Jimmy Rayson met Dan Hill & Sy Orkes – Stoppie

James Richard William Rayson is op 13 Desember 1923 in Wynberg, Kaapstad gebore waar sy pa werksaam was by die destydse Spoorweë & Hawens. Die familie het later verhuis na Mosselbaai waar Jimmy in skoolkonserte en tydens byeenkomste van die debatsvereniging gesing het. Na matriek het hy aangesluit by die Weermag en het tydens die Tweede Wêreldoorlog in Noord-Afrika en in Italië geveg. Nadat hy ‘n handelskursus aan die Johannesburgse Kunsskool voltooi het, het hy as ‘n grafiese kunstenaar vir ‘n bekende reklamemaatskappy begin werk. In hierdie tyd het hy ook besluit om ‘n musiekloopbaan te begin en het in 1945 sy eerste plaatopname as ‘n duet saam met Marie Basson gemaak, met ‘n bloedjong Nico Carstens en sy Orkes wat hulle op die 78-spoed plaat begelei het.

In hierdie tyd het Jimmy en Nico Carstens beide by die baie bekende orkes van Hendrik Susan aangesluit, en toe die bekende Walliese komponis en skrywer, Ivor Novello in 1947 met sy toneelstuk “Perchance To Dream” in Suid-Afrika kom toer het, het Jimmy ‘n rol daarin losgeslaan toe dit in die bekende His Majesty’s Theatre in Johannesburg opgevoer is. Hierna het hy ook in toneelstukke soos “Oklahoma”, “Annie Get Your Gun” en “Bless The Bride” rolle vertolk, en het gereeld saam met Dan Hill se orkes begin sing in ‘n bekende hotel in Johannesburg. Toe Nico Carstens in 1951 die orkes van Hendrik Susan verlaat het om sy eie orkes te stig, het Jimmy aanvanklik by hom aangesluit, hoewel hy later besluit het om ‘n solo loopbaan te volg. Hulle verbintenis met optredes en talle plaatopnames het egter vir nog 18 jaar geduur.

Jimmy het hierna sy eie orkes, die Jimmy Rayson Combo, begin met die bekende kunstenaar, Eddie Eckstein, wat later lid geword het van Die Bats, wat aanvanklik ook ‘n lid was van dié orkes. Jimmy was in ‘n japtrap ‘n baie gewilde vermaaklikheidster, gesogte sanger en briljante orkesleier, wat met sy orkes kunstenaars soos Vasco Cordoni, Virginia de Jager (Lee), Artemis Hill, Zona Visser en Maureen Donne by “Ciro’s” en die ewe bekende “His Majesty’s Cellar” begelei het. Hy het ook rolle vertolk in rolprente soos “Hoor My Lied”, “Dingetjie Is Dynamite” en “Olie Kolonie”.
Tydens sy loopbaan het hy opnames gemaak met meeste van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars en orkeste, en het selfs ‘n aantal kinderplate saam met Doris Brasch uitgereik. Hy het ook die tema lied van die baie gewilde Springbok Radio program “Hospitaaltyd” gesing, met almal wat sekerlik die bekende lirieke “Daar’s ’n lied en ’n glimlag vir jou, in Hospitaaltyd onthou, deur die wolke van grys en blou, in Hospitaaltyd onthou” sal onthou. Die liedjie is deur die radio en televisie legende, Bob Courtney, gekomponeer.

Jimmy Rayson het later jare saam met die bekende radio-omroeper, Mervyn John, ‘n reeks platewinkels in Johannesburg begin en het ook die hotelbedryf betree toe hy ‘n restaurateur en hotelbestuurder geword het. In 1993 het hy in Port Elizabeth gaan aftree waar hy op 22 September 1998, in die ouderdom van 74, oorlede is.

Hierdie liedjie is in 1960 vrygestel op die album “Lig En Luimig”.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.