Maandag 10 Oktober

nuus radioSAUK Radio Nuus berig vir  Maandag, 10 Oktober 2016.

Goeiedag en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

1)Die vrou wat president Jacob Zuma in 2005 daarvan beskuldig het dat hy haar verkrag het, is dood op die ouderdom van een en veertig. Fezikila Kuzwayo, beter bekend as Khwezi, is in Johannesburg oorlede. Sy het Zuma in Desember 2005 van verkragting beskuldig, maar hy is ses maande later vrygespreek. Khwezi en haar ma het in 2007 na Nederland verhuis, maar het egter in 2012 na KwaZulu-Natal teruggekeer.

2)’n Buitelandse burger is deur die polisie se honde-eenheid in hegtenis geneem nadat hy in Umlazi, suid van Durban betrap is met vervalste geld ter waarde van een komma twee miljoen rand. ‘n Polisiewoordvoerder, Thembeka Mbhele, sê die beamptes was besig om hulle normale pligte uit te voer toe hulle die man vasgetrek het. Mbhele sê ‘n kundige is na die toneel gestuur en het bevestig dat die geld vervals is. Sy sê die verdagte sal binnekort in die hof op aanklagte van bedrog verskyn.

3)Talle universiteite sal vandag heropen, ondanks gewelddadige betogings verlede week. Studente betoog landwyd om gratis tersiêre onderrig en die dekolonialisering van die kurrikulum te eis. Die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg sê die akademiese program sal vandag hervat word. Studente sal toegelaat word om vreedsaam te betoog op bepaalde plekke wat hiervoor geoormerk is. Ander universiteite wat vandag heropen, sluit in die Tshwane Universiteit van Tegnologie, die Universiteit van Venda, die Noordwes-Universiteit, die Universiteit van die Vrystaat en die Sol Plaatjie-Universiteit. Die Universiteit van Kaapstad sal tot Dinsdag gesluit bly. Personeel en studente van die Universiteit van Pretoria sal op hul beurt vandag vergader in ‘n poging om die dooie punt op te los.

4)Die Wes-Kaapse Departement van Onderwys het skoliere aangeraai om die meeste van die laaste skoolkwartaal te maak. Meer as ‘n miljoen leerders van oor die hele provinsie begin vandag met die laaste skoolkwartaal van die jaar. ‘n Woordvoerder van die departement, Jessica Shelver, sê hulle gaan skole bystaan om inskrywings vir volgende jaar te hanteer. Shelver sê handboeke wat vir 2017 nog uitstaande is, sal afgelewer word.

5)Onderstepoort Biologiese Produkte se woordvoerders het in die parlement belowe dat die voorsiening van entstof vir dieregesondheid gaan verbeter. Die slegte nuus is egter dat die voorsiening eers in 2017 gaan verbeter terwyl boere op die oomblik sukkel om hulle diere aan die lewe te hou weens die tekort aan entstof en die droogtetoestande in groot dele van die land.

Onderstepoort het die afgelope maande onder skerp kritiek deurgeloop weens hul onvermoë om in die vraag na entstof te voorsien. Boere het reeds vee verloor weens die tekort aan entstof, en die belofte wat nou skriftelik gegee is dat die voorsiening gaan verbeter, maar wel eers volgende jaar, stem veeboere tot groot kommer.

Boere sê die belofte om beter te doen, is nog nie ’n bewys dat dit wel gaan gebeur nie, en die voorsiening kan dalk eers in November 2017 verbeter, aangesien die datum nie bekend is nie. Ernstige siektes soos knopvelsiekte, brucellose en bloutong het baie boere ernstige skade veroorsaak, wat veroorsaak is deur Onderstepoort se onvermoë om in die vraag te voorsien.

Onderstepoort is glo besig met opgradering van die  toerusting wat die voorsiening van entstof sal verbeter. Boere twyfel egter nog oor die beloftes en meen die tekorte duur al meer as twee jaar, en toe is daar ook gesê die toerusting gaan opgradeer word.

6)Die ANC in die parlement sê briewe is aan die oorblywende lede van die SABC-raad geskryf, waarin hulle versoek word om te bedank. Dit volg op die sitting van die portefeuljekomitee oor kommunikasie verlede week, waartydens politieke partye hul kommer uitgespreek het oor die situasie by die SABC. Twee raadslede het reeds bedank wat beteken die raad het nou te min lede om ‘n kworum te vorm.

7)’n 43-jarige vrou is dood nadat ‘n tier in die Laohu-vallei-natuurreservaat in Philippolis in die Vrystaat haar aangeval het. Daar word vermoed dat Vivienne McKenzie nagelaat het om die hok van die dier te sluit nadat sy die tier gevoer het. Die polisie ondersoek die saak.

8)’n Spesiale vergadering sal op 19 Oktober in Kaapstad gehou word om te probeer om Suid-Afrikaanse rugby van ondergang te red. Springbokrugby het die naweek ‘n geweldige terugslag beleef ná Nieu-Seeland die bokke Saterdag in Durban met nege drieë afgeransel het. Die Bokafrigter, Allister Coetzee, sê hy is uiters verleë oor die Springbokke se powere vertoning. Afrigters van plaaslike klubs asook lede van SA Rugby se hoëprestasiekomitee sal die indaba bywoon.

9)Suid-Afrika het in Port Elizabeth die vierde eendag- internasionale wedstryd teen Australië met ses paaltjies gewen. Kaptein Faf du Plessis het 69 lopies aangeteken. Die Proteas het reeds die reeks van vyf wedstryde beklink met nog net een wedstryd oor wat Woensdag in Kaapstad gespeel word. Kyle Abbott het vier paaltjies geneem toe Australië vir 167 uitgeboul is. Suid-Afrika het die totaal in die 35ste boulbeurt verbygesteek.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad –Bewolk–  met ‘n min 27 max van 33

Nelspruit –  Mooi Weer– met ‘n  min van 12 en ‘n max van 28

Pretoria  – Mooi Weer – met ‘n  min van 11 en max van 31

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 10 en max van 30

Vereeniging –Mooi Weer – ‘n  min 14 en max van 34

Bloemfontein –Bewolk – met min 11 ‘n max van 27

Durban – Gedeeltelik Bewolk– met ‘n min van 16 en max van 2\4

Rustenburg – Mooi Weer – met ‘n min 12 en max van 32

Oos Londen –Mooi Weer– met ‘n min 21 en max van 29

Kaapstad –Mooi Weer–met  min van 13 en max van 20

Upington – Mooi Weer- met ‘n min van 14 en max van 31

PE- Gedeeltelik Bewolk – met ‘n min 16 en max van 30

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig


 

(Visited 18 times, 1 visits today)

Post A Comment For The Creator: SAUK TV

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.