Francois Hayes is op 14 Maart 1948 in Oos-Londen gebore as een van ‘n tweeling. Hy het reeds as ‘n jong seun begin sing, en nadat hy aan die Hoërskool Grens matriek geskryf het, het hy hom as onderwyser bekwaam aan die onderwyskollege op Graaff-Reinet. Terwyl hy op kollege was, het hy sy eerste orkes gestig en het hulle tydens kollege aande vermaak verskaf. Nadat hy sy studies voltooi het, was hy vir tien jaar lank ‘n hout- en metaalwerk onderwyser, het hy sanggroepe by skole afgerig en het hy vier langspeelplate met kore vrygestel. Hy het ook ‘n kort rukkie by die SAUK gewerk en het ‘n aantal solus sewes uitgereik. In 1980 het hy ‘n groot treffer gehad met “Osbraai Op Kromdraai”, waarna hy besluit het om ‘n voltydse loopbaan as sanger te volg.
Hoewel hy geen formele musiekopleiding ontvang het nie, het Francois homself leer kitaar speel en het hy uit die staanspoor besluit dat hy slegs liedjies sal sing wat hy self geskryf het. Tydens sy roemryke loopbaan het hy behoorlik die treffers ingeryg met liedjies soos ”Karolis”, ”Hou My ‘n Bietjie Vas”, “Die Gat In Die Grond”, ”Jorrie Dittel Dy”, ”Ouma Se Serfyntjie”, ”Kotteljons” en vele meer. Hy het ook verskeie toere deur Namibië en Suid-Afrika onderneem, onder andere saam met bekende kunstenaars soos Sonja Herholdt, en daar is bykans geen dorp of stad waar hy nie opgetree het nie. Francois het ook reeds van kleintyd af sy drie dogters, Theresa, Liesl en Mari, betrek om saam met hom op sy plate en tydens optredes te sing.
Tydens sy loopbaan het hy gereeld in televisieprogramme soos “Platepraatjies”, ”Debuut”, “Teletreffers”, ”Sing Country”, ”Spies En Plessie”, ”Middagvertoning Met”, ”Noot Vir Noot”, ”Pasella”, ”DKNT” en “Dis Hoe Dit Is Met Steve” verskyn, en het hy vier een uurlange televisieprogramme vir TV4 opgeneem. Hy het ook 29 albums op langspeelplate en op CD uitgereik en het meer as 300 Afrikaanse liedjies self geskryf. Drie van sy albums het goud en een platinum status behaal.
Nadat Francois Hayes en sy vrou Rina vir baie jare op verskeie plekke gewoon het, insluitend Barkley-Wes, Krugersdorp, Hermanus en George, het hulle ‘n aantal jaar gelede hul huis verkoop, ‘n motorhuis gekoop en reis hulle deesdae die land vol en tree hy nog gereeld op waar ook al die pad hulle heen lei. Op die oomblik is hulle in Sedgefield.
Hierdie liedjies is in 1980 op solus sewe uitgereik as die B-kant van “Osbraail Op Kromdraai”.
