André le Roux du Toit is op 5 November 1954 in Kaapstad gebore. Sy ma was ’n onderwyseres en sy pa ’n maatskaplike werker, en die gesin het gereeld verhuis sodat Koos op Riversdal, in die Paarl, Wellington, Kuruman, Bellville, Stellenbosch en in Pretoria grootgeword het. Op Stellenbosch was hy in Paul Roos Gimnasium in dieselfde klas as Etienne van Heerden, en in 1972 het hy matriek aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria geslaag.
Na skool het hy Nasionale Diensplig voltooi waarna hy vir twee jaar lank aan die Universiteit van Pretoria studeer het. Hierna het in Johannesburg gewoon waar hy ondermeer polisse verkoop het, vir Kentucky Fried Chicken en by pizza restaurante gewerk het, ‘n brandweerman, bankkassier, staatsamptenaar en selfs ‘n fortuinverteller was – maar nooit vir lank nie want in wese was hy ‘n swerwer wat die land deurkruis het. Koos het in daardie tyd ook begin om kortverhale vir Huisgenoot te skryf, met “My Pa Se Huis” wat reeds in 1979 verskyn het. In 1980 het die uitgewery Skoppensboer van sy poësie in die digbundel “Brêkfis Met Vier Gepubliseer” en sy eerste roman, “Somer II”, waarin hy gek skeer met die rolprent “Somer”, het in 1985 verskyn. Hierna het hy ‘n groot aantal boeke, gedigte, kortverhale en romans gepubliseer, met die mees onlangse publikasie wat in 2018 verskyn het.
Koos se loopbaan in musiek het met ‘n ompad ontstaan met veral Anton Goosen, sy mentor, wat ‘n beduidende invloed hierop gehad het. Koos se eerste album, “Ver Van Die Ou Kalahari”, is in 1987 slegs op kasset uitgereik en het liedjies soos “Bar Op De Aar” en “Lalie” opgelewer. Hierna het hy betrokke geraak by die alternatiewe beweging saam met kunstenaars soos Ralph Rabie (Johannes Kerkorrel) en James Phillips (Bernoldus Niemand) en is van sy liedjies ingesluit op die ikoniese langspeelplaat “Voëlvry – Afrikaanse Musiek Vir Vandag” wat in 1988 verskyn het. ‘n Jaar later is sy eerste solo langspeelplaat “Niemandsland” uitgereik wat trefferliedjies soos “Lisa Se Klavier” en “Onder In My Whiskyglas” opgelewer het. Sedertdien het Koos ‘n groot aantal albums die lig laat sien met “Langpad Na Lekkersing” wat so onlangs as 2017 verskyn het.
Nadat hy vir baie jare deur die land geswerf het, dikwels soos ‘n boemelaar geleef het en gereeld in vriende se kombuise gewoon het (en sodoende die naam Koos Kombuis aangeneem het), het hy in 1996 sy vrou, Esné Verster, op ‘n trein na die KKNK in Oudtshoorn ontmoet en het hulle die jaar daarna huis opgesit in Gordonsbaai. Koos skryf steeds en tree ook nog gereeld op.
Hierdie liedjie is in 1989 op solus sewe uitgereik as die B-kant van “Lisa Se Klavier”.
