Rina Hugo – Hoor jy my stem

Anna Catharina Hugo, is op 13 Maart 1949 in Umtata gebore waar haar pa verbonde was aan die SA Polisie. Die gesin het, onder andere, ook in Oos-Londen, Welkom en in Springs gewoon waar Rina haar skoolloopbaan aan die Hoër Meisieskool Hugenote voltooi het en ook onderhoofmeisie was. Op skool het sy musiek as vak gehad en het aan kunswedstryde, koorsang, operettes en alles wat met musiek te doen gehad het, deelgeneem. Na skool het sy aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) studeer en was vanaf 1968 lid van die Alabama Studentegeselskap. Hier het sy vir Johan van Rensburg, wat musiek regisseur van Alabama was, ontmoet en hulle is op 27 Maart 1971 getroud. Nadat sy die graad B. Mus. behaal het, is Rina as musiekonderwyseres aan die Hoërskool Gimnasium op Potchefstroom aangestel waar sy klavier, harmonie en sangklasse aangebied het. In 1973 het sy en Johan na Amerika vertrek waar sy haar meestersgraad in sang aan die New England Conservatory of Music in Boston behaal het.

Met hulle terugkeer na Suid-Afrika het Rina haar debuut as operasangeres gemaak in TRUK se produksie van “Die huwelik van Figaro”, maar in 1977 het sy toevallig in die ligte musiekwêreld beland toe sy een aand vir Suzette Eloff, wat die gereelde sangeres vir Johan se Alabama Ritme-Groep was, moes instaan tydens ‘n optrede. Na die optrede het sy en Johan besluit om in te skryf vir die ATKV se Crescendo-kompetisie, en so het dit dan gebeur dat Johan die komposisie- en Rina die sang-afdeling in 1978 gewen het. In 1981 het hulle na Johannesburg verhuis waar Johan ‘n pos by SAUK-TV aanvaar het en Rina sanglesse gegee en in verskeie operas gesing het. Haar eerste langspeelplaat, “Rina Hugo” is in 1983 vrygestel en het die trefferliedjie “Ek sien vandag die son weer skyn” opgelewer. Die sukses van die album het haar oortuig om eerder ‘n loopbaan in ligte musiek te volg, veral ook omdat dit haar toegelaat het om meer tyd saam met haar familie te spandeer.

Rina het hierna bykans elke jaar ‘n nuwe album uitgereik, en het gereeld op televisie verskyn in programme soos “Middagvertoning met…”, “Teletreffers”, asook die uur lange program, “’n Dag in die lewe van Rina Hugo” wat in Desember 1985 uitgesaai is. In 1987 het sy vir ‘n hele naweek saam met Bles Bridges by die Sun City Superbowl opgetree voor sowat 30,000 mense, en in 1990 is haar eerste gospel album, “Jerusalem”, uitgereik wat in 1991 met die OKTV-toekenning bekroon is. In 1993 het sy deelgeneem aan die Vlaamse Sangfees in Antwerpen, België. Tydens haar roemryke loopbaan het Rina ook gesing saam met baie bekende kunstenaars, onder andere Carike Keuzenkamp, Manuel Escorcio, Die Drakensbergse Seunskoor, Jannie Moolman, en het veral groot sukses behaal met haar optredes en opnames saam met Gé Korsten.

In 2012 het Rina en Johan besluit om in die Midstream Landgoed in Centurion, Pretoria, af te tree, hoewel Rina steeds haar loopbaan voortgesit het en later jare afgeskaal het na optredes by kerke en aftree-oorde ten bate van die Christelike Seemansorganisasie.

Hierdie liedjie is vanaf die album “Hoor Jy My Stem Oor Die See” wat in 1989 uitgereik is.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.