Geskiedenis 31 Augustus
Die epiese stryd tussen Boer en Brit iets meer as ’n eeu gelede vorm die agtergrond van die geroemde musiekblyspel Ons vir Jou Suid-Afrika, geskryf deur Deon Opperman in samewerking met Sean Else, met musiek deur Johan Vorster. Vanweë die suksesvolle speelvakke van die stuk in die Staatsteater in Pretoria, is dit geleë dat ook jong Suid-Afrikaners breedvoerig vertel moet word van die uiters belangrike gebeurtenis in ons geskiedenis wat hom van 1899 tot 1902 afgespeel het. Sonder enige kennis van die Anglo-Boereoorlog kan die verhaal van ons land immers nooit ten volle verstaan word nie…
Die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902
Deel 1:
Die oorsake en die eerste maande
Hier is die volle verhaal van hoe Suid-Afrikaners van alle groepe, wit en swart, in die epogmakende Anglo-Boereoorlog ingesleur is… met vertellings oor die besonge, en onbesonge, helde van die bloedige stryd…
Die eerste paar maande van die oorlog tot met die koms van die 1900’s word in hierdie deel behandel. En ons kry ’n vars blik op dié gebeurtenis wat so lank net as ’n “witsmansoorlog” beskou is. In werklikheid is wit en swart saam in die bloedige stryd ingesleep, met geweldige opofferings, lyding en ontberings vir Suid-Afrikaners van alle groepe…
Foto’s waarvan bronne nie aangedui word nie, kom uit diverse bronne waarvan die kopiereg van die beeldmateriaal weens verjaring verval het
BO: ’n Boerekommando op trek in die aand.
Foto: Drie Eeue, vol. 4, Nasionale Boekhandel, 1953 (gewysig)
DIT was deur ’n botsing van onversoenbare ideale. Vandag, meer as ’n eeu later, kan ons met heeltemal ander perspektiewe daarop terugkyk.
In hierdie aflewering, die eerste in ’n reeks, word die oorsake en eerste paar maande van die oorlog behandel. In ander aflewerings sal die verdere geskiedenis vertel word. Maar daar word ook gekyk na wie die vegters was… en na die onbesonge helde van die oorlog.
Só het dit maar onlangs eers werklik bekend geword watter belangrike rolle ook swart mense in die oorlog gespeel het.
Die politieke en ekonomiesestruwelinge wat tot die Anglo-Boereoorlog gelei het
DIT was die laaste helfte van die negentiende eeu en die Britse imperialisme was op sy hoogtepunt—ook die droom om Afrika te verower, om die Britse vlag letterlik van die Kaap tot Kaïro oor hierdie vasteland te laat wapper.
Die Kaapkolonie was natuurlik lank reeds Britse besit, ook Natal was Britse gebied, maar die groot vlieg in die salf vir die Britte was die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal). Met sy ryk goudvelde en strewe na volkome onafhanklikheid het die Z.A.R.—en die ander Boere-republiek, die Vrystaat—die Britse oppergesag in Suid-Afrika met hardnekkige teenstand uitgedaag.
’n tyd van goud en glorie. Dit was ook ’n tyd van bitterheid en nyd. Toe het dit uitgeloop op ’n bloedige stryd wat nie net die aangesig van Suid-Afrika onherroeplik sou verander nie, maar wyd en syd oor die aardbol belangrike reperkussies sou hê.
Die Anglo-Boereoorlog (ook die Tweede Vryheidsoorlog genoem) is, soos alle oorloë, veroorsaak
BO: Vegtende Boere tydens die eerste groot militêre kragmeting tussen Boer en Brit (die sogenaamde Eerste Vryheidsoorlog van 1880-’81), soos hulle 1881 in die Illustrated London News uitgebeeld is. Hoewel dit ’n oorlog genoem word, was dit ’n beperkte kragmeting met sporadiese gevegte, wat slegs ’n week of tien geduur het. Die Boere, wat verwoed om hul onafhanklikheid geveg het, het geen leër gehad nie en die weerbare manne in die verskillende distrikte sou hulle bloot in kommando’s organiseer en hul eie offisiere kies. Elke man het sy eie geweer, gewoonlik ’n jaggeweer, en sy eie perde gebring. Brittanje het inskiklik geraak en ’n wapenstilstand beveel toe dit blyk dat die Britte die Boere nie sonder aansienlike militêre
ingryping, en koste, sou kon oorrompel nie. Die ontdekking van goud in 1886 aan die Witwatersrand sou Brittanje egter met hernieude groot belangstelling na Transvaal laat kyk…
Ná die eerste groot kragmeting tussen Boer en Brit in die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881), toe Brittanje moes bes gee omdat hy besef het dat hy die Boere nie sonder aansienlike militêre betrokkenheid sou kon oorwin nie, probeer Brittanje nietemin om die twee republieke sover moontlik met Britse gebied te omring. Hy wil hul verbinding na die see en die buitewêreld afsny om hulle só tot onderworpenheid te probeer dwing.
