Vicky – Nagtegaal

Vicki du Preez is op 2 Augustus 1946 in Westdene, Johannesburg, gebore as Vicki Groenewald. Haar pa, Nick, het sy eie orkes gehad wat gereeld by danse gespeel het, en is ook oor die radio gehoor. Vicki het vanaf die ouderdom van 3 saam met die orkes gesing. Sy het haar skoolloopbaan aan Hoërskool DF Malan in Crosby, Johannesburg, voltooi. In 1972 het sy saam met haar man en kinders in Virginia in die Vrystaat gewoon, en het vir ‘n dansorkes gesing. Sias Reinecke het haar gehoor, en het aangebied dat sy in Groep Twee se voorprogram optree. Hansie Roodt, wat ‘n lid was van die orkes, het daarna vir haar gereël vir ‘n plaatopname, en so is haar eerste solus sewe “Want Ek Is Verlief Op Jou” in 1973 uitgereik.

Die gesin het hierna na Johannesburg verhuis sodat Vicki haar loopbaan kon bevorder, en sy het saam met Dougie Finch se orkes begin sing. Bez Martin het haar in die Carlton Hotel gehoor tydens ‘n optrede, en het haar na ‘n oudisie by die SAUK genooi. Dit het gelei tot ‘n SAUK Transkripsie plaat, “Nou Soek My Hart Die Sonskyn”, wat sy in 1975 saam met Theo Erasmus en sy orkes opgeneem het. Vicki was ook een van die eerste kunstenaars wat op televisie verskyn het in programme soos Ateljee 4, Sing Country en Spies En Plessis.

In 1977 het sy by Ernest Schröder sy Jo’burg Records aangesluit, en haar eerste solus sewe, “Totsiens Auf Wiedersehen”, was ‘n groot treffer in Suid-Afrika. Dit het die #12-posisie op die Suid-Afrikaanse Top 20 bereik, en was vir 7 weke op die treffersparade. In dieselfde jaar het sy ook haar eerste kommersiële album, met dieselfde titel, uitgereik.

In 1979 het sy vir ‘n week lank by die Windhoek Skou opgetree, en met haar terugkeer het sy besluit om nie weer te toer nie, maar om eerder haar aandag aan haar gesin te wy. Sy het haar eie orkes “Vision” begin, en hulle het gereeld by danse en korporatiewe funksies opgetree. In hierdie tyd het sy ook verskeie werke gehad, onder andere by ‘n plek wat motors verkoop het, by Gold Reef City as vermaaklikheid bestuurder, en vanaf 1994 by die Johannesburgse Stadskouburg in die bemarking afdeling.

Vicki woon nog steeds in Johannesburg en tree ook nog gereeld op.

Hierdie liedjie is in 1982 op solus sewe uitgereik as die B-kant van “Oom Nols Se Jol”.

BAIE DANKIE AAN ROY VD MERWE VIR DIE LEEN VAN DIE PLAAT!

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.