Alabama Studentegeselskap – Dorstyd

Die Alabama Studentegeselskap se geskiedenis gaan terug na die jaar 1943, wat wêreldwyd ‘n baie stresvolle tyd was, aangesien die Tweede Wêreldoorlog toe reeds vir 4 jaar gewoed het. Om te help om die spanning op die kampus van die Potchefstroomse Universiteitskollege (afgekort as P.U.K. oftewel PUK of Pukke) te verlig het vier studente, met Barend Smith as leier, besluit om ‘n orkes op die been te bring om vermaak aan studente te verskaf. Die orkes het bekend gestaan as die PUK Alibama Boereorkes, met Alibama wat afgelei is van die naam van die boot of skip waarna daar ook in die bekende volksliedjie “Daar Kom Die Alibama” verwys word.

Met die naamsverandering na Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (oftewel PU vir CHO) in 1951, het die orkes se naam ook verander na die PU-Alabama Studente-Orkes, en is daar weggedoen met “boere” in die titel omdat die konserte ook Engelse liedjies ingesluit het. Die naam “Alibama” is ook verander na “Alabama”. In 1961 is die konsert se formaat van orkes optredes verander na operettes en ’n jaar later is die orkes na die Alabama-Studentegeselskap herdoop. Nog ‘n groot verandering het in 1967 gekom toe die bekende musikant, Johan van Rensburg, leiding van Alabama oorgeneem het en die formaat van optredes na ‘n revue-styl verander het. Johan is natuurlik al vir baie jare met Rina Hugo getroud, en hy het bekendheid verwerf as die leier van die orkes wat aanvanklik musiek gemaak het vir die bekende televisie-speletjie, Noot Vir Noot.

Alabama se eerste langspeelplaat is in 1968 uitgereik met die titel “Revue 68”, en daarna het hulle elke jaar ‘n plaat uitgereik met dieselfde titel en met net die jaartal wat verander. In 1969 is die plaat “Revue 69 Deel Een” bekroon met ‘n mini-Sarie-toekenning. Alabama het in 1975 vir die eerste keer op televisie verskyn tydens ‘n toer deur die destydse Rhodesië, en vanaf die koms van televisie in Suid-Afrika in 1976 het hulle 23 keer in hulle eie program verskyn. In 1985 het hulle ook nege vertonings voor sowat 20 000 mense in Taiwan aangebied.

In 2007 is daar besluit om te transformeer na Alabama Produksies en af te skaal na slegs 12 sangers en ‘n vierstuks-ritme-orkes. Tydens hulle gloriejare het die Alabama Studentegeselskap jaarliks sowat 60 vertonings aangebied, het hulle 31 plate en 17 CD’s uitgereik, en het hulle bekende kunstenaars soos Rina Hugo, Karin Hougaard, Anna Davel, Christa Steyn en Danie Niehaus as lede gehad.

Hierdie liedjie is vanaf die album “Revue 69 Deel Een” wat in 1969 vrygestel is.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.