Transvaal word aan sy wesgrens ingesluit deur die anneksasie van die republieke Stellaland en Gosen in 1885, en aan sy suidoostelike grens deur die anneksasie van Zoeloeland en uiteindelik ook die hele kus tot aan die Mosambiekse grens. Net deur die Portugese hawe Delagoabaai het Transvaal se pres. Paul Kruger nog ’n poort na die see. In 1895 word ’n spoorlyn soontoe voltooi, wat die ekonomiese struwelinge in Suid-Afrika vererger.
Vir die Kaapkolonie se eerste minister en Suid-Afrikaanse voorvegter vir die Britse imperialisme, Cecil John Rhodes, lyk dit of sy wens dat die Britse vlag oor die ganse Suid-Afrika sal wapper ’n blote lugkasteel gaan bly. Hy gebruik dus aan die einde van 1895 die griewe van die Uitlanders in Transvaal om dr. Leander Starr Jameson uit Betsjoeanaland ’n inval in Transvaal te laat doen.
Die inval misluk egter heeltemal. Maar die Britse eise hou nie op nie. Hulle dring aan op die toekenning van burgerregte aan die Uitlanders, soos die vreemdelinge genoem is wat die Z.A.R. binnegestroom het ná die ontdekking van goud aan die Witwatersrand.
Dog pres. Kruger en uiteindelik ook pres. M.T. Steyn van die Vrystaat reken dat dit nie werklik om stemreg gaan nie, maar om die onafhanklikheid van die Boererepublieke.
Toe verdere eise in September 1899 gestel word, antwoord Kruger met ’n ultimatum. Dit verstryk op 11 Oktober 1899 en die oorlog breek uit.
Die begin van die oorlog en wie daarin geveg het
DIE krygswet word in Transvaal afgekondig en pres. Steyn roep in die Vrystaat sy burgers op om te veg. Die Vrystaters is daartoe verbind om die Transvalers te steun ingevolge ’n politieke verdrag wat hulle in 1897 gesluit het. Daarvolgens sou die twee Boererepublieke mekaar steun indien hul onafhanklikheid bedreig word.
Die kommando’s begin beweeg na die vyf gevegsfronte wat in die begin van die oorlog ontstaan: Noord-Natal, die Basoetolandse grens tot nagenoeg by Oranjerivierstasie, die Vrystaatse wesfront, met Kimberley as middelpunt, die Transvaalse wesfront, met Mafeking as middelpunt, en die Transvaalse noordfront.
Die Boeremagte word mettertyd ’n volksleër waarin seuns van net agt, nege jaar sy aan sy met hul pa’s veg en selfs met grysaards van oor die sewentig. In die hele oorlog veg sowat 52 000 Boere van tussen agttien en sestig jaar—30 000 uit Transvaal, 20 000 uit die Vrystaat en 2 000 Kaapse en Natalse rebelle.
In die begin van die oorlog is daar egter hoogstens 35 000 onder die wapen. Hierdie leër kom algaande teen ’n groot Britse oormag te staan, wat teen die einde van die oorlog altesame 448 725 man tel.
Maar weens eensydige beklemtonings in die geskiedskrywing is die aandeel van ander belangrike deelnemers (en slagoffers) van die oorlog tot betreklik onlangs nog so te sê vergeet. Só het dit ’n tyd gelede maar eers wyd bekend geword dat swart Suid- Afrikaners in groot menigtes by die stryd betrokke geraak het, al is die oorlog algemeen as ’n “witsmansoorlog” voorgestel en al het sowel die Boere as die Britte aanvanklik saamgestem dat dit nie van swart mense vereis sou word om die wapens op te neem nie.
Jan Christiaan Smuts, die Boere-generaal, het immers ook geskryf dat “die saak vir die beskawing in Suid-Afrika vereis dat swartes nie opgeroep of betrek sal word by rusies tussen blankes nie”.
Maar by nadere ondersoek blyk dit dat albei kante reeds van die begin van die oorlog af swaar op swartes gesteun het vir ondersteunende dienste. Swart mense het trouens ’n onmisbare rol in militêre operasies gespeel en geweldige verliese gely. Hulle het goedere vervoer, loopgrawe gemaak, na die perde omgesien, boodskappe gedra en versterkings opgerig.
Baie Boere-kommando’s is vergesel deur swart agterryers wat hulle te perd gevolg het. Dié was gewoonlik persoonlike bediendes wat hul werkgewers sou bystaan deur vir dié se perde te sorg, hul gewere skoon te maak en te laai en dies meer.
In die loop van die oorlog is nagenoeg 100 000 swart mense in verskeie hoedanighede deur die Britse magte aangestel, terwyl minstens 10 000 swart mense die Boere-krygers vergesel het. Swart verkenners het hulle byvoorbeeld onderskei in die versameling van inligting vir altwee die strydende magte.
Die eerste maande van die oorlog tot by die begin van die 1900’s
DIE Boere-kommando’s, swak toegerus, kwalik slaggereed en met min krygservaring, knoop die stryd aan teen ’n goed toegeruste, gedugte en ervare oorlogsmag. Tog het die Boere ’n voorsprong deurdat hulle die klimaat en terrein van hul vaderland goed ken. Boonop is hulle knap ruiters wat ook ’n bars kan skiet.
Aanvanklik is die getalle van die strydende magte nagenoeg gelyk met sowat 27 000 Britse soldate wat rondom die Boere-republieke saamgetrek is, in afwagting van versterkings van oorsee. Meer as die helfte van die Britte is in Noord-Natal en die res yl versprei oor die Kaaplandse sleutel-spoorwegaansluitings — Stormberg, Noupoort, De Aar en Oranjerivierstasie.
