Woensdag 12 Oktober

nuus radioSAUK Radio Nuus berig vir  Woensdag, 12 Oktober 2016.

Goeiedag en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

1)In haar outobiografie wat sopas die lig gesien het vertel voormalige DA-leier en tans Wes-Kaapse premier, Helen Zille, van die “bloedige” binnegevegte in die party rondom leierskapsposisies.

Die hoofrolspeler is die voormalige parlementêre leier van die DA, Lindiwe Mazibuko, wat deur Zille ondersteun is teen Athol Trollip as parlementêre leier.

Sy het egter na die verkiesing agtergekom dat Mazibuko haar posisie as premier in die oog het, waarop hewige interne struwelinge gevolg het. Die gevegte het uiteindelik gelei tot Mazibuko se uittog uit die DA waarna sy na ‘n oorsese universiteit vertrek het.

Politieke ontleders wys daarop dat Zille self uit ‘n revolusionêre agtergrond kom, en enige revolusie het dikwels die neiging om sy leiers dieselfde pad te laat loop as wat hulle ander laat loop het. Zille het berugtheid verwerp as lid van die Black Sash, terwyl sy as verlinkse joernalis ook niemand gespaar het nie. Nou het sy self die slagoffer daarvan geword.

Wyle Helen Suzman het ‘n soortgelyke politieke loopbaan gehad, maar moes tog uiteindelik erken dat dit nie was wat sy vir SA gesien het nie.

2)Die  Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris in Singapoer, Hazel Francis, se sekerheidsklaring is teruggetrek nadat daar gevind is dat sy as veroordeelde dwelmsmokkelaar tronkstraf in die VSA uitgedien het. Tydens haar diens as lugwaardin vir SAL in 1999, is sy skuldig bevind daaraan dat sy kokaïne ingesmokkel het in die VSA.

Nou het die staat se sekuriteitsagentskap haar sekerheidsklaring teruggetrek moes sy terugkeer na Suid-Afrika waar sy ‘n interne ondersoek sal moet ondergaan.

Die staatshoof, Jacob Zuma, wat haar aangestel het, is glo “baie ontsteld” oor die nuus van die kommissaris se misdaad verlede. Van lugwaardin na tronkvoël na hoë kommissaris laat politieke waarnemers dink aan die parallel met wyle Nelson Mandela.

Francis het twee jaar tronkstraf uitgedien in die VSA nadat sy in 1999 in hegtenis geneem is vir die besit van kokaïne.  Sy is ook reeds in 1995 by OR Tambo lughawe in hegtenis geneem vir die besit van 9 kg kokaïne wat uit Thailand gebring is.

Sy en ‘n mede SAL-personeellid is in 1997 onskuldig bevind nadat ‘n sleutelgetuie geweier het om teen hul te getuig. Sy is die dogter van Michael Ngubeni wat as lid van Umkhonto we Sizwe tronkstraf uitgedien het op Robbeneiland.

Met die rekord wat sy het, is dit hoogs twyfelagtig dat Zuma nie daarvan geweet het nie, en word die staat se agentskap wat sekureitesklarings doen, se bevoegdheid tot daardie taak ook ernstig onder verdenking geplaas.

3)Daar is nou waarskynlik geen keer meer aan dat Suid-Afrika se ekonomie op die wêreld se rommelhoop gaan beland nie.

Dit is die donker prentjie wat ekonome soos Dawie Roodt skets nadat dit bekend geword het dat die minister van finansies, Pravin Gordhan, gedagvaar is om op 2 November vanjaar in die hof in Pretoria te verskyn op aanklagte van bedrog, terwyl die Openbare Vervolgingsgesag laat deurskemer het dat hy ook nog steeds vervolg kan word vir die sogenaamde spioenasie-ondersoek.

Kort nadat die nuus van die klagtes teen Gordhan bekend geword het, het die rand met tussen 3 en 4 persent teen die vernaamste geldeenhede versak.

Later die maand is Gordhan veronderstel om sy mediumtermyn begroting in die parlement te lewer, maar daar word nou druk bespiegel dat Zuma in hierdie wending ‘n geleentheid sien om sy kabinet te herskommel en Gordhan uit te laat. Zuma kan immers nie iemand in sy kabinet hê wat aangekla staan te word vir bedrog, en hiermee kan hy van een van sy moeilikste teenstanders ontslae raak.

