Ben E Madison is op 14 November 1931 in Germiston gebore as Stephanus Benjamin (Bennie) Blignaut. Hy het sy skoolloopbaan aan Parktown Boys High voltooi, waarna hy homself as passer en draaier bekwaam het, hoewel hy later ‘n verkoopsverteenwoordiger geword het. Op 25-jarige ouderdom het hy sanglesse by Al Preston begin neem, waarna hy die Bennie Blignaut Singing Studio geopen het wat hy vier jaar lank bedryf het.
In die vroeë 1950s het hy die groep The Three Notes begin saam met Sonny Theron en Donald Sterley, en het hulle opnames gemaak vir Trutone. Hierna het hy Die Drie Klawers gestig saam met Wally Crawbeck en Ralph Hesketh-Mare, en hulle het matige sukses gehad met ‘n vertaling van die gewilde liedjie “Tom Dooley”. Saam met Die Ruiters, wat hy later saam met Louis Combrinck, Donald Sterley en Benny Larkin begin het, het hy opnames gemaak vir EMI saam met die orkes van Tienie Coetzer. Sukses het hom egter bly ontwyk.
Hy het toe twee albums uitgereik as Bennie Blignaut, maar ook sonder sukses. In 1967 het Gilbert Gibson voorgestel dat hy sy naam verander, aangesien Bennie Blignaut te dikwels gekoppel is aan die baie gewilde sanger, Chris Blignaut, en so het Ben E. Madison dan ontstaan. Na ‘n oudisie by Flippie van Vuuren het hy vir die Teal Platemaatskappy opnames begin maak, en het hy in 1968 sukses gehad met die liedjie “Groen koringlande” wat deur Flippie van Vuuren en Anton de Waal geskryf is. Dit het die #11-posisie op die Suid-Afrikaanse Top 20 bereik, en was vir 8 weke op die treffersparade. Hy het ook ‘n groot aantal albums uitgereik in sy loopbaan, insluitend Droomland (1967), Skemerkelkie (1968), Groen Koringlande (1969), My Lied My Teer Minnelied (1970), en het ook albums in Engels uitgereik, onder andere Thoughts (1969) en Dreaming Again (1975). Hierbenewens het hy twee albums saam met die baie gewilde sangeres, Maureen Moore, uitgereik, een in Afrikaans en die ander in Engels.
Ben E Madison was ook ‘n baie bekwame liedjie- en liriekskrywer. Hy het, bv., meeste van die liedjies wat op twee albums van die gewilde Nederlandse sanger, Heintje Simons, verskyn het, vertaal na Afrikaans. Die titels van die twee albums is Suid-Afrika, Jou hart is weer myne (1975) en Heintje sing van liefde en verlange (1976), en veral twee van die liedjies was groot treffers – “Ruiter van die windjie” en “Jou hart is weer myne”. Dit was later jare ook treffers vir Bles Bridges.
Van sy liedjies en vertalings is ook deur ander kunstenaars opgeneem, onder andere “Ou rystoel” deur Virginia Lee, “Die Boemelaar se droom” deur Rudi Neitz, “My beminde” deur Amanda Luyt en “Ou klavier” deur Min Shaw. Sy laaste opname was as gaskunstenaar saam met Cora Marie op haar album, Goue treffers herleef uit 1986, waarop hy “Groen koringlande” saam met haar gesing het. In 1989 het hy ‘n groot terugslag beleef toe hy sy een been verloor het, en het hy hom hierna aan die vermaaklikheid wêreld onttrek.
Hy is op 7 Julie 1998 in die ouderdom van 66 in Johannesburg oorlede.
Hierdie liedjie is in 1968 op solus sewe uitgereik as die B-kant van “Groen Koringlande”.