By Mafeking en Kimberley wag Britse sametrekkings op ’n Boere-aanval. Met 16 560 man val Piet Joubert, die Transvaalse kommandant-generaal, Natal binne. Genl. Piet Cronjé ruk weer weswaarts op met sy hoofmag van 5 000 en die beleg van Mafeking begin.
Genl. Piet Cronjé.
Alles verloop egter sonder dringende haas. Dit lyk nie juis of die Boere-leiers reg besef dat hulle binne die eerste weke hard en genadeloos moet slaan om sukses te verseker nie, voordat die Britse versterkings en toerusting onophoudelik oor die see na Suid-Afrika begin stroom.
Die eerste suksesse van die Boere in Natal word by Dundee en Modderspruit behaal en die magte van sir George White, ’n vername en ervare Britse aanvoerder, word teruggedryf na Ladysmith, wat omsingel word. Skielik is vyf sesdes van alle Britse troepe in Natal deur die Boere vasgekeer.
Terselfdertyd begin die Boere-magte Kimberley insluit en word Cecil Rhodes self in die diamantstad vasgekeer. Die Boere-kommando’s aan die Oranjerivier word aangesê om die Kaapkolonie binne te val en in die eerste twee weke van November 1899 word verskeie Kaaplandse distrikte onder krygswet geplaas. Hier en elders is daar ’n wydverspreide rebellie van Kaapse burgers wat die Republikeinse magte steun.
Metdat die opperbevelhebber van die Britse magte, genl. sir Redvers Henry Buller, in Kaapstad aan wal stap, besluit hy dadelik om die gety in Natal te gaan probeer keer. Die Boere veg nou aan alle fronte op Britse gebied en sal dit byna vier maande lank nog doen. Tog het hulle reeds te lank getalm met ’n vinnige opmars om nog ’n goeie kans in die ongelyke stryd te hê.
Toe Buller in Natal aankom, is die Boere self op die terugtog om die Britte noord van die Tugela in te wag. Die beleg van Mafeking pen duisende burgers aan genl. Cronjé se wesfront vas, en die suidelike front is bloot ’n defensiewe maatreël deur die Boere-magte in die Kaapkolonie om Britse troepebewegings te stuit.
Genl. J.D.P. French verskyn by Noupoort om die Colesberg-front aan te pak, nadat die Boere Colesberg beset en Aliwal-Noord en Burgersdorp binnegery het op pad na Stormberg. Op 21 November begin genl. Paul Methuen met 9 000 man ook van die Oranjerivier langs die spoor na Kimberley opruk, en in Natal maak genl. Buller hom gereed om die Boerelinies aan weerskante van Colenso aan te durf.
Genl. Paul Methuen.
Foto: Britse Museum.
Methuen raak drie keer slaags met die Boere. Die derde keer, nadat genl. Cronjé en genl. Koos de la Rey hulle by kmdt. Jacobus Prinsloo aangesluit het, word Methuen by die sameloop van die Modder- en Rietrivier deur die 3 000 Boere gefnuik. Maar ná hierdie afweerslag trek genl. Cronjé onnodig terug na Magersfontein, terwyl Methuen twaalf dae lank by Modderrivier rus.
Hierna, in die tweede week van Desember 1899, volg die “Swart Week” vir die Britse magte: hulle ly drie vinnig opeenvolgende nederlae aan die sentrale en westelike front en Tugela-front. Op 10 Desember ly genl.-maj. sir W.F. Gatacre swaar ongevalle by Stormberg ná ’n mislukte nag-opmars teen Vrystaters en rebelle onder genl. J.H. Olivier.
Twee dae later word Methuen se frontaanval teen die Boere-stellings by Magersfontein afgeslaan, waar 8 000 Boere onder genl. Cronjé en genl. De la Rey in loopgrawe voor die rantjies ingegrawe was sodat hulle laag oor die vlakte kon vuur.
Buller word op 15 Desember deur ’n steeds swaarder slag aan die Tugela getref. Ná die ontstellende nuus van Stormberg en Magersfontein besluit hy tot ’n frontaanval teen die stellings van genl. Louis Botha, wat die bevel van die siek genl. Joubert oorgeneem het. Buller moes deur die Boerelinies kom om Ladysmith te ontset, maar die byna ses uur lange aanslag van 23 000 Britte met 42 kanonne word bloedig afgeslaan, en die 5 000 Boere dwing Buller om met 1 000 ongevalle en die verlies van tien kanonne terug te trek.
Tog is dinge aan die verander, met besliste en verskerpte optrede deur die Britse weermagsleiers. Twee Britse divisies is reeds ter see en ’n derde byna gereed. In Januarie 1900 word Buller as opperbevelhebber vervang deur veldm. lord Frederick Sleigh Roberts, ’n beroemde Britse militêre strateeg. As stafhoof kry hy lord Horatio Herbert Kitchener, ’n militêre organiseerder van formaat.
Lord Roberts.
