Maritsa – Lente

Maritza is op 20 Desember 1958 in Oos-Londen gebore as Brenda Ann du Preez. Sy het reeds op 6-jarige ouderdom begin sing en het vanaf die ouderdom van 9 sanglesse geneem. Toe sy 10 jaar oud was, het sy haar eerste talentkompetisie gewen en op 16 haar eerste solus sewe, “Verlange”, opgeneem. In 1976 het sy ook haar eerste langspeelplaat, “Maritza”, vrygestel, en het in daardie jaar ‘n mini-SARIE-toekenning ontvang as Mees Belowende Sangeres. Haar bestuurder, Corrie Myburgh junior, het op die naam “Maritza” besluit om haar te onderskei van die ander du Preezs in die vermaaklikheidsbedryf, soos Vicki en Caroline.

Nadat sy haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Grens voltooi het, het sy by die Universiteit van Pretoria verder studeer. Sy was op daardie stadium reeds baie gewild as sangeres, en met die vrystelling van haar tweede langspeelplaat, “Koemadoe” in 1980, het sy die eerste Afrikaanse sangeres geword om vir ‘n Artes-toekenning benoem te word. Die titel lied het ook haar grootste treffer geword. Sy het in hierdie tyd gereeld vir die troepies op die grens van die destydse Suidwes-Afrika gaan sing. In 1981 het sy haar derde langspeelplaat, “Vrou Alleen”, vrygestel, en haar weergawe van die liedjie “Stille Rivierstroom” het ‘n gewilde radio treffer geword. Haar opvolg langspeelplaat, “Love Will Find A Way”, is in 1986 vrygestel en is vir ‘n Scotty-toekenning benoem.

Maritza het in hierdie tyd ook gereeld op televisie verskyn in programme soos “Teletreffers”, “Koffiehuis”, “Sing Country” en “Keep It Country”, en sy het by Lance James se Country-vertonings begin optree saam met bekende kunstenaars soos Clive Bruce, Tommy Dell, Ken Mullen en Bobby Angel. In 1989 het sy die langspeelplaat “Jy Is ‘n Ster” vrygestel.

Nadat sy vir ‘n aantal jaar uit die kollig verdwyn het, het Maritza in die 2000s weer aktief begin optree, en sing nog steeds op ‘n gereelde basis. Sy woon in Die Wildernis.

Hierdie liedjie is vanaf die album “Maritsa” wat in 1976 uitgereik is. Haar naam is hierop verkeerd gespel, aangesien sy eintlik as “Maritza” bekendstaan. Al die liedjies op die album is geskryf deur Ray Chord.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.