Paul Robinson – My skat

Paul Patrick Robinson is op 13 Oktober 1925 in Thaba Nchu gebore as die jongste van drie kinders (broer Jimmy en ‘n suster Lorna). Sy ouers het gereeld verhuis en so het hulle in Ladybrand in die Vrystaat, asook in Jansenville, Alexandria en Grahamstad in die Oos-Kaap gewoon. Paul het van kleins af ‘n natuurlike aanleg vir sang getoon, en het op elfjarige ouderdom sang- en musieklesse by James MacLachlan, ‘n musiek dosent aan die Grahamstadse Onderwyskollege, geneem. Hy het vir die eerste keer oor die radio gesing in die program “Childrens’ Corner” wat vanaf die Grahamstadse ateljee van die SAUK uitgesaai is. Die ateljee het in later jare na Port Elizabeth verskuif. Paul het ook in konserte in Oos-Londen en Port Elizabeth opgetree.

In 1940 het sy ouers teruggetrek na Thaba Nchu en het Paul sy sang studies voortgesit by professor David Roode van die Vrystaatse Musiekskool in Bloemfontein. Hy was hy ook lief vir boks en swem en het as jong man gereeld aan bokstoernooie deelgeneem. In 1943 het die familie na Johannesburg verhuis waar Paul in 1949 sy eerste transkripsie plaat saam met die SAUK simfonie-orkes gemaak het. Veral sy vertolking van die liedjie “Blue Bird of Happiness” was baie gewild op Eric Egan se program “You Call The Tune” op Springbok radio. In daardie jare het hy ook opgetree in verskeie toneelstukke wat in teaters in Johannesburg opgevoer is, onder ander “Robinson Crusoe”, “Crazy Show” en Ace High”.

In 1951 het hy by die orkes van Hendrik Susan aangesluit as sanger, waarna hy gereeld konsert toere saam met hulle onderneem het, saam met hulle opgetree by die Werda Klub in Johannesburg en ook plaatopnames saam met hulle gemaak het. Met die ontbinding van die Hendrik Susan se orkes het Paul aangesluit by Duffy Ravenscroft se orkes. Hulle eerste opname was die langspeelplaat “Sing and Dance with Duffy” wat in 1957 uitgereik is. Die plaat was geweldig gewild en meer as 100,000 kopieë daarvan is verkoop. Na die sukses van die plaat het Paul en Duffy nog vele soortgelyk langspeelplate uitgereik, en is hy later ‘n pos by die Gallo Platemaatskappy aangebied as verkoopsman en verteenwoordiger.

In sy jare saam met Hendrik Susan het hy goed bevriend geraak met Jurie Ferreira, en nadat Paul die orkes van Duffy Ravenscroft verlaat het, het hy saam met Jurie ‘n dansklub in Pretoria geopen. Die klub moes egter sluit weens negatiewe publisiteit nadat daar ‘n skietery was. Hy het hierna baie gesukkel om werk te kry, en hoewel hy van tyd tot tyd nog plate opgeneem het, het hy nooit weer op ‘n vaste basis saam met ‘n orkes gesing nie.
Hy het ook ‘n drankprobleem gehad wat sy pogings om werk te kry bemoeilik het, maar in 1980 het hy die probleem oorwin toe hy alkohol afgesweer het.

In later jare het hy werk gekry as ‘n verkeerskonstabel in Pretoria en het hy by Jurie Ferreira sy vrou Sue gewoon. Hy het ook vir ‘n tyd lank by sy broer, Jimmy, op ‘n plaas naby Warmbad gewoon, maar het in 1991 hy by sy suster, Lorna, aan die Natalse Suidkus gaan woon. Hy het egter hartprobleme ontwikkel en het in Februarie 1995 teruggekeer na Pretoria. Paul is op 18 Mei 1995 in die ouderdom van 69 aan ‘n hartaanval oorlede.

Hierdie liedjie is in 1969 op die album “Paul Robinson Sing Danie Bosman En Ander Treffers” vrygestel.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.