Hy is deur die Britte “lord Roberts of Kabul and Kandahar” genoem, vanweë sy militêre suksesse in dié plekke in Afganistan. Die spitsvondige Boere het spottenderwys van hom gesê: “Hy is miskien lord Roberts van Kan-daar (Kandahar), maar hy is nie lord Roberts van Kan-hier nie!” En tog het sy koms na Suid-Afrika niks goeds vir die Boere voorspel nie.
Van die oomblik dat die twee Britse lords in Suid-Afrika voet aan wal sit, is dit duidelik dat daar ’n radikale verandering gaan wees in die manier waarop die oorlog gevoer word. Kort voor lank, byna in die begin van die 1900’s, begin die gety teen die Boere dramaties keer.
Die oormag teen die guerrillas en die uiteindelike vredesluiting. In die eerste halfjaar van 1900 word die aanvanklike suksesse van die Boeremagte in verpletterende nederlae omskep… en wapper die Union Jack oplaas in altwee die hoofstede van die Boererepublieke. Die seëvierende Britte juig, maar die Boere is nog lank nie verslaan nie…
Foto’s van kanonne en Britse besetting van Bloemfontein: Drie Eeue, vol. 4, Nasionale Boekhandel, 1953. Foto’s waarvan bronne nie aangedui word nie, kom uit bronne waarvan die kopiereg van die beeldmateriaal stellig weens verjaring verval het
Die oormag teen
die guerrillas en die uiteindelike vredesluiting
In die eerste halfjaar van 1900 word die aanvanklike suksesse van die Boeremagte in verpletterende nederlae omskep… en wapper die Union Jack oplaas in altwee die hoofstede van die Boererepublieke. Die seëvierende Britte juig, maar die Boere is nog lank nie verslaan nie…
Foto’s van kanonne en Britse besetting van Bloemfontein: Drie Eeue, vol. 4, Nasionale Boekhandel, 1953. Foto’s waarvan bronne nie aangedui word nie, kom uit bronne waarvan die kopiereg van die beeldmateriaal stellig weens verjaring verval het
Roberts se oogmerk is om sy 300 000 man (vier divisies voetsoldate en die kavalleriedivisie van genl. J.D.P. French) te gebruik om Kimberley te ontset, die hoofmag van genl. Piet Cronjé uit te skakel en Bloemfontein in te neem. French glip verby Cronjé se Magersfontein-stellings en ontset Kimberley op 15 Februarie. Die Boere, wat so lank vrugteloos om Kimberley gelê het, val na Boshof terug. Kort hierna tref die eerste groot ramp die Boere: die Slag by Paardeperd, wat ’n keerpunt in die oorlog blyk te wees. Genl. Cronjé, wat te lank by Magersfontein bly sit het, besluit om langs die Modderrivier op te trek, waar hy by Vendutiedrif, oos van Paardeberg, deur die Britse magte omsingel word. Die geveg duur ’n hele aantal dae en op 27 Februarie 1900 gee Cronjé oor met 4 000 man (hoofsaaklik Transvalers).
Op dieselfde dag dryf genl. sir Henry Redvers Buller met ’n oormag van 40 000 man (teenoor slegs 5 000 Boere) vir genl. Louis Botha by Pietershoogte in Natal terug. Die weg na die beleërde Ladysmith is oop en sir George White en sy troepe word ontset.
Die ontmoedigde Boere val terug. Die hele swaartepunt van die oorlog verskuif na die Vrystaat. Die beroemde genl. Christiaan de Wet, toe hoofkommandant van die Wes-Vrystaat, probeer Roberts se weg na Bloemfontein versper, maar word deur die aanrukkende Britse kolonnes by Abrahamskraal (Poplar Grove) omsingel.
Soos talle kere daarna ontkom die merkwaardige Boeregeneraal egter sonder ’n enkele ongeval.
Op 13 Maart word Bloemfontein deur die Britte beset. Op 28 Maart sterf genl. Piet Joubert in Pretoria en word hy deur die 38-jarige Louis Botha as Transvaalse kommandant-generaal opgevolg.
Roberts se oogmerk is om sy 300 000 man (vier divisies voetsoldate en die kavalleriedivisie van genl. J.D.P. French) te gebruik om Kimberley te ontset, die hoofmag van genl. Piet Cronjé uit te skakel en Bloemfontein in te neem. French glip verby Cronjé se Magersfontein-stellings en ontset Kimberley op 15 Februarie. Die Boere, wat so lank vrugteloos om Kimberley gelê het, val na Boshof terug.
Tragedie van verwoeste plase en konsentrasiekampe… en die verskriklike ontberings van wit en swart
Bo: Een van die Konsentrasiekampe
BO: Britse troepe beset Bloemfontein op 13 Maart 1900.
BO: “Kakies” (Engelse) by Bloemfontein.
Op ’n krygsraad op 17 Maart op Kroonstad word besluit om die stryd met kleiner kommando’s, beweegliker eenhede en aanvalle op verbindingslinies voort te sit. Guerrilla-oorlogvoering sou voortaan die Boere se strydmetode word. De Wet slaan hier, daar en oral toe en sy rol as skitterende guerrilla-leier lok talle weifelaars onder die Boere terug na die kommando’s.
Roberts se volgende plan is ’n breë opmars noordwaarts van Bloemfontein af. Met meer as 100 000 man ruk die Britte uit Natal en die Vrystaat na Transvaal op, en op 31 Mei 1900 ry Roberts Johannesburg binne.
