SKY OCEAN ontbloot haar siel met nuwe enkelsnit
Sky Ocean het een van daardie stemme wat jou in jou spore laat vassteek wanneer jy haar vir die eerste keer hoor sing. Daar is hoendervleismooi emosie en ’n strelende klank in haar stem wat jou uitnooi om verlore te raak in haar musiek. Dit is dan ook hierdie eienskappe wat haar derde enkelsnitvrystelling, BLACKHOLES IN MY HEAD, so besonders maak.
BLACKHOLES IN MY HEAD is ’n moderne ballade met ’n pop-rock-aanslag. Hierdie ballade is in Australië geskryf in samewerking met Byron Keno en bevraagteken al die onbeantwoorde vrae wat daar oor liefde bestaan. Al daardie dinge oor die liefde wat niemand verstaan nie. “Somtyds gee jy jou alles vir iemand of iets nog voordat julle amptelik ’n paartjie is. Jy leer nie eers hoe om te vlieg voordat jy val nie, jy vat ’n kans en laat net gaan met ’n hart vol hoop en vertroue dat dit sal uitwerk.
Wanneer dit ’n week later nie uitwerk nie, beweeg die persoon so vinnig aan en jy sit met die gebroke hart, kop vol gedagtes en ’n gekneusde selfbeeld. Ek was verlede September juis self in hierdie bootjie en my ervaring was ook die inspirasie agter die liedjie,” verklap die talentvolle sangeres en liedjieskrywer oor haar nuutste vrystelling. “Ek dink hierdie is ’n boodskap waarmee luisteraars sal kan vereenselwig. Liefde is ’n ontasbare ding wat jy voel maar nie kan vat nie, wat sin maak maar tog ook nie, maar mense is nie liefde nie. Mense voel net lief. So dis eintlik mense wat ons nie verstaan nie. Dis gekompliseerd, maar mens kan nie mense vergelyk met liefde nie. Aksies praat harder as woorde.”
Die musiekvideo van die enkelsnit is reeds ‘n tyd gelede vrygestel en is in ’n huis verfilm wat op die Johannesburgse middestad uitkyk deur Kyle White TV. “Dit gaan oor ’n onstuimige liefdesverhouding, waar die paartjie ’n liefde-haat-verhouding ontwikkel. Waar hulle eens so verlief was (herinneringe), kan hulle mekaar nou skaars uitstaan. Die mooi het seer geword.
Tog kom hulle altyd weer terug na mekaar toe, want al is dinge onrustig voel hulle steeds veilig by mekaar,” sê sy. “Op ’n stadium in die video voer ek ’n stryd met myself, want ek weet wat ek voel is liefde en hy bly basies vir my sê dat my pogings nie goed genoeg is nie. Dit maak my hartseer en kwaad op dieselfde tyd.” Kyle het die storiebord opgestel en die projek bestuur. Sy vrou, Chanel, was die grimmeerkunstenaar en ’n akteursvriend, Thiardt Roetz, het teenoor haar in die video gespeel.
Loer hier onder na een van haar Afrikaanse musiekvideo treffers RETROSPEK VAN LIEFDE en dan ook haar nuutste Engelse musiekvideo BLACKHOLES IN MY HEAD
SKY OCEAN – RETROSPEK VAN LIEFDE
SKY OCEAN – BLACKHOLES IN MY HEAD
