André Allen is in 1941 in Kaapstad gebore as Basil Robert Schmidt. Hy het op 3-jarige ouderdom reeds begin sing, en het op 5 sy eerste uitvoering by St Bridget’s Convent in Kaapstad gelewer. Later jare het hy ook gereeld as sopraan tydens konserte opgetree by Marist Brothers Junior School. Op 12-jarige ouderdom het hy ‘n uitvoering van “Jerusalem” in die Waldorf restaurant in Kaapstad gelewer waarna hy staande toegejuig is, en op 14 het hy ‘n uitvoering van arias en ligte klassieke musiek in die styl van Mario Lanza gelewer op die Amerikaanse oorlogskip USS Midway.
In hierdie tyd het hy besef dat hy verskeie kunstenaars kon naboots, insluitend Matt Monro, Frank Sinatra, Tom Jones en Elvis Presley. Veral sy Elvis liedjies was baie gewild by konserte, en het hy gevolglik besluit om oor te skakel na ligte musiek. In 1961 het hy Springbok Radio se talentkompetisie “Hunt for talent” gewen met sy weergawe van Elvis Presley se liedjie “Such A Nite”. Sy prys was ‘n oorsese reis na Frankryk en Engeland waar hy op televisie verskyn het in die BBC se program “Juke Box Jury”, asook op ITV se “Thank Your Lucky Stars”. In hierdie tyd het hy in verskeie konserte opgetree saam met kunstenaars soos Cliff Richard, Roy Orbison, Jerry Lee Lewis, The Everly Brothers, Brenda Lee, Little Richard en die komediant Jerry Lewis. Hy was op pad na Amerika om in Dick Clark se TV-program “American Bandstand” op te tree toe hy meegedeel is dat sy ma oorlede is, en het hy dus teruggekeer na Suid-Afrika.
In 1971 is sy solus sewe “Ek Is Verlief op Jou”, met “Katarina” op die B-kant, vrygestel. Dit het in 1972 die #14-posisie op die Suid-Afrikaanse Top 20 bereik en was vir 4 weke op die treffersparade. Hy het later daardie jaar ook ‘n landwye toer deur Suid-Afrika en die destydse Rhodesië onderneem saam met Four Jacks & A Jill, die komediant Dennis McLean en die twee Nieu-Seelandse groepe Double Vision en die Greenstones. Hy het ook as akteur verskyn in Emil Nofal se rolprent “Journey to the sun” en het ‘n rol vertolk in die radio verhaal “Taxi”.
Hy het ‘n hele paar solus sewes in die jare hierna uitgereik, en het sukses gehad met die liedjie “Michaelangelo” wat in 1976 die #10-posisie op die Top 20 bereik het, en wat vir 10 weke op die treffersparade as.
André het tot en met 1986 gereeld opgetree, waarna hy hom aan die vermaaklikheidswêreld onttrek het. Hy is op 11 Oktober 2007 in Johannesburg oorlede.
Hierdie liedjie is in 1971 op solus sewe vrygestel as die B-kant van “Ek Is Verlief Op Jou”.
