Vrydag 7 Oktober

nuus radioSAUK Radio Nuus berig vir  Vrydag, 7 Oktober 2016.

Goeiedag en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

1)Godfrey Oliphant , adjunk-minister van minerale sake, het kritici van Zuma gewaarsku dat die regering se geduld opraak met uitgesproke kritici van die president en hul gewaarsku om hul te gedra.

Dit volg nadat Anglogold Ashanti se voorsitter, Sipho Pityana, ‘n skerp aanval teen Zuma geloods het.

Oliphant sê die regering is moeg vir gedurige kritiek sonder dat daar enige oplossing aangebied word . Pitana het Zuma die “hoofborg van korrupsie” genoem tydens sy aanval.

As die regering oplossings soek vir hul swak bestuur, moet daar seker na die hoofman gekyk word,  meen waarnemers.

Intussen het Suid-Afrika se buurstaat, Zimbabwe, wetgewing aangeneem om anti-regeringsbetogings te voer. Ontleders meen dat Oliphant se opmerkings die atmosfeer begin voorberei vir soortgelyke beperking van meningsuiting in Suid-Afrika.

2)Nadat die SABC deur die parlement opgeroep is om die Motsoeneng saga te verduidelik, het al die partye, ook die ANC, gevra dat die raad ontbind moet word.‘n Tussentydse raad sal intussen aangestel word om die uitsaaier se sake te hanteer. Dit volg na maande se skommelinge en herskommelinge van die raad wat weer eens getoon het dat regerende party se belange belangriker is as landsbelange.

Die raad van die SABC word ook saamgestel deur ‘n komitee waarin die ANC die meerderheid het, met die gevolg dat waarnemers nie optimisties is dat ‘n tussentydse of nuwe raad enigsins beter sal wees as die huidige een nie. Die regerende party wil sy hande stewig hou op die openbare uitsaaier, om sy beleid en handelinge te regverdig, met die gevolg dat die een na die ander onbevoegde kader is aangestel word wat die SABC net verder in die grond bestuur. Die ontbinding van die raad beteken ook dat Hlaudi Motsoeneng sy pos kwyt is, maar hy het te kenne gegee dat hy onaantasbaar is en nie sy pos gaan verlaat nie. Verdere verwikkelinge in dié verband word met belangstelling dopgehou.

3)Die oorlog van die studente op verskeie van die land se kampusse gaan voort, en dit wil voorkom of hulle besig is om veld te wen. Die studente stel in sommige gevalle eise dat rektors moet bedank, hulle eis om betrokke te wees by bepaalde onderhandelings, en hulle eis dat die polisie van kampusse verwyder moet word.

Veiligheidskenners is verstom oor die feit dat universiteite reeds ingegee het tot die eis om die polisie van die kampusse te verwyder. Dit skep die moontlikheid dat studente weer gewelddadig kan raak, sonder dat daar iets aan hulle gedoen kan word.

Vanuit opvoedkundige kringe is daar soortgelyke verbasing oor studente-eise rakende die akademie, en wie rektors moet wees en wie nie. “Studente is slegs drie tot sewe jaar op kampus, waarna hulle onder normale omstandighede die universiteit verlaat. Hulle is dus tydelik, terwyl die universiteit, sy kultuur en sy personeel tog groter is as die tydelikheid van die studente,” het een akademikus gesê.

Intussen het van Wits se studente daarop gesinspeel dat ʼn wit manlike of vroulike student sal moet sterf om die erns van hul saak te onderstreep. Volgens adv. Anton Alberts van VF+ is so ‘n uitspraak “roekeloos en tekenend van jongmense wat op dramatiese wyse uiters gevaarlike vloermoere gooi om die aandag van volwassenes te trek.”

Adv. Alberts sê dit is soos iemand wat wil selfmoord pleeg om aandag te trek sonder om werklik dit te wil doen en sonder om werklik die erns en omvang van die daad te besef. “Die woede van die betrokke Wits-studente is ongelukkig besig om ʼn ernstige eksterne vorm van wit haat aan te neem. “Dit moet onmiddellik deur die universiteit se owerheid verdoem word en die polisie moet hiervan kennis neem in hulle polisiëringfunksie op die Wits-kampus. Die VF Plus sal ook ondersoek instel na wie die gewraakte stelling geuiter het en dit by die polisie aanmeld vir verdere ondersoek.

