, soos getuig word deur die verklaring wat Columbia op 28 Maart 1931 uitgereik het dat byna 55,000 van sy plate binne die eerste drie maande na uitreiking verkoop is.

Chris het baie van sy liedjies self geskryf, ook in Engels, maar dit was veral sy vertalings van gewilde Amerikaanse “Hillbilly”-liedjies wat vir hom die treffers ingeryg het, liedjies soos “Ou Ryperd (Old Faithfull)” en “Die Trein Na Pretoria (The East Bound Train)”. In 1931 het hy die eerste sanger/akteur geword wat in ‘n Afrikaanse rolprent met ‘n klankbaan opgetree het toe hy in “Sarie Marais” gesing het. Na meer as 2 dekades in die musiekbedryf het hy in 1949 besluit om sy uittrede uit die vermaaklikheidswêreld aan te kondig, hoewel hy in 1956 teruggekeer het en daarna ‘n groot aantal albums uitgereik het. In totaal het Chris meer as honderd 78-spoed plate, 20 langspeelplate en sowat 15 solus-sewes tydens sy loopbaan uitgereik. Ten spyte van sy sukses as sanger het hy nooit sy vaste betrekking by die Southern Life versekeringsmaatskappy gelos nie en het hy eers op 60 afgetree.

Chris Blignaut en sy vrou Maud het vir jare in Randburg gewoon, maar het in 1969 na Vereeniging verhuis. Hy is op 21 Julie 1974 in die ouderdom van 77 in die Vereeniging hospitaal oorlede nadat hy vir byna drie maande siek was.

Hoewel hierdie liedjie in 1993 op die album “Oom Chris Blignaut” uitgereik is, is dit die oorspronklike weergawe wat in 1933 in Engeland opgeneem is.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.