Glenys Lynne – Ma-di-wo-do

Glenys Lynne Mynott is op 5 Mei 1945 in Boksburg gebore. As kind het sy ballet klasse en klopdanse geneem, en vanaf die ouderdom van 12 het sy met sanglesse by Al Preston in Johannesburg begin. Sy het haar eerste talentkompetisie, die landwye “Search For Talent”, gewen toe sy 14 jaar oud was, en haar prys was ‘n motor en ‘n besoek aan die destydse Lourenço Marques. Sy het hierna nog verskeie talentkompetisies gewen en het in 1961 tweede gekom in LM Radio se “LM Talent Parade”. Die wenner daardie jaar was ‘n toe nog onbekende Min Shaw.

In dieselfde jaar, toe sy slegs 16 was, het sy haar eerste album, “Teenage Time”, vrygestel saam met die groep The Hi-Riders. Sy het ook verskyn in die rolprent “Jy’s Lieflik Vanaand” waarin sy die liedjie “’n Bietjie Te Jonk” gesing het. Na skool het sy as ‘n snelskrif-tikster, en later as sekretaresse, by Anglo American begin werk, terwyl sy na ure saam met die Harold Roy Trio opgetree het in nagklubs en by troues. Sy het ook ‘n toer van 4 maande saam met Johnny Kongos & The G-Men deur die land onderneem. Sang was egter steeds vir haar net ‘n stokperdjie op daardie stadium.

Dit het in Oktober 1964 verander toe sy ‘n kontrak aangebied is om tydens Dickie Loader se vertonings in die Luxurama in Kaapstad op te tree saam met die groep The Zombies. Sy het so goed met The Zombies oor die weg gekom dat hulle hierna hul eie toer onderneem het as The Zombies with Glenys Lynne, en in 1965 het hulle vir Peter & Gordon tydens hulle toer deur Suid-Afrika ondersteun. In Oktober daardie jaar het hulle hulle naam verander na Four Jacks & a Jill en het een van Suid-Afrika se mees suksesvolle groepe ooit geword.

Four Jacks and a Jill het agt SA Top 20 treffers gehad:

1. Jimmy come lately – 1966, #2, 12 weke
2. No other baby – 1966, #11, 6 weke
3. The house with the white-washed gables – 1967, #20, 1 week
4. Timothy – 1967, #1, 20 weke
5. Master Jack – 1968, #1, 21 weke
6. I looked back – 1968, #14, 3 weke
7. Mr Nico – 1968, #12, 5 weke
8. Universal feeling – 1973, #11, 10 weke

In 1974 het volgehoue druk deur haar aanhangers daartoe aanleiding gegee dat Glenys haar eerste opnames in Afrikaans vrygestel het as solo kunstenaar. Sy het onmiddellik ‘n treffer gehad met “Haai Casanova” wat #7 op die SA Top 20 bereik het en vir 13 weke op die treffersparade was. Sy het later daardie jaar ook ‘n treffer gehad met “My hart het ‘n kleine venster” (#19, 3 weke) en in 1976 ‘n reuse treffer met “Ramaja” wat #1 bereik het en vir 16 weke op die treffersparade was. In totaal het sy sowat 8 Afrikaanse langspeelplate (uitgesluit grootste treffers en samestellings) en baie solus sewes uitgereik.

Four Jacks & a Jill het tydens hulle bestaan deur die hele Suid-Afrika en omtrent al die buurlande getoer, asook deur Europa, Kanada, die VSA, Nieu-Seeland, Paraguay, Brasilië en Australië. Hulle het verskeie SARIE-toekennings gewen, en Glenys Lynne het ook een ontvang as solo-kunstenaar vir “Gewildste Top 20 Kunstenaar van die Jaar”.

In 1983 het hulle ontbind, maar tree sedert 2000 weer van tyd tot tyd op. Glenys en haar man, Clive Harding, met wie sy op 1 Junie 1968 getroud is en wie ‘n lid was van die groepe “The Zombies” asook van “Four Jacks & a Jill”, woon nog steeds in Johannesburg.

Hierdie liedjie is in 1979 vrygestel op die album “Ma-Di-Wo-Do”.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.