Leonore Veenemans is op 16 Februarie 1935 op Witbank gebore as Leonora Mona Veenemans. Nes Leonore is haar suster, Barbara, ook ‘n baie bekende en gewilde operasangeres, en haar broer, Bennie, het as jong seun verskeie plaatopnames gemaak. Leonore het op skool reeds in konserte en operettes gesing. Die gesin het later na Benoni verhuis het waar Leonore die Hoërskool Brandwag bygewoon het en waar haar musiekonderwyseres, Gladys Webber, haar die grondbeginsels van sang geleer het. As hoërskoolleerling het sy ‘n talent wedstryd op Margate gewen waarna sy gereeld aan kunswedstryde deelgeneem het.
Na matriek het sy haar as onderwyseres bekwaam en het sy ‘n pos by haar alma mater, Hoërskool Brandwag, aanvaar. Vanaf die ouderdom van 21 jaar het sy haar met erns op sang toegespits en het sy studeer by Stella Cavalli, Jossie Boshoff en Joyce Barker, en ook haar sangeksamens met lof geslaag. In 1961 is sy getroud met Jan Brewis, wat visehoof by die Hoërskool Brandwag was, en ‘n dogter, Liezel, is uit die huwelik gebore.
Sy het hierna vir ses maande lank sang by Maria Hittorff in Wene studeer, en met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy die rol van Adele in Die Fledermaus vertolk. Hierna was sy in aanvraag en het gereeld in operas, operettes en musiekblyspele opgetree, onder andere The Merry Widow, Die huwelik van Figaro en Cosi Fan Tutte. Sy het ook rolle vertolk in twee rolprente, Die drie van der Merwes (saam met Franz Marx) en A New Life (saam met Gé Korsten), en het sy suksesvolle konsert toere onderneem saam met sangers soos Gert Potgieter, Rudi Neitz en Groep Twee. In 1969 het sy ‘n mini-Sarie-toekenning ontvang as die belowendste sangeres in die land, en het Liefste Madelein, wat die jaar daarna uitgereik is, haar gewildste liedjie by verre geword.
Op Vrydag, 16 Februarie 1973, het Leonore haar 38ste verjaarsdag gevier en het sy daardie aand in die Nico Malan-teater in Kaapstad opgetree in ‘n opvoering van Die vrolike weduwee. Na afloop van die vertoning het die gehoor haar staande Happy Birthday toegesing. Die volgende oggend het sy per motor teruggekeer na die Transvaal, maar naby Prince Albert Road op die pad tussen Laingsburg en Beaufort-Wes het die motor omgeslaan en is sy op slag dood.
Hierdie liedjie is in 1970 op solus sewe uitgereik as die B-kant van “Liefste Madelein”.
