Woensdag 5 Oktober

nuus radioSAUK Radio Nuus berig vir  Woensdag, 5 Oktober 2016.

Goeiedag en hartlik welkom by SAUK Radio. My naam is Gottie Myburgh met die nuus in Afrikaans verkry van verskillende nuus skakels op die internet

1)Die Gautengse regering beplan om meer as 1 000 eiendomme te verkoop om koste te bespaar en meer effektief te wees. Dit sluit beboude en onbeboude eiendom in. Daar is op die eiendomme besluit aangesien dit geïdentifiseer is as nie-noodsaaklike eiendomme.

Die premier se amptelike woning is een van die wat verkoop gaan word maar geen besonderhede is verskaf oor eiendomme wat tans verhuur word nie.

Ontleders wys daarop dat deur ontslae te raak van eiendomme, dalk tydelik die oplossing mag wees, maar as daar nie daadwerklik gekyk word na vermorsing van staatsgeld en bedrog nie, sal daar nie werklik verligting kom nie.

2) Die EFF-leier, Julius Malema, het belowe dat sy party nooit sy radikalisme sal laat vaar  nie. Hy was die spreker by ‘n sogenaamde byeenkoms van die mense in Durban.

Hy sê die ANC is aan die blanke monopolistiese kapitaal uitverkoop die oomblik toe Nelson Mandela vrygelaat is.  Hy sê Mandela was die mees radikale politikus wat daar was, maar die ANC was nie voorbereid op sy vrylating nie en Mandela het nie eens ‘n pak klere gehad en nêrens om heen te gaan nie. Toe is hy oorgeneem deur die kapitalisme, en het hy sag geword oor sake soos nasionalisering. Dieselfde mense wat Mandela gekaap het, het ook die ANC oorgeneem.

“As ons nie ons eie geld kan insamel deur metodes wat nie ‘n kompromie met die EFF se radikalisme sal maak nie, sal ons weg wees en dieselfde roete volg wat Mandela gegaan het,” het Malema gesê. Hy het by die geleentheid ook alle takke van die EFF in Natal ontbind en ‘n nuwe tussentydse leierskorps aangestel wat die party in Natal sal bestuur.

Die afdankings kom nadat die kaders nie volgens Malema die nodige resultate in hul werk behaal het nie.  Politieke ongeletterdheid is volgens Malema ‘n saak wat aangespreek moet word, en het hierin verwys hy na die binnegevegte wat in sy party bestaan.

3) Die Afrikaner Volksparty (AVP) se agtste jaarkongres word op 8 Oktober gehou onder die tema: “Afrikaner waarheen?”.

Die leier van die party, mnr. Danie Varkevisser, sê dat op die tema besluit is na aanleiding van die geweldige verwarring onder die Afrikaner volk oor die pad vorentoe. “Daar is soveel opinies, onbedoelde en bedoelde misleiding en politieke naiwiteit in Afrikanergeledere. Daarom wil ons vir u die koers aandui met twee insiggewende voordragte,” sê mnr. Varkevisser

Mnr. Johan Theunissen sal praat oor “Dié land is ons land”, en mnr. Varkevisser sal self praat oor die tema Afrikaner waarheen” Die gaspreker is mnr. Stephen Goodson. Hy was vir 9 jaar ‘n nie-uitvoerdende direkteur van die Suid-Afrikaanse Reserwe Bank. In sy boek “Inside the South African Reserve Bank – It’s origins and secrets exposed” lê hy baie interessante feite bloot oor die kriminele aktiwiteite van die bank waardeur gewone belastingbetalers gyselaar gehou word.

Na die onthullings in sy boek het die Reserwebank strafregtelike klagtes teen hom gelê in ‘n klaarblyklike poging om hom die mond te snoer. Van hierdie klagtes het tot dusver niks gekom nie. Hy beskik oor inligting van bekende politici en oud-politici in Suid-Afrika se geheime bankrekeninge in oorsese lande.

Die AVP se kongres vind op 8 Oktober net buite Kempton Park plaas.

4) Ernstige misdaad soos die skokkende moord van Johann Heunis wat die naweek voor sy gesin naby Kameeldrift, Pretoria, doodgeskiet is, moet voor die deur van die polisie gelê word wat weens wanbestuur nie die land se burgers na behore beskerm nie, sê adv. Anton Alberts, parlementslid van VF+. Hy waarsku dat burgers kan begin reg in eie hande neem en selfs belastings kan weerhou.

Volgens adv. Alberts het hy enkele maande gelede juis oor ernstige misdaad met die polisie gepraat toe aan hom erken is dat dié diens se funksionaliteit ernstig gestriem word deur ʼn tekort aan kundige personeel en voertuie.

“Een van die skokkende erkennings was dat sowat die helfte van die provinsie se voertuie weens ʼn verskeidenheid meganiese en ander probleme nie gebruik kan word nie,” sê adv. Alberts “Die VF Plus het rede om te glo dat die situasie in Gauteng rakende voertuie ʼn getroue weerspieëling is van die situasie elders in die land. “Ons is ook daarvan bewus dat affirmative action groot leemtes aan kundigheid binne die polisie gelaat het en dat spesialis-eenhede, soos die polisie se laboratoriums wat bewyse van misdaadtonele moet ondersoek en ontleed, ʼn geweldige groot agterstand op hul werk het en dat baie ondersoeke hierdeur gekelder word. “Dit is dinge soos hierdie wat ʼn mens onwillekeurig moet laat vra of moorde soos die op mnr. Heunis nie verhinder kon word indien die polisiediens ten volle funksioneel was nie. “Geweldsmisdaad en moord is oral in die land onaanvaarbaar hoog, maar veral in die omgewing van Pretoria is dit besig om buite beheer te raak. “Dit is duidelik dat die nasionale wanbestuur van die polisie die instansie ontneem van die geleentheid om die samelewing te beskerm.