Ofskoon die Vrystaat reeds deur Roberts as die ”Oranjerivierkolonie” geannekseer is, duur die weerstand daar voort.
Roberts beskou dit as dade van rebellie teen die nuwe owerheid, en hy besluit om plaashuise af te brand in omgewings waar Boerekommando’s spoorlyne beskadig het. Mettertyd sou dié beleid tot die verbranding van oeste en die doodmaak van vee lei—’n beleid van “verskroeide aarde”.
Die Vrystaatse regering, wat reeds van Bloemfontein af na die Noord-Vrystaat uitgewyk het, versit maande lank van dorp tot dorp. Pres. M.T. Steyn van die Vrystaat voeg hom uiteindelik met sy regering by genl. De Wet en trek daarna tot die einde van die oorlog met hom saam.

Bo:Genl. Christiaan de Wet.
En toe, in Junie 1900, word die Union Jack op die Raadzaal in Pretoria gehys. Die Transvaalse regering wyk eers uit na Machadodorp, daarna na Waterval-Onder en toe na Nelspruit.
Tog het die Boere van die republieke—dié wat nie “hensoppers” was wat wou hê hulle moes oorgee nie—steeds verbete teen die Britse oormag bly veg. Soos een Boeregeneraal dit gestel het: “Ons volk gaan deur ruwe golwe van ’n onstuimige oseaan en die skuitjie kantel maar baie, maar getroue matrose gee nooit moed op nie. Doen hul dit, gaan die skuitjie onder en verdwyn die matrose vir ewig van die toneel. Hul geskiedenis hou op en hul kinders word in hul eie land vreemdelinge.”
(Die grootste gedeelte van die teks hierbo is gegrond op inligting in die boek 500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis onder redaksie van prof. dr. C.F.J. Muller. Die boek verskyn ook op CD saam met verskeie ander geskiedeniswerke in die omvangryke JLVS History Reference Library, uitgegee deur Academica.)
Anglo-Boeroorlog: etlike belangrike gebeurtenisse in die eerste maande van 1900 tot met
die besetting van Pretoria
6 Jan.: Caesar’s Camp en Wagon Hill (Platrand) by Ladysmith
word deur die Boere aangeval
10 Jan.: Roberts en Kitchener kom in Kaapstad aan
24 Jan.: Slag by Spioenkop
11 Feb.: Roberts begin met groot omvleuelingsopmars
14-27 Feb.: Buller se vierde poging om Ladysmith te ontset
15 Feb.: French ontset Kimberley
18 Feb.: Slag by Paardeberg
27 Feb.: Oorgawe van Cronjé by Paardeberg
28 Feb.: Buller ontset Ladysmith
7 Mrt.: Slag by Poplar Grove
10 Mrt.: Slag by Driefontein
13 Mrt.: Britte neem Bloemfontein in
17 Mrt.: Boere-krygsraad by Kroonstad
27 Mrt.: Genl. Joubert oorlede
31 Mrt.: Genl. De Wet lok Broadwood in ’n hinderlaag by Sannaspos
3 Mei: Roberts hervat opmars na Pretoria
11 Mei: Buller hervat opmars
12 Mei: Roberts beset Kroonstad
17 Mei: Mahon en Plumer ontset Mafeking
28 Mei: Britte annekseer Oranje-Vrystaat en hernoem dit die
Oranjerivier-kolonie
31 Mei: Roberts beset Johannesburg
5 Jun.: Roberts beset Pretoria. Die seëvriende Britte dink die
oorlog is verby, maar daar sou nog lank en bitter geveg
word…
Die ongelyke stryd, die konsentrasiekampe en, oplaas, die Vrede van Vereeniging
HOEWEL die Britte die hoofstede van die twee Boererepublieke ingeneem het, gee die Boere nie bes nie. Vir hulle is daar steeds te veel op die spel, ofskoon die stryd nou sonder bepaalde strategie voorduur. Tog word die Boeremoreel met die oorgawe van genl. Prinsloo met 4000 man verder ondermyn. En in die laaste stellingsgeveg van die oorlog, by Balmanutha, buig die dapper Boerekrygers onder genl. Louis Botha ná twee dae die knie voor die Britse oormag onder Roberts, French en Buller. Die kommando’s word egter wel gered.
Brittanje verklaar Transvaal (die Z.A.R.) op 1 September 1900 tot ’n kolonie, net soos hy dit in Mei met die Vrystaat gedoen het.
In die begin van 1901 lyk die vooruitsigte erg bedroewend vir die Boere. Die Britse oormag is oorweldigend. Om alles te kroon, verwoes die invalsmag alles wat voorkom en word die Boerevroue en -kinders en ander nievegtendes saamgebondel in konsentrasiekampe waar hulle in die haglikste omstandighede moet lewe (meer hieroor in Deel 3 van hierdie reeks).