Gordhan verskyn egter nie alleen nie. Saam met hom sal die voormalige waarnemende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Ivan Pillay en die voormalige kommissaris, Oupa Magashula, saam met Gordhan in die beskuldigdebank verskyn.

Die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het baie belangrik gevoel tydens die mediakonferensie waarin die aankondiging gemaak is. “Die dae van disrespek teenoor die NVG is verby. Die dae van nie-verantwoordbaarheid deur senior regeringsbeamptes, is oor”, het hy gesê en sy bes gedoen om joernaliste te oortuig dat daar geen politieke druk op hom was om Gordhan en die ander te vervolg nie.

4) Die Ierse regering het belastingtoegewings vir die toerisme- en landbousektore aangekondig in ‘n poging om die uitwerking van die skerp verswakking van die Britse pond en die verwagte impak van Brexit op sy ekonomie teen te werk.

Die Minister van Finansies, Michael Noonan, sê die uiteindelike uitwerking van die Britse referendum op 23 Junie is onseker maar dit hou groter risiko vir die Ierse ekonomie in.

Ierland wil bestaande ekonomiese bande met Brittanje en reëlings met Noord-Ierland sover moontlik behou om ekonomiese ontwrigting te vermy. Die land het verlede week sy verwagte groeikoers vir 2017 afwaarts aangepas tot 3,5 persent in reaksie op die Britse besluit en beplan om as teenmaatreël sy begrotingstekort teen 2018 in ‘n oorskot te omskep. Noonan sê die land moet vir altyd wegkom van die skerp op- en afwaartse siklusse wat in die verlede soveel leed meegebring het.

5)Die veteraan van die ANC en die stryd teen apartheid, Cheryl Carolus, het haar uitgespreek teen die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, aan te kla en sê dit is ‘n heksejag. Die ANC het Gordhan vroeër aangeraai om met die wetsagentskappe saam te werk sodat sy onskuld in die hof bewys kan word. Carolus, wat vroeër ‘n lid van die ANC se Uitvoerende Komitee was, sê die besluit van die NVG is absurd.

6)Die ANC se parlementêre koukus het ‘n beroep gedoen dat die akademiese jaar gered moet word. Dit volg na die voortstetting van protesoptrede by verskeie universiteite en die ontwrigting van klasse. Die ANC se hoofsweep, Jackson Mthembu, het in ‘n nuuskonferensie ná die koukus se beraad die afgelope naweek, ‘n beroep op die portefeuljekomitee vir hoër onderwys gedoen om ‘n beraad tussen die rolspelers te reël om die krisis te probeer oplos. Hy sê almal moet saamwerk om ‘n volhoubare oplossing vir gratis hoër onderwys te vind.

7)Gauteng se LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Nandi Mayathula-Khoza het onderneem om die stryd teen mensehandel op te skerp. Sy het in Benoni aan die Oos-Rand by ‘n seminaar oor mensehandel gepraat. Die Valke het by die seminaar aangekondig dat 17 verdagtes in verband met mensehandel in hegtenis geneem en die afgelope nege maande bykans 60 mense in Gauteng gered is. ‘n Woordvoer van die LUR, Mbangwa Xaba sê Gauteng is bekend as ‘n bestemming vir mensehandel, ‘n plek waar vrywilligers gevind word en van waar hulle versprei word. Volgens hom is ‘n span van die verskillende departemente saamgestel om mensehandel te bekamp.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad –Gedeeltelik Bewolk–  met ‘n min 27 max van 36

Nelspruit –  Mooi Weer– met ‘n  min van 15 en ‘n max van 37

Pretoria  – Mooi Weer – met ‘n  min van 15 en max van 37

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 14 en max van 33

Vereeniging –Mooi Weer – ‘n  min 14 en max van 34

Bloemfontein –Bewolk – met min 10 ‘n max van 26

Durban – Gedeeltelik Bewolk Met Ligte Reen– met ‘n min van 17 en max van 21

Rustenburg – Mooi Weer – met ‘n min 15 en max van 36

Oos Londen –Mooi Weer– met ‘n min 13 en max van 20

Kaapstad –Mooi Weer–met  min van 10 en max van 18

Upington – Mooi Weer- met ‘n min van 13 en max van 28

PE- Mooi Weer – met ‘n min 13 en max van 18

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig


 

(Visited 27 times, 1 visits today)

Post A Comment For The Creator: SAUK TV

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.