Chris le Roux – Maanlig op die Vaalrivier se walle

Christiaan Jacobus le Roux is op 1 Desember 1944 in Carnarvon in die Kaapprovinsie gebore en het ook sy skoolloopbaan daar begin. Nadat sy pa oorlede is toe hy nog baie jonk was, het die familie eers na Richmond en toe na Victoria-Wes getrek waar Chris in 1963 matriek geskryf het. Hy was altyd baie lief vir musiek en het van kleins af geweet dat hy ‘n loopbaan as musikant sou volg. Sy eerste orkes, die Flashes, is reeds op skool saam met 3 maats gestig wat mekaar leer kitaar speel het, terwyl Chris altyd as sanger opgetree het. Die Flashes het by basaars en ander funksies opgetree, en het gereeld tydens pouses in die Apollo fliek op Victoria-Wes gespeel.

Na skool is Chris na Pretoria waar hy vir die Pretoriase Stadsraad gewerk het. Hier het hy sy vrou, Dalene, ontmoet; haar ouers het in Louis Trichardt geboer. Nadat hulle getroud is, het Chris en Dalene in Tshipise gaan woon waar hy in die hotelbedryf begin werk en weer ‘n orkes, Hot Ice, op die been gebring het. Hulle het op ‘n vaste basis by die vakansieoord vermaak verskaf. In 1978 is dele van die internasionale rolprent, “Wild Geese”, in Tshipise verfilm en het Chris ‘n rol in die fliek vertolk saam met bekende sterre soos Richard Harris, Richard Burton en Roger Moore. Tydens die verfilming, wat sowat 3 maande geduur het, het hy en sy orkes vermaak aan die filmspan verskaf. Hy het ook vir Ben Theunissen, die bekende Springbok Radio omroeper hier ontmoet, en hulle het baie goed bevriend geraak. Springbok Radio het gereeld direk vanaf die vakansieoord uitgesaai, en so het Chris dan ook landwyd bekendheid verwerf. Sy orkes was so gewild en in aanvraag by vakansiegangers dat hulle in 1984 die langspeelplaat, “Vakansie Treffers”, saam met Ben Theunissen uitgereik het as Ben Theunissen & Die Chris le Roux Trio. In later jare het hy en sy orkes ook by Die Eiland vakansieoord naby Tzaneen begin vermaak aanbied.

In die middel van die 1980s het Chris by Boet Pretorius van Decibel Plate uitgekom en is sy eerste langspeelplaat, “Groot Karoo”, in 1986 uitgereik. Die titelsnit en “Drome Van Rietbaai” was veral baie gewild. Sy tweede album, “Ek Gaan Huistoe”, is in 1988 vrygestel en die titel liedjie het in daardie jaar Teletreffers gewen. “Hantamberge”, wat oor die jare sy gewildste liedjie geword het, is ook op hierdie langspeler uitgereik. Hy het hierna nog verskeie albums vrygestel, ook een saam met Kupido in 1991, en het ‘n landwye toer saam met Kupido, Org Smal en Jannie de Bruyn onderneem deur Suid-Afrika en Namibië,.

Chris en Dalene is al 55 jaar getroud en drie kinders, René, Anne-Marie en Christiaan, is uit die huwelik gebore. Nadat hy en Dalene vir etlike jare in Somerset-Wes gewoon het waar hy kitaar lesse gegee het, het hulle by hul dogter op Naboomspruit (deesdae Mookgophong) ingetrek en woon steeds daar. Chris le Roux is deesdae 78 jaar oud.

Hierdie liedjie is vanaf die album “Ek Gaan Huistoe” wat in 1988 uitgereik is.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.