Malcolm Watson is in Zambië gebore en het as kind saam met sy ouers na Suid-Afrika gekom. As tiener op hoërskool het hy sy eerste groep, The Statesmen, in Pietermaritzburg gestig, en was na skool vir 6 jaar lank lid van die baie gewilde groep, The Rising Sons. Hulle het Suid-Afrikaanse Top 20 treffers gehad met liedjies soos “How Do You Do” (1972, #4, 16 weke) en “Going Down Jordan” (1973, #7, 16 weke). Nadat hy The Rising Sons verlaat het, het hy lid geword van die groep “The Music Corporation”, maar hulle het na minder as ‘n jaar ontbind. Hierna het hy ‘n solo-loopbaan as sanger gevolg en het die naam “Mally” gebruik. Sy eerste solus sewe, “Louie Louie”, is in 1973 uitgereik en “This is sunshine music” in 1974. Na ‘n paar jaar het hy egter besluit om die vermaaklikheid wêreld vaarwel toe te roep, en eerder agter die skerms te werk.
In 1980, onder aansporing van Clive Calder en Hansie Roodt (wat geweet het hoe briljant hy met die kitaar was), het hy besluit om ‘n instrumentale plaat op te neem. Omdat hy nooit juis Afrikaans goed baas kon raak nie, en omdat sy nuwe mark juis die Afrikaner sou wees, is daar besluit dat hy ‘n masker sou dra en sy identiteit geheim sou hou. So is die Kavalier dan “gebore”. Op hierdie manier kon hy radio- en ander onderhoude tot ‘n minimum beperk en was dit dus nie nodig om Afrikaans te gebruik nie. Na 9 baie suksesvolle albums het sy gewildheid begin kwyn en het hy aan die begin van die 1990s as kunstenaar van die openbare toneel verdwyn. Sy laaste groot openbare optrede as die Kavalier was in 1989 tydens die “Keep-It-Country-Show” by die Randse Skou in Johannesburg.
As regisseur het hy ook naam gemaak en was, onder andere, een van die regisseurs van die 1991 album “Reggae, Strong For Peace”. Hy was tot onlangs nog aktief in die musiekbedryf, maar handhaaf steeds ‘n lae profiel.
Hierdie liedjie is vanaf die album “Van Toeka Tot Nou” wat in 1982 uitgereik is.
