Nick Taylor & Maureen Moore – Iets so dwars

Nick Taylor is op 18 April 1944 in Somerset, Engeland, gebore, maar sy ouers het na Suid-Afrika verhuis toe hy 5 jaar oud was en het hulle in Kaapstad gevestig. Op 12-jarige ouderdom het hy in die skool koor begin sing, en het hy besluit om ‘n sangloopbaan na skool te volg. Hy het sy skoolloopbaan aan die Bishops High Diocesan College voltooi, waarna hy aan die Universiteit Kaapstad verder studeer het in drama en ballet. In 1961 het hy by die Manley van Niekerk-ateljees in Kaapstad begin werk as ‘n klankingenieur, maar het in 1963 na Johannesburg verhuis om by die SAUK aan te sluit as ‘n radio-omroeper. In hierdie tyd het hy van sy eerste albums, ook in Afrikaans, vrygestel. Vanaf 1967 tot 1969 het hy na Engeland teruggekeer waar hy gereeld op televisie verskyn het, en snags in nagklubs in Londen opgetree het.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy ‘n opname-ateljee begin met die Inhouse / Inhuis-etiket en het hy op ‘n stadium baie bekende kunstenaars op sy boeke gehad, insluitend Koos du Plessis en Lucas Maree. In 1977 het hy ‘n Sarie-toekenning ontvang vir “Liedjie van die jaar” vir “Make her an angel” wat ‘n groot treffer vir Roy Bulkin was. Nick het in sy loopbaan verskeie musiekblyspele geskryf, onder andere “Christian” en “Rollercoaster”, wat met groot sukses in teaters opgevoer is. Hy het ook 39 episodes van die televisieprogram vir kinders, “Harry’s House”, geskryf en was ‘n kranige skrywer van advertensie klingels vir radio. Nick en sy gesin woon deesdae in Elandsbaai in die Wes-Kaap.

Maureen Moore is in Kaapstad gebore, maar het haar skoolloopbaan in Johannesburg voltooi. Op skool het sy aan opvoerings deelgeneem en in die skool koor gesing het. Op 16-jarige ouderdom het sy en haar ouer suster, Val, aan Springbok Radio se “Hunt For Talent” kompetisie deelgeneem, en hoewel hulle nie gewen het nie, het hulle ‘n prys ontvang, en het die Hugo Keleti Teater Agentskap hulle hierna gekontrakteer om gereeld op te tree. Maureen het ook op daardie stadium musieklesse begin neem by Lucy Keleti. Nadat sy skool verlaat het, het sy met op haar eie begin sing en het ook klavierlesse by Ken Espen en William Schneider geneem, en het ook lesse in klassieke kitaar by Fritz Buss ontvang. Sy het ook ‘n sekretariële diploma voltooi en het by ‘n versekeringsmaatskappy begin werk as privaat sekretaresse, terwyl sy saans by die Balalaika Hotel in Sandton gesing het. Dit was hier waar die musiekdirekteur, Bill Walker, haar hoor sing het en ‘n plate kontrak met die Teal Platemaatskappy aangebied het. Haar eerste langspeelplaat, “Country Hits”, is in 1963 uitgereik en was so gewild dat “More Maureen Moore” in dieselfde jaar uitgereik is.

Op daardie stadium het sy besluit om haar voltyds op musiek toe te spits en het tussen 1964 en 1966 vier SARI-toekennings ontvang, drie as “Beste Country en Western Sangeres” en die vierde vir “Langspeelplaat van die Jaar” vir “Moon Love”. In April 1966 is Maureen getroud met haar bestuurder, Trevor Boswell, maar hy is in 1970 oorlede en sy is in 1973 met die besigheidsman, Sydney Long, getroud, en twee kinders is uit die huwelik gebore Maureen het toe finaal besluit om haar loopbaan as sangeres te laat vaar om sodoende voltyds aandag aan haar kinders te gee, hoewel sy in 1978 ‘n laaste album met die titel “Maureen Moore” uitgereik het. Ek verstaan dat sy deesdae in Sandhurst in Johannesburg woonagtig is.

Hierdie liedjie is in 1967 op solus sewe uitgereik.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.