Donderdag 6 Oktober

nuus radioSAUK Radio Nuus berig vir  Donderdag, 6 Oktober 2016.

Goeiedag en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

1)Die Johannesburgse metroraad begin vandag met ‘n proses om die vaardigheidsvlakke van al sy werknemers te bepaal.

Die burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gesamentlike Dienste, Ntombi Khumalo, sê die tyd van patronaatskap en poste vir vriende en familie is verby. Sy sê die proses sal verseker dat poste in die munisipaliteit deur mense met vaardighede, kennis en ervaring beklee word. Sy sê die proses sal in fases verloop.

2)Die Adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas, sê baie meer moet gedoen word om beleggingsvertroue in Suid-Afrika te verbeter. Hy vergesel die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, op ‘n besoek aan New York om beleggings te bevorder. Volgens Jonas wil beleggers hê dat Suid-Afrika maatreëls moet versterk wat beleggingsvertroue sal skep. Beleggers is ook bekommerd oor die land se vermoë om sy fiskale teikens te bereik.

3)’n Voormalige lid van die SABC-raad, Krish Naidoo, sê die kontrak tussen Multichoice en die openbare uitsaaier is onwettig. Naidoo het gister uit die raad bedank tydens die raad se verskyning voor die Parlementêre Kommunikasie-komitee oor die aanstellings van Hlaudi Motsoeneng by die openbare uitsaaier. Vusi Mavuso het ook as raadslid bedank. Die ooreenkoms met Multichoice beloop 533 miljoen rand. Volgens die ooreenkoms kan Multichoice van die SABC se argiefmateriaal uitsaai. Naidoo, wat ‘n prokureur van beroep is, sê die kontrak moet hersien word. Hy sê die kontrak plaas die SABC op ‘n baie ongelyke voet. Dit is ook deur die bedryfshoof onderteken, terwyl dit deur die bestuurshoof onderteken moes word.

4)Talle universiteite regoor die land is steeds vandag gesluit nadat hernieude betogings die week uitgebreek het. Wits en die Universiteit van Kaapstad het akademiese aktiwiteite opgeskort nadat klasse vir ‘n rukkie hervat is. Dieselfde het by die Universiteit van die Wes-Kaap en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie gebeur. Ander tersiêre instellings soos die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth is ook gesluit. Klasse word by die Durban Universiteit van Tegnologie onder polisiebewaking voortgesit.

Die studente se eise handel hoofsaaklik oor gratis onderrig, maar ander kwessies soos die afskryf van skuld en gratis vervoer word ook geopper.

5)Die Stellenbosch Universiteit sê hy bestudeer nog dokumente wat ‘n pro-Afrikaanse steungroep by die hof ingedien het. Die groep, “Gelyke Kanse”, vra dat die Wes-Kaapse Hooggeregshof die universiteit se nuwe taalbeleid ter syde stel. Volgens die nuwe beleid sal Engels van aanstaande jaar af die primêre onderrig- en administratiewe taal wees. Die groep waarsku dat die universiteit miljoene aan trustgeld kan verloor as Afrikaans sy status by die instelling verloor. Die Universiteit se woordvoerder, Susan van der Merwe….

6)Die voormalige eerste minister van Portugal, Antonio Guterres sal later vandag amptelik deur die Veiligheidraad bekragtig word as kandidaat vir die amp van sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies. Na ses stemgeleenthede het Guterres dertien uit die vyftien lede van die Veiligheidsraad se stemme gehad, en twee lede het buite stemming gebly. Die finale formele stemming in die Veiligheidsraad vind vanoggend om 10-uur Amerikaanse tyd plaas. Die Algemene Vergadering moet die aanwysing bekragtig.

7)Meer as 250-duisend mense in die Amerikaanse state Florida en Suid-Carolina het hulle huise ontruim in afwagting op die orkaan Matthew wat die gebied vandag sal bereik. Die orkaan, wat reeds sewentien lewens in Haïti en Kuba geëis het, word as die sterkste storm bestempel wat die Karibiese Eiland-gebied in ‘n dekade getref het. Swaar verkeersopeenhopings het in Charleston in Suid-Carolina voorgekom waar die goewerneur, Nikky Haley, ‘n verpligte ontruiming gelas het. Die Nasionale Wag is op ‘n gereedheidsgrondslag en meer as 700 verkeersbeheerpunte is opgestel.

8) Krieket –  Die Proteas het die derde eendag-kriekettoets teen die Aussies in Durban met vier paaltjies gewen en daarmee ook die reeks beklink. Die laaste vennootskap tussen David Miller en Andile Phehlukwayo het ‘n opwindende 107 lopies opgelewer. Die Proteas het die reuse teiken van 372 lopies bereik met vier balle oor. Die Proteas se telling was die hoogste nog in ‘n internasionale eendagwedstryd op Kingsmead. Die volgende kragmeting tussen die twee spanne is Sondag in Port Elizabeth. Miller was die Speler van die Wedstryd.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad – Gedeeltelik Bewolk Met Ligte Reen   –  met ‘n min 27 max van 36

Nelspruit –  Bewolk– met ‘n  min van 14 en ‘n max van 36

Pretoria  – Mooi Weer – met ‘n  min van 13 en max van 32

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 9 en max van 31

Vereeniging –Mooi Weer – ‘n  min 8 en max van 33

Bloemfontein –Mooi Weer – met min 9 ‘n max van 29

Durban – Mooi Weer – met ‘n min van 8 en max van 29

Rustenburg – Mooi Weer – met ‘n min 12 en max van 34

Oos Londen –Mooi Weer– met ‘n min 15 en max van 23

Kaapstad –Gedeeeltelik Bewolk Met Ligte Reen –met  min van 11 en max van 17

Upington – Mooi Weer- met ‘n min van 12 en max van 28

PE- Mooi Weer – met ‘n min 13 en max van 21

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig


 

(Visited 25 times, 1 visits today)

Post A Comment For The Creator: SAUK TV

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.