Johan van Rensburg & Die Alabama-Ritmegroep – He ain’t heavy, he’s my brother

Suid-Afrikaanse groep wat deur Johan van Rensburg gestig is terwyl hy musiek regisseur van die Alabama Studentegeselskap was. Lede:

1. Johan van Rensburg – klavier
2. Rudi van Eldik – tromme
3. Louis van Rensburg – ritmekitaar (Johan se broer)
4. Koos Lessing – baskitaar

Johan Janse van Rensburg is op 2 Oktober 1944 in Potchefstroom gebore waar hy aan die Hoërskool Gimnasium matrikuleer het. Hy het privaat musieklesse geneem terwyl hy op skool was, en het op die ouderdom van sestien in sy pa, Ivan van Rensburg, se Astra-orkes begin speel. Hy het reeds in sy matriek jaar ‘n ad hoc-lid van die Alabama Studentegeselskap van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) geword, en het as eerstejaarstudent ‘n volwaardige lid van die groep geword. Vanaf 1967 tot 1973 was hy die musiek regisseur van Alabama en het hulle onder sy bekwame leiding landwyd bekend geword met hulle optredes, en het hulle ook ‘n groot aantal plate en CDs uitgereik. Nadat hy die grade B. Mus. en Hons. B. Mus. aan die PU vir CHO behaal het, is hy as musiek dosent aangestel.

Johan het vir Rina Hugo, wat ‘n lid van Alabama was, op universiteit ontmoet en hulle is op 27 Maart 1971 getroud. In 1973 het Johan en Rina vir twee jaar na Boston in die VSA vertrek waar hulle hul musiekstudies voortgesit het en Johan die “Professional Diploma in Arranging and Composition” aan die Berklee College of Music met lof behaal het. Met hulle terugkeer na Suid-Afrika het hy Elektroniese Musiek as vak aan die Departement Musiek van die PU vir CHO ingestel. In 1980 het hy by SAUK-TV aangesluit as musiek regisseur waar hy hom beywer het vir die bevordering van ligte Afrikaanse musiek deur programme soos Platepraatjies en Teletreffers die lig te laat sien. In 1991 het hy SAUK-TV verlaat om die televisie maatskappy, Stemmburg Televisie, saam met sy kollega, Johan Stemmet, te stig. Hulle het verskeie programme vir die SAUK vervaardig, onder andere die talentkompetisie, Debuut, en natuurlik die baie gewilde musiekprogram, Noot vir Noot. Johan was ook vir baie jare die leier van die orkes, Musiekfabriek, wat musiek vir Noot vir Noot verskaf het.

Reeds in 1970 het hy die Alabama-Ritmegroep gestig en het hulle in dieselfde jaar die langspeelplaat, Johan van Rensburg en die Alabama-Ritmegroep op die RPM-etiket uitgereik, en in 1994 het hy as solo kunstenaar die album, “Die Têkkie-Rag”, op CD vrygestel. Hy het dit in 2014 opgevolg met “Têkkie-Rag Twee”. Tydens sy lang en roemryke loopbaan het Johan ‘n groot aantal toekennings en pryse ontvang, en is hy die trotste is op Kanseliers-medalje van die Noordwes-Universiteit wat in 2015 aan hom toegeken is.

In 2012, op die ouderdom van 67, het Johan besluit om uit te tree en het hy en Rina in die Midstream Landgoed in Centurion, Pretoria, gaan aftree. Hulle het hierna gereeld by kerke en aftree oorde opgetree ten bate van die Christelike Seemansorganisasie, totdat Covid 19-inperkings ‘n einde hieraan gebring het. Deesdae werk hy saam met ‘n Alabama-vriend, Abri le Roux, aan ’n nuwe Afrikaanse musiekblyspel genaamd “Sigeuners” wat hulle hoop om volgende jaar in Pretoria op te voer.

Hierdie liedjie is vanaf die album “Johan van Rensburg & Die Alabama-Ritmegroep” wat in 1970 uitgereik is. Die album is in 1974 heruitgereik as “Keyboard-A-Go-Go” deur Johan van Rensburg & The Alabama Rhythm Group.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.