Bill Walker – My nooientjie van Transvaal

William Alfred Walker is op 28 April 1927 in Sydney, Australië gebore. Hy het reeds op die ouderdom van 6 klavierlesse begin neem, en het na skool ‘n meestersgraad in musiek aan die Sydney Universiteit se Konservatorium van Musiek behaal. Op universiteit het hy ook opgetree as orkesleier by baie van die mees gewilde nagklubs en teaters in die stad. Nadat hy sy studies voltooi het, het hy by die RCA platemaatskappy begin werk, en is in 1957 na Suid-Afrika verplaas waar hy as ‘n direkteur by Teal Plate begin werk het. Aanvanklik het hy betrokke geraak by veral oorsese blyspele wat in Suid-Afrika opgevoer is, onder andere “The Sound Of Music”, “Oliver”, en “Cinderella”, maar het homself ook daarvoor beywer om jong, onbekende plaaslike kunstenaars die geleentheid te gee om hulle eerste plaatopnames te maak, insluitend, Maureen Moore, Glenys Lynne, Gene Petersen, Johnny Kongos, en vele ander.

Bill het ook betrokke geraak by internasionale kunstenaars wat Suid-Afrika besoek het, onder andere Jim Reeves, Chet Atkins, Floyd Cramer, Dwayne Eddy en John D. Loudermilk, en het saam met hulle deur die land getoer. Hy was ook verantwoordelik vir die musiek verwerkings vir die rolprent “Kimberley Jim” wat in 1963 in Suid-Afrika verfilm is en waarin Jim Reeves die hoofrol vertolk het. Jim was so beïndruk met Bill se vermoëns dat hy hom gevra het om musiekdirekteur te word van ‘n nuwe televisieprogram wat hy in die VSA sou aanbied, ‘n aanbod wat Bill aanvaar het. Tydens die 7 jaar wat Bill in Suid-Afrika gewoon het, het hy meer as 20 langspeelplate uitgereik, baie daarvan saam met plaaslike kunstenaars wat later in eie reg bekendheid verwerf het.

Hy het teen die tweede helfte van 1964 in die VSA aangekom, net betyds om uit te vind dat Jim Reeves in ‘n vliegtuigongeluk oorlede is. Hy het egter besluit om aan te bly en het ‘n indrukwekkende loopbaan opgebou tydens sy leeftyd. Hy het, onder andere, saam met Eddy Arnold gewerk en hom oortuig om ‘n langspeelplaat in Afrikaans op te neem, en was hierna vir etlike jare musiekdirekteur van die “Johnny Cash Show” wat op die ABC televisienetwerk aangebied is. Johnny Cash het die gewoonte gehad om elke vertoning af te sluit met die woorde “Good night, Bill Walker!”. In die 1970s het hy die Con Brio Platemaatskappy saam met sy seun, Jeff, gestig.

Bill Walker het in Nashville, Tenneessee, gewoon tot en met sy dood op 26 Mei 2022 in die ouderdom van 95.

Hierdie liedjie is vanaf die album “Die Klavierspel Van Bill Walker” wat in 1964 vrygestel is.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.