Catherina Johanna Susanna Viljoen is op 20 Januarie 1946 in Johannesburg gebore en het aan die Wes-Rand groot geword in ‘n musikale familie. Sy was van kleins af baie lief vir sing, maar was reeds getroud en het ‘n gesin gehad toe sy besluit het om ‘n loopbaan as sangeres te volg. Een van haar dogters het ‘n demonstrasie-opname gemaak en by Hansie Roodt gaan afgee, en hy was so beïndruk met haar stem dat hy dadelik vir haar ‘n plaatopname gereël het by Meteor Plate in Johannesburg. Haar eerste langspeelplaat “My Best Friend” is in 1977 uitgereik, en was die begin van ‘n baie suksesvolle loopbaan wat tot vele meer albums sou lei. Hoewel sy dikwels aanbiedinge ontvang het van groter platemaatskappye om ook Country- en Afrikaanse musiek op te neem, het sy ‘n persoonlike besluit geneem om haar stem aan die Here toe te wei en slegs geestelike liedjies op te neem, ‘n besluit wat sy tot vandag toe getrou nakom.
Sy het na haar eerste plaat bykans elke jaar ‘n nuwe album uitgereik, en het in 1982 saam met die room van S.A. se Country kunstenaars voor duisende mense opgetree tydens die reuse Springbok Carling Keep It Country Show in Johannesburg. Cathy was in 1984 ook die eerste kunstenaar wat Koos du Plessis se liedjie, Gebed, opgeneem het, nadat hy op 15 Januarie 1984 naby Krugersdorp in ‘n motorongeluk oorlede is en dus nie self die geleentheid gehad het om dit op te neem nie. Op haar 1991 album, Die Nuwe Jerusalem, het Herbie Van Zyl (van Herbie & Spence) vir haar vyf splinternuwe treffers geskryf, o.a. Hy Leef! en Ek Sal Jou Nooit Verlaat.
Cathy was die heel eerste geestelike kunstenaar wat benoem is vir die destydse Sarie-toekennings, en het ook ‘n aantal Melodie-toekennings ontvang vir haar geestelike country treffers. In 2009 is haar liedjie, Mercy Walked In, aangewys as die Top 10 Treffer van die jaar, sowel as die Country Gospel Treffer van die jaar. Een van haar heel grootste treffers is egter haar eie komposisie, My Best Friend, wat so gewild was dat sy dit ook in Afrikaans oorgeskryf en opgeneem het as Een Ware Vriend. Die Engelse weergawe is deur talle ander sterre soos Bles Bridges, Lance James en Sally Vaughn opgeneem.
Cathy, wat in Januarie 77 jaar oud sal word, tree reeds vir 46 jaar professioneel op en het al meer as 30 albums vrygestel, en is tydens haar loopbaan vereer met verskeie goue-, platinum- en dubbelplatinum toekennings. Sy het onlangs haar treffer, Jesus Gee Krag, heropgeneem in duet met Manie Jackson, en het daarmee bewys dat haar stem nog net so sterk en suiwer is soos toe sy dit oorspronklik in 1988 opgeneem het.
Cathy het vir baie jare in Johannesburg gewoon voordat sy na Randfontein verhuis het, maar woon deesdae in Hekpoort, sowat 57km vanaf Johannesburg.
Hierdie liedjie is in 1989 op die album “Kersfees Met Cathy Viljoen” uitgereik.