“Indien die ANC-regering nie wil luister en iets daadwerkliks omtrent misdaad doen nie, insluitende deur die ekonomie reg te bestuur ten einde werksgeleenthede te skep, sal die burgers gaandeweg die reg in eie hande begin neem en selfs sover gaan om belasting te weerhou. “Die opstand oor e-tol was die eerste teken daarvan en dit sal nie veel meer verg vir mense om belasting sover hul kan te weerhou nie. Die regering moet weet dat sy dae van argeloosheid oor menselewens getel is.

“Die VF Plus wil opnuut sy medelye met elke slagoffer van misdaad in die land uitspreek, en in die besonder ook met die familie van die vermoorde mnr. Heunis,” sê adv. Alberts.

5) Voorgestelde wysigings aan die Nasionale Drankwet maak voorsiening dat die ouderdomsperk van drankverbruikers van 18 jaar verhoog moet word na 21 jaar. Volgens sekere kenners ontwikkel die menslike brein eers ten volle in die middel twintiger jare en is drankgebruik dus verantwoordelik vir onderontwikkelde breinfunksies. Daar gaan ook strenger regulasies wees op die advertering van drank.

Skynbaar word daar in die konsepwet gepoog om die drankvervaardigers, verspreiders en verkopers aanspreeklik te hou wanneer bepaalde situasies rondom drankmisbruik ontstaan. Die minister van handel en nywerheid, Rob Davies, het erken dat dit baie moeilik gaan wees om dit te polisieer.

Mense mag wel van die ouderdom 18 jaar aan verkiesings deelneem, maar mag eers ‘n drankie drink of ‘n vuurwapen besit vanaf  21 jarige ouderdom. Etlike jare gelede is die mondigheidsouderdom juis verlaag van 21 na 18 jaar, wat beteken dat kinders kan trou sonder ouerlike toestemming, en dat hulle handelingsbevoeg is.

Die vraag word nou gevra of die brein dan selektief ontwikkel genoeg is om te kan stem, sake te doen en te trou, maar nie om ‘n drankie te neem nie?

6) Jaqui Gary Gradwell van die Oos-Kaap het roeringe veroorsaak met sy oproep aan wit families om te trek na die gebied. Hy het ‘n nie-winsgewende organisasie gestig met die naam Die Eden Projek, waar hy blanke families wil hervestig.  Die plaas is geleë in die Willowmore area.

‘n Regskenner van Wits het gesê dat so ‘n projek nie teen die wet is nie, behalwe as daar eiendom verkoop of verhuur word en besigheidsgeleenthede geskep word.

Swart organisasies soos die Black Lawyers Association, Black Editor’s Forum en ander, bestaan al vir jare en laat slegs swart lede toe.

7) Vir die eerste keer in jare het daar ‘n kalendermaand verby gegaan sonder dat daar ‘n plaasmoord geregistreer is.

Mnr. Henry Geldenhuys, adjunk-president van TLU SA en voorsitter van die Veiligheidskomitee, waarsku egter dat dit nie beteken dat die stryd teen plaasaanvalle en –moorde gewen is nie.

“In vergelyking met 2015 is die situasie steeds slegter. Sover is daar in 2016 al 46 boere vermoor in 256 plaasaanvalle, teenoor die 43 plaasmoorde in 200 aanvalle in 2015,” sê mnr. Geldenhuys. “Boonop is daar reeds twee plaasmoorde geregistreer in die eerste paar dae van Oktober, dus duur September se tendens nie voort nie.”

In September het die meeste aanvalle in Gauteng voorgekom (5), gevolg deur 4 aanvalle in elk van die provinsies Noordwes, Natal en Vrystaat.

Mnr. Geldenhuys wys egter daarop dat daar waarskynlik meer aanvalle plaasgevind het, maar as daar geen ernstige beserings of geslaagde rooftog by betrokke was nie, word aanvalle dikwels nie eens meer aangemeld nie. “Dit is verkeerd. Ons moet elke insident aanmeld om ‘n ware prentjie te kry van wat op ons plase aangaan. Dit sluit nie net plaasaanvalle en –moorde in nie, maar ook veediefstal en ander diefstalsake,” sê mnr. Geldenhuys.

Hy doen ook ‘n beroep op die publiek om TLU SA behulpsaam te wees om ‘n volledige, betroubare en geloofwaardige databasis by te hou, deur insidente ook by TLU SA se hoofkantoor te rapporteer.

Dit is die einde van ons amptelike nuus berig verkry op verskillende skakels op die internet

Die Temperature vir vandag vir die Hoof-sentra in die land soos deur die SA Weer buro

Warmbad – Gedeeltelik Bewolk  –  met ‘n min 27 max van 35

Nelspruit –  Bewolk– met ‘n  min van 10 en ‘n max van 28

Pretoria  – Mooi Weer – met ‘n  min van 11 en max van 27

Johannesburg – Mooi Weer – met ‘n min 9 en max van 27

Vereeniging –Mooi Weer – ‘n  min 10 en max van 28

Bloemfontein –Mooi Weer – met min 12 ‘n max van 26

Durban – Mooi Weer – met ‘n min van 14 en max van 23

Rustenburg – Mooi Weer – met ‘n min 8 en max van 29

Oos Londen –Gedeeltelik Bewolk – met ‘n min 16 en max van 27

Kaapstad –Bewolk –met  min van 12 en max van 24

Upington – Mooi Weer- met ‘n min van 15 en max van 33

PE- Bewolk – met ‘n min 16 en max van 29

Dit is die einde van vandag se nuus – en weer berig


 

(Visited 29 times, 1 visits today)

Post A Comment For The Creator: SAUK TV

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.