Maar nog swig die Boere nie. Hulle moet egter steeds voor die vyand uitvlug, hoewel hulle deur nog ’n paar oorwinnings bemoedig word. Daar word selfs tot die teenaanval oorgegaan, onder meer toe genl. Jan Smuts die Kaapkolonie met ’n stropersmag binneval en, soos al dit gestel is, “die vyand in die rug aantas”. In Oktober verslaan genl. Botha vir genl. Benson by Bakenlaagte, en in Wes-Transvaal verras genl. Koos de la Rey (“die Leeu van die Weste”) vir Kekewich by Moedwil. Op Kersdag 1901 vernietig genl. De Wet ’n vyandelike kamp by Groenkop.
Bo:Genl. Koos de la Rey (“die Leeu van die Weste”).
Die gevegte het met die verloop van die oorlog al hoe minder geword. In 1902 oorrompel genl. De la Rey ’n Engelse konvooi by Ysterspruit en by Tweebosch verslaan hy vir lord Methuen in die laaste groot botsing van die oorlog en word die aanvoerder gevange geneem.
Die Anglo-Boereoorlog het die Britse nasie baie, baie meer gekos as wat ooit verwag is. ’n Pond was in daardie dae nog groot geld en daar is aanvanklik geraam dat die oorlog Brittanje £10 miljoen uit die sak sou jaag. Pleks daarvan het dit hom £228 miljoen gekos, terwyl duisende Britse soldate op die velde van Suid-Afrika gesneuwel het.
Maar dit het ook al hoe duideliker geword dat die Boere onmoontlik die ongelyke stryd sou kon volhou. Die uiteindelike vredesooreenkoms waarmee die Anglo-Boereoorlog beëindig is, sou bekend staan as die Vrede van Vereeniging.
Die ooreenkoms is op 31 Mei 1902 in Pretoria onderteken, ná beraadslagings deur Boereleiers wat op 15 Mei by Vereeniging vergader het. Transvaal (die Z.A.R.) en die Vrystaat sou hul onafhanklikheid verloor, maar die miltêre beheer sou so gou moontlik deur burgerlike bestuur vervang word. Wat meer sê, selfbestuur sou toegestaan word sodra omstandighede dit sou toelaat.
En benewens ander toegewings sou Brittanje £3 miljoen beskikbaar stel om met die heropbouing van die land te help.
Brittanje het die oorlog gewen, maar op die keper beskou, het dit hom materieel weinig indien enigiets in die sak gebring. Al wat dit gedoen het, was om die Britse invloed in Afrika te bestendig—wat volgens sekere waarnemers vir ons voordelig was vanweë die “gesofistikeerdheid” van die Britse kultuur.
Maar kort voor lank was die vier Britse kolonies verenig in die Unie van Suid-Afrika, gelei deur Boeregeneraals. Die Unie was boonop algou ook saam met Brittanje ’n gelyke vennoot in die Statebond, ’n bondgenootskap wat in 1931 duidelik omskryf is toe die Statuut van Westminster die reg van die Britse parlement afgeskaf het om wette in verband met ander lidstate of “dominiums” op te stel.
By nabetragting kan wel gevra word of die Anglo-Boereoorlog met al sy ellende en hartseer en bitterheidskepping dan werklik nodig was. Maar dan weer… oor hoeveel ander verwoestende oorloë kan dieselfde vraag gestel word?
Die lyding van die onskuldiges
Dit was die oorlog wat die begin van die einde van die groot Britse Ryk ingelui het. Brittanje is boonop regoor die wêreld veroordeel vir sy behandeling van Boerevroue en -kinders in konsentrasiekampe tydens dié oorlog. Minder bekend was dat daar ook destyds duisende swart mense in sulke kampe was—’n langverswygde, maar skrynende waarheid wat eers in die afgelope tyd wyer bekend geword het. Terwyl ’n hele geslag potensiële Afrikaners weens soveel kindersterftes in die kampe uitgewis is, het die sterftes onder swartes eweneens die hoogte ingeskiet. Soos aan die Boerekant was die meeste swart oorledenes kinders (81 persent). In hierdie artikel word gekyk na hierdie onverkwiklike episode in ons geskiedenis en die wrange nasleep wat dit nog baie, baie lank in die land sou hê. Eintlik kan ons hele twintigste-eeuse geskiedenis nie reg begryp word sonder hierdie kennis nie…
Illustrasies en foto by hierdie artikel kom uit bronne waarvan die kopiereg van die beeldmateriaal stellig weens verjaring verval het
Let wel: Sekere van die inligting by hierdie artikel verskyn ook op die Mieliestronk-werf onder die opskrif
Hoogste offers van die kinderhelde
By daardie artikel is meer foto’s oor kinderlyding.
IN enige oorlog gebeur dit altyd: daar is ’n menigte onskuldiges wat ly en sterf. En die Anglo-Boereoorlog, met sy duisende Boerevroue en -kinders, asook swart mense wat onvermydelik by die bloedige stryd betrokke sou raak, was allermins ’n uitsondering.
Trouens, veral in ’n sekere fase van die oorlog het dinge gebeur wat die destyds magtige Brittanje beslis nie tot eer sou strek nie. Dit was die Britte se instelling van die berugte konsentrasiekampe. Selfs binne Brittanje is dit in bepaalde kringe as ’n skandaal beskou en het dit geweldige beroeringe veroorsaak.
