Lucas Maree is op 22 Julie 1954 in Johannesburg gebore as Lucas Lodewyk Maree. Sy pa was ‘n polisieman en die gesin het ook in Springs gewoon voordat hulle na Pretoria verhuis het waar Lucas matriek geskryf het aan die Hoërskool Langenhoven. Na skool het hy die graad BA (Drama) aan Tukkies voltooi waarna hy vir ‘n tyd lank in die Dramadepartement gewerk het. Hy het hierna Nasionale Diensplig in die Lugmag voltooi waar hy was ‘n lid van die baie gewilde Lugmaggimnasiumkoor, oftewel Die Kanaries. Daarna het hy aan die Pretoriase Tