Dinsdag 11 Oktober

nuus radioSAUK Radio Nuus berig vir  Dinsdag, 11 Oktober 2016.

Goeiedag en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

1)Die meeste universiteite het gehoop om hulle deure weer te kan heropen op 10 Oktober, in die hoop dat die gemoedere van die studente gekalmeer het en klasse en eksamens kan voortgaan. Dit was ‘n ydele hoop. Die meeste universiteite het weer in chaos uitgebars. By die Vrystaat Univeriteit is agt beweerde studente in hegtenis geneem.

Die ergste rampokkery het egter by Wits voorgekom, waar die studente die strate van Johannesburg  ingevaar toe hul verhoed is om die kampus te betree om ‘n vergadering te hou.

Polisie en sekuriteitspersoneel het met skokgranate, ‘n waterkanon en rubberkoeëls probeer om die studente uitmekaar te jaag, maar die studente het net hergroepeer in Berthastraat en Jan Smutsrylaan en daar begin het met klipgooiery. Hulle het ook ‘n bus probeer omgooi, en uiteindelik die bus aan die brand gesteek. Dit was nie ‘n bus van die universiteit nie.

Op die kampus is van die rekenaar laboratoriums deur amokmakers oorstroom maar die skade kon nog nie bepaal word nie.

In tussen het die waarnemende polisiekommissaris sy geloofwaardigheid op die spel geplaas deur te beweer dat die SAPD die toestand op kampusse onder beheer het – iets wat ooglopend nie die geval is nie.

Daar is nou ook erken dat die rampokkers waarskynlik nie almal studente is nie.

2)Talle motoriste wat woonwaens sleep, kan moontlik ‘n onaangename verrassing kry sou daar ‘n eis ontstaan by versekeraars.

Mnr George Davis van  RBS (Risk Benefit Solutions), wys daarop dat sodra ‘n karavaan of enigiets anders bo 750 kg gesleep word, ‘n kode EB lisensie daarvoor benodig word.  ‘n Gewone kode B lisensie, wat die mees algemene bestuurderslisensie is, laat motoriste slegs toe om sleepwaens ligter as 750 kg te sleep. Versekeraars het bestuurders daarop gewys dat hul ‘n probleem kan kry sou hul ‘n eis indien in geval van ‘n ongeluk waarin  ‘n woonwa betrokke was en hul nie die regte bestuurderslisensie besit nie.

3)In ‘n waarskuwing aan staatsbeheerde entiteite deur die ANC het dit aan die lig gekom dat die tesourie bykans R467 biljoen aan dié entiteite gegee het die afgelope 15 jaar.

SAL, die Poskantoor, Prasa en die SABC is van die grootste ontvangers van hierdie geld. Nou wil die ANC die rade aanspreek oor hul spandabelrigheid en wanbestuur.

Die aanstel van uitvoerende lede en die daaropvolgende afdanking van die lede met gepaardgaande goue handdrukke, is van die natuurlike van die redes hoekom dit so ellendig gaan met die staatsbeheerde instansies.

SAL, die Poskantoor, Spoornet, Krygkor en ander was voor die oorgawe in 1994 winsgewende instansies wat boonop ‘n puik ‘n diens gelewer het aan die publiek.

Intussen het politieke aanstellings en korrupsie gemaak dat dienslewering nie meer bestaan in baie van die sektore nie, en dat die bestuurslui net na hulleself kyk.

In al die genoemde gevalle word die rade en hoof uitvoerende beamptes deur die regering aangestel. Uiteindelik is hulle mislukkings ook deel van die regering se groeiende pakket van mislukkings.

4)Die hoofuitvoerende beampte van SA Poskantoor Mark Barnes het die moeilike taak om ‘n bankrot staatsentiteit weer op te bou.

Volgens Barnes het 10 jaar se swak leierskap en buitengewone vermorsing van geld gelei tot die toestand waarin die poskantoor tans verkeer.

In ‘n buitengewone stap het Barnes in ‘n onderhoud gesê dat hul nie van konsultante  gebruik gaan maak nie maar die probleme van binne af gaan aanspreek.

Hierdie aanmerking kom in die lig van miljoene rande wat spandeer word op konsultante wat sogenaamde kennis het om entiteite te help met herstrukturering en kostebesparing, maar dit beteken dikwels nie veel en lewer geen bevredigende resultate nie.

Waarnemers meen dat die regruk van die poskantoor binne ‘n paar maande nie moontlik is nie, en net die tyd sal leer of Barnes die nodige ondersteuning van bestuur en vanaf regeringskant sal ontvang om die entiteit te red.

5)In ses maande se tyd het die Gautengse polisie 66 polisiebeamptes afgedank.

Dit is blykbaar in ‘n poging om korrupsie uit te roei in die SAPD.

Van die betrokke beamptes, was 42 na bewering betrokke by korrupsie, roof, diefstal, poging tot moord, huisbraak, besit van gesteelde voertuie, kaping en ontvoering.  Ander misdrywe was onder meer om hulp aan gevangenis om te ontsnap en selfs verkragting.

Verdere oortredings was dissiplinêre sake, soos afwesigheid van diens en insubordinasie.

Kenners reken egter dat hierdie dalk net die punt van die ysberg kan wees, en dit boesem geen vertroue in by die publiek wat juis deur die polisie beskerm moet word teen sodanige misdrywe.

6)Tientalle polisiebeamptes van die polisie se honde-eenheid partolleer die hoofkampus van die Universiteit van die Witwatersrand in Braamfontein. Die studenteraad het gister onderneem dat hulle vandag met betogings sal voortgaan. Hulle het studente gevra om van vroegoggend af saam te trek. Hulle is vasbeslote om die universiteit te sluit ondanks die bestuur se besluit dat die akademiese jaar vandag sal voortgaan. Polisiebeamptes en veiligheidswagte is by al die ingange na die kampus ontplooi. Tydens gister se betogings is studente en polisiebeamptes beseer en ‘n bus is aan die brand gesteek.

7)’n Ekonoom waarsku dat die gewelddadige betogings onder die Fees MustFall-veldtog verrykende gevolge vir die land se ekonomie kan hê indien die 2016-akademiese jaar nie afgehandel word nie. Die hoof van navorsing by Nedbank, Mohammed Nala, sê só ‘n scenario sal die werkloosheidsyfer verder opstoot en druk plaas op regeringsinstellings, veral hospitale waar jong dokters volgende jaar moet inval. Nala sê die gevolge sal egtert wyer strek as die akademiese omgewing en veral dienslewering sal geraal word. Hy sê die partye moet dringend met pragmatiese onderhandelings begin en wegbeweeg van idealistiese uitsprake. Nala meen sowel die regering, universiteite en studente sal toegewings moet maak om ‘n oplossing te bereik.

8)Die Universiteit van Pretoria sal môre nog gesluit wees nadat studente gister fakulteitsvergaderings ontwrig het. Lesings was veronderstel om gister voort te gaan. Die universiteit sê lesings sal daarna hervat word.

9)Die ACDP het hom skerp uitgelaat oor die regering se hantering van die voortslepende studentebetogings. Die party sê die regering het toegelaat dat wettige betogings in anargie ontaard. Volgens die ACDP het misdadigers met verdraaide politieke agendas deel van die betogings geword. Die partyleier, Kenneth Meshoe sê dit is onaanvaarbaar dat die president buite die land is terwyl kampusse brand. Hy sê sy party steun die doelwit van gratis onderwys en studente se reg om te betoog, maar het gevra dat die akademiese jaar gered word.

10)Die uittredende Openbare Beskermer, Thuli Madonsela het president Jacob Zuma se eis verwerp dat sy die ondersoek oor beweerde staatskaping moet vertraag. Sy het die president opnuut gevra om vrae te beantwoord wat sy aan hom gestel het. Madonsela het ‘n vroeëre verklaring van die presidensie verwerp en sê hy was maande gelede al ingelig oor die vrae wat hy moet beantwoord. Die ondersoek volg nadat die adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas, bevestig het dat die Gupta-familie hom die pos van Minister van Finansies aangebied het. Die kantoor van die Openbare Beskermer sê die president het sedert 22 Maart vanjaar geleentheid gehad om sy bewyse in te dien. Die presidensie het gister geëis dat die Openbare Beskermer vandag ‘n onderneming gee dat sy geen bevindings sal maak voordat Zuma nie insae gehad het in getuienis waarin hy betrek word nie. Die president eis ook om die getuies saam met sy regsverteenwoordiger te ondervra.

11)Die 19-jarige Cameron Wilson sal na verwagting vandag in die Bishop Lavis landdroshof aansoek doen vir borgtog in verband met die grusame moord op Lekita Moore verlede maand. Wilson staan tereg op aanklagte van moord en lykskending. Moore se liggaam is met verskeie steekwonde in ‘n veld langs Tunaweg in Valhallapark gevind. Dele van haar liggaam was afgesny. Die 20-jarige Xavier Bester is ‘n dag later naby die plek waar Moore se lyk gevind is, doodgeskiet. Volgens berigte het Bester en Moore mekaar geken. Die polisie ondersoek nog die moontlikheid dat die twee voorvalle verband hou.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad –Gedeeltelik Bewolk–  met ‘n min 27 max van 37

Nelspruit –  Mooi Weer– met ‘n  min van 17 en ‘n max van 38

Pretoria  – Mooi Weer – met ‘n  min van 16 en max van 34

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 15 en max van 32

Vereeniging –Mooi Weer – ‘n  min 18 en max van 33

Bloemfontein –Bewolk – met min 13 ‘n max van 31

Durban – Gedeeltelik Bewolk– met ‘n min van 17 en max van 30

Rustenburg – Mooi Weer – met ‘n min 17 en max van 34

Oos Londen –Mooi Weer– met ‘n min 17 en max van 25

Kaapstad –Gedeeltelik Bewolk Met Ligte Reen–met  min van 11 en max van 18

Upington – Mooi Weer- met ‘n min van 12 en max van 30

PE- Mooi Weer – met ‘n min 13 en max van 22

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig


 

(Visited 26 times, 1 visits today)

Post A Comment For The Creator: SAUK TV

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.