Carike Keuzenkamp – Verlief op die lewe

Carike Keuzenkamp is op 3 Maart 1947 in Den Haag, Nederland, gebore as Elisabeth Maria Magdalena Keuzenkamp. “Carike” is afgelei van haar ouers se name, Carel en Rik. Die gesin het in 1952 na Suid-Afrika verhuis, en Carike het aan die Hoërskool Alberton matriek geskryf, waarna sy by die Universiteit van Pretoria onderwys studeer het. In 1967 was sy die universiteit se joolkoningin, en het sy deur middel van filmmaker Jamie Uys se dogter, Kobie, ‘n rol in die fliek “Die professor en die prikkelpop” gekry. Carike sing die liedjie “Timothy” in een van die tonele. Die liedjie is oorspronklik deur Carike se vriend en teologie-student, Dopper Erasmus, geskryf as “Dorothy”, sy nooi op daardie stadium, maar die naam moes verander toe Carike dit sing.

Sy is op 13 Julie 1968 met Olaus van Zyl getroud, en ‘n seun en twee dogters is uit die huwelik gebore. Haar eerste langspeler, “The Charm of Carike”, is ook in 1968 uitgereik, en haar eerste Afrikaanse album, “Almal Se Keuse”, in 1969.

Carike het in 1981 ‘n Sarie-toekenning as beste sangeres ontvang, is in 2008 vir ‘n SAMA-toekenning benoem en het ook al Tempo- en Vonk-toekennings gewen. Sy het reeds meer as 40 albums uitgereik, baie daarvan gerig op kinders.

Sy het drie SA Top 20 treffers gehad:

1. Timothy – 1967, #1, 17 weke
2. Last dance – 1968, #14, 5 weke
3. Hoeka toeka – 1978, #17, 2 weke

Alhoewel sy nie meer verhoogoptredes doen nie, verskyn sy steeds op televisie van tyd tot tyd. Carike en Olaus woon in Johannesburg.

Hierdie liedjie is in 1979 op solus sewe uitgereik as die B-kant van “Die Byeboerwa”.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.