Janita Claassen – Rolbos

Janita Claassen is op 30 April 1947 op Warrenton in die Noord-Kaap gebore as Janita Sarie Redelinghuys. Haar pa het in die Vaalharts-distrik geboer en sy het skool gegaan aan die Laerskool Tadcaster op Vaalharts. Haar gesin was baie lief vir musiek en het selfs hulle eie orkes gehad met haar pa wat kitaar gespeel het, haar broer die trekklavier en sy op klavier. Die gesin het later jare na Vereeniging verhuis waar Janita matriek voltooi het aan die Hoërskool Vereeniging, en daarna die graad B.A. (HOD) aan die Potchefstroomse Universiteit verwerf het. Tussen haar studies deur het sy ook sanglesse geneem in die hoop dat sy haar droom om sangeres te word sou kon bewaarheid, en het sy selfs eksamens in sang afgelê. In haar studentejare het sy die hoofrol gesing in die universiteit se opvoering van Gilbert en Sullivan se operette, “Trial by Jury”.

Nadat sy haar studies voltooi het, het sy op Klerksdorp begin skoolhou in Afrikaans en Sielkunde, en het sy ook haar aanstaande man, Nico Claassen, daar ontmoet. Later jare het sy skoolgehou by die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria waar sy ‘n sanggroep op die been gebring en selfs gedigte vir hulle getoonset het. Sy het vir bykans nege jaar lank skoolgehou.

Janita en Nic is op 26 Junie 1971 getroud en twee kinders, Hannelie en Danie, is uit die huwelik gebore. In 1976 het sy ‘n televisie-oudisie afgelê waarna sy dikwels op televisie verskyn het in programme soos die Koffiehuiskonserte, die Sasol-FAK Musiekfeeste, Musiekforum en Noot vir Noot. Haar eerste langspeelplaat, “Janita”, is in 1983 uitgereik en sy het hierna minstens nog 9 langspeelplate, waarvan ek bewus is, en verskeie CDs uitgereik. Sy het ook dikwels saam met Manuel Escorcio opgetree en hulle het twee langspeelplate as duetpaar uitgereik, “Liefde Immergroen” en “Weer Saam”. Janita het ook heelwat van haar eie liedjies geskryf, soos “Polkadraai”, “Wit aandblom” en “Oorwinter”.

In Oktober 1995 is keelkanker by haar gediagnoseer, maar na ‘n delikate operasie en bestraling het sy sodanig herstel dat sy weer kon optree. Die kanker het egter teruggekeer en sy is op 24 Oktober 2005 in die ouderdom van 58 oorlede.

Hierdie liedjie is in 1983 op die album “Janita” uitgereik.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.