Soos dr. Ben Ngubane, gewese Suid-Afrikaanse Minister van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, op ’n keer gesê het: “Die Anglo-Boereoorlog het mense van alle groepe en rasse in Suid-Afrika betrek. Dit was nie bloot ’n ‘Anglo-Boereoorlog’ nie. Dit was ’n deel van ’n groter, eeue-oue Suid-Afrikaanse Oorlog teen kolonialisme in al sy vermommings.”
Dr. Ngubane het in Durban gepraat op ’n nasionale konferensie oor die rol van swartes in die oorlog. Min mense sal dit betwis dat daar ’n regstreekse en aktiewe betrokkenheid van swart mense was, het hy gesê. Daar word ál meer besef in watter mate swart mans, vroue en kinders in swart konsentrasiekampe ingekerker is, benewens dié waarin soveel Boerevroue en-kinders gely en gesterf het.
“Ons weet ook dat tot honderdduisend swart mense regstreeks aan altwee kante in die oorlog gedien het, in geweldige lewensgevaar,” het dr. Ngubane bygevoeg. “Hierdie mense het as voetsoldate, berede soldate, agterryers, verkenners, spioene, hardlopers en vegters gedien.”
Baie geskiedkundige ontleders sê ’n oogluikende doel van die Britse magte met die oprigting van konsentrasiekampe was om die kannie-dood-Boere se moreel te breek deur hul vroue en kinders, bejaardes en ander afhanklikes soos plaaswerkers daarheen weg te voer—al het die Britte ook met ander redes vorendag gekom oor waarom dit nodig sou wees om die mense in kampe te plaas.
Hulle het byvoorbeeld die instelling van die konsentrasiekampe probeer regverdig deur aan te voer dat dit bloot om menslikheidsredes gedoen word om die oorlog se haweloses te beskerm.
Maar uiteindelik was alles net ’n deel van die Britte se beleid van die sogenaamde “verskroeide aarde”, sê historici. Toe Brittanje besef dat die oorlog teen die Boere-guerrillas veel langer voortsleep as waarvoor hy ooit voorsiening gemaak het, moes die Boere reg in die hart bygekom word. Plaashuise moes verbrand word, gesaaides en veestapels vernietig word, alles wat oor geslagte opgebou is, moes weggeruk word uit die hand van die Boer. Ook almal wat vir hom dierbaar was, moes weggeneem word om so te ly dat hy sou knak: sy vrou, sy kinders, sy ou mense, sy werkers…
DIT het alles so militêr sober begin. Toe formele gevegte eindig en die Boere met hul guerrilla-taktiek begin, is gelas dat alle plaashuise van waar aanvalle op Britse soldate of die spoorweë gedoen was, afgebrand moes word. Maar hierby het dit nie gebly nie. Uiteindelik is talle plase ook verwoes slegs omdat Boerevegters daar in staat sou kon gewees het om voorrade en ’n betreklik veilige rusplek te bekom.
BO: Terwyl hul plaashuis op die agtergrond brand, word vroue en kinders na die konsentrasiekamp weggevoer.
Dié illustrasie wat in ’n Franse tydskrif verskyn het, toon ooreenkomste met dieskildery bo-aan hierdie artikel.
En namate die plaasmense weggevoer is, was daar naderhand ongeveer vyftig konsentrasiekampe, waarin 161 000 mense geïnterneer is. Die kampe is so ondoeltreffend georganiseer en bestuur dat hulle spoedig regoor die wêreld berug geraak het.
Mense is van die verwoeste plase af per ossewa, trollie of trein soontoe vervoer—gewoonlik in oop steenkool- of beeswaens sonder enige sanitêre geriewe—of hulle is te voet soontoe aangedryf. Hulle is “higgledy-piggledy” (hot en haar) saamgebondel, om lord Alfred Milner se woord te gebruik. En geen behoorlike reëlings is getref om hulle te huisves nie. Talle moes in die begin in die oop veld probeer regkom totdat tente—baie van dié feitlik onbruikbaar—verskaf is, of hulle is in barakke in die kampe of elders aangehou.
Selfs ’n Britse kommissie van ondersoek het bevind dat van die huisvesting, soos hulle dit gestel het, skaars geskik vir varke was.
BO: In ‘n Boere-konsentrasiekamp…
Omdat daar nie genoeg komberse, klere en ander beskerming was nie, en partykeer nie eens beddens en matrasse nie, is die geïnterneerdes, veral dié op die Hoëveld van die Vrystaat en Transvaal, aan die uiterste ontberings blootgestel wat hul kragte ondermyn het.
Die groot aantal klein kindertjies is die ergste getref. En die swart mense. Hul behandeling, vertel geskiedkundiges, was hagliker as haglik, waar hulle deur die Britte in aparte kampe aangehou is. Daar is van hulle verwag om hul eie akkommodasie op te rig en met selfs kleiner rantsoene as die geïnterneerde wit vroue en kinders tevrede te wees…
Want vir swart en wit was daar nie net hopeloos te min kos in die gevaarlik oorvol kampe nie, maar die kos wat daar was, veral vleis, suiker en meel, was aanvanklik van ’n swak gehalte. Boonop was daar geen groente, vrugte en ander noodsaaklike kosse nie. Gevolglik het die kampbewoners, veral die kindertjies, binne maande tot lewende geraamtes weggeteer.