4)Rand Water, wat SA se grootste waterraad is en water aan meer as 13 miljoen mense voorsien, gaan hul toevoer met 15% sny weens die huidige droogtetoestand.

Die normale 4 500 kiloliter sal verminder word na 3 900 kiloliter per dag.

Die reënval die afgelope  jaar was die laagste die afgelope 100 jaar. Beroepe op verbruikers om water te bespaar het nie die nodige resultate opgelewer nie en drastiese maatreëls is nodig aangesien die Vaalrivier-stelsel, wat uit 14 damme bestaan, tans gesamentlik 52% vol is terwyl die Vaaldam tans slegs 30% van sy kapasiteit hou.  Sodra die Vaaldam  se vlak onder 25% val sal water uit ander damme onttrek moet word.

5)In ‘n poging om die slaagsyfer van matrikulante te verhoog, het die departement van onderwys R 100 miljoen beskikbaar gestel vir 2017 vir ondersteuningsprogramme vir leerlinge wat aanvullende eksamens moet aflê.  Die program word genoem “Tweede kans program”.

Onderwyskundiges vra die vraag hoeveel kanse moet leerlinge kry om te slaag, veral in die lig van die vernietiging van skoolstrukture, stakings en nie-akademiese haarklowery soos haarkwessies in skole.

Daarenteen word vrae ook gevra oor die kwaliteit van onderwyskragte, wat voortspruit uit die kwaliteit opleiding wat hulle kry. Talle ouers sit met die frustrasies dat hulle kinders bykomende klasse moet neem vir verskeie vakke, omdat die onderwyser voor die klas, nie die vermoë het om die kennis oor te dra op die leerlinge nie. Daardie ekstra klasse gaan gepaard met hoë koste, waarvoor ouers geen belastingtoegewings kry nie.

‘n Verdere groot probleem is die gebrek aan dissipline in die klas. Onderwysers kan nie meer dissipline streng toepas nie, en in baie gevalle word kinders tuis ook nie meer dissipline geleer nie, wat insluit die dissipline om te leer vir eksamens en om skoolwerk getrou te doen.

6)Ajay Gupta het die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, besoek met die oog op die  ondersoek wat sy tans doen oor sy beweerde aanbiedings van ministersposte aan twee individue.

Intussen sal Madonsela ook vandag met die land se staatshoof, Jacob Zuma, vergader om hom te ondervra oor sy moontlike betrokkenheid by die Guptas, en om vas te stel of die Guptas inderdaad onbehoorlike toegang tot die staatshoof het, wat hulle kon bevoordeel. Dit is nie seker of die ondervraging onder vier oë sal plaasvind en of Zuma moontlik sy regsverteenwoordiger sal bytrek in ‘n poging om hom tot ‘n mate te beskerm. Dit is Madonsela se laaste groot ondersoek wat sy doen voordat haar termyn aan die einde van die maand verstryk en ‘n nuwe Openbare Beskermer haar plek inneem.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad –Bewolk–  met ‘n min 27 max van 36

Nelspruit –  Mooi Weer– met ‘n  min van 14 en ‘n max van 27

Pretoria  – Mooi Weer – met ‘n  min van 13 en max van 35

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 15 en max van 32

Vereeniging –Gedeeltelik Bewolk – ‘n  min 12 en max van 34

Bloemfontein –Mooi Weer – met min 15 ‘n max van 26

Durban – Gedeeltelik Bewolk Met Ligte Reen – met ‘n min van 17 en max van 21

Rustenburg – Mooi Weer – met ‘n min 15 en max van 35

Oos Londen –Gedeeltelik Bewolk– met ‘n min 13 en max van 19

Kaapstad –Gedeeeltelik Bewolk–met  min van 10 en max van 18

Upington – Mooi Weer- met ‘n min van 16 en max van 25

PE- Mooi Weer – met ‘n min 12 en max van 18

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig


 

(Visited 18 times, 1 visits today)

Post A Comment For The Creator: SAUK TV

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.