’n Britse kampdokter het hom gedwonge gevoel om te rapporteer dat “veral die kinders weens die gebrek in die dieet vermaer en baie min krag het om teen siekte weerstand te bied”.
Die sanitasie was ook uiters onvoldoende. Daar was geen behoorlike geriewe vir die weggooi van vullis nie, en latrines was so primitief dat hulle die teelaarde van siektekieme en infeksies geword het. Die gevolg was dat siektes, veral masels, in 1901 in die kampe uitgebreek het en, omdat daar nie genoeg dokters en ander mediese sorg was nie, was daar onrusbarend baie sterftes.
Só het daar dan van die 118 000 Boeremense en 43 000 swartes wat in die konsentrasiekampe was, duisende gesterf. ’n Hele geslag potensiële Afrikaners is uitgewis, altesaam 22 074 Boerekinders en
4 182 Boerevroue, terwyl die sterftesyfer onder die swart mense op minstens 14 154 bereken word.
Hoe, vra politieke ontleders, sou ’n mens dan ook die menigte oorlewende betrokkenes kon verkwalik wat hulle agterna onwrikbaar voorgeneem het om hulle eendag, wanneer ook al, van alle onregverdige oorheersing te bevry? Al sou die begrip “bevryding” vir verskillende mense heeltemal verskillende betekenisse aangeneem het, is dit iets wat die hele gang van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in die twintigste eeu ten diepste sou bepaal.
LYS VAN KERKHOWE WAAR BOEREVROUE,-KINDERS EN OOK -MANS BEGRAWE IS WAT IN DIE KONSENTRASIEKAMPE GESTERF HET
(dit sluit nie die kerkhowe in waar swart mense begrawe is en waaroor inligting ongelukkig nie so geredelik beskikbaar is nie)
- Inligting op 7 Januarie 2013 ontvang van Dirk Schellingerhout, Uitenhage:
ALIWAL-NOORD: Naby Hoërskool in Somersetstraat
BALMORAL: Op plaas Eensaamheid langs Witbank-snelweg
BARBERTON: Munisipale begraafplaas, Gospelstraat
BELFAST: Scheeperstraat, Belfast
BETHULIE: Nuwe terrein, op dorpsgrond, Bethulie 303
BLOEMFONTEIN: Pres. Brand-begraafplaas, Presidentstraat Memorium-begraafplaas, Genl. Brandstraat
BRANDFORT: Op plaas Louvain 286
DURBAN:
- Jacobs, h/v Dudley- en Thornstraat;
- Merebank, h/v Himalaya- en Rawalpindistraat;
3 Isipingo: Naby die stasie
HARRISMITH: Munisipale begraafplaas + monument op markplein voor stadsaal
HEIDELBERG: Nuwe Munisipale begraafplaas, Jacobsstraat
HEILBRON: Munisipale begraafplaas, Hallstraat
HOWICK: Terrein van Umgeni-Instituut [sportterrein]
IRENE: Brudeweg 11, Irene
JOHANNESBURG: Turffontein, Mondeor-dorpsgebied, Malutistraat
KABUSIE: By Stutterheim
KIMBERLEY: Tuin van Herinnering, Hertzogplein, Longstraat
KLERKSDORP: Ou Munisipale begraafplaas op Spoorwegterrein
KROONSTAD: In die nywerheidsgebied, Tenthstraat
KRUGERSDORP: Munisipale begraafplaas, Luipaardstraat
MAFIKENG: 4 km van die dorp op die Vryburgpad, Sterfteregister
MIDDELBURG: 1. Ou munisipale begraafplaas, Voortrekkerstraat;
- Nuwe munisipale begraafplaas, Oranjestraat
- Kareelaan, Kanonkop
NORVALSPONT: Ongeveer 5 km onder die damwal van die H.F. Verwoerddam (Gariepdam)
NYLSTROOM: Ou munisipale begraafplaas
ORANJERIVIER-STASIE: Op die plaas Doornbult, distrik Hopetown
OOS-LONDEN: Wesbank-begraafplaas
PIETERSBURG: Agaatstraat, Nywerheidsgebied, Pietersburg
PIETERMARITZ-BURG: Commercialstraat-begraafplaas
PORT ELIZABETH: Tuin van Herinnering, Noord Einde-begraafplaas. k.kamp-monument in Lenoxstr. naby Mountweg SAP
POTCHEFSTROOM: 1. In Bailie Park; 2. Olën Park by die Rugbystadion
SPRINGFONTEIN: 1. Ongeveer 4 km buite die dorp, suidoos van die stasie;
- Kinderkonsentrasiekampkerkhof, langs dorp se lykshuis
STANDERTON: Ou munisipale begraafplaas, Bergstraat
UITENHAGE: MunisIpale grond [nas. monument ] Verwoerd-rylaan, Vanes, Uitenhage
VEREENIGING: Ou munisipale begraafplaas, Beaconfieldlaan
VREDEFORTWEG: Naby die Greenlands-spoorwegstasie
VOLKSRUST: H/v Joubert- en Laingsnekstraat, by Burgersentrum
VRYBURG: Nuwe woonbuurt, noord van die dorp
WINBURG: 1. In die ou kerkhof in die dorp, Jack Coetzerstraat 2. Vaalkop, 2 km wes van die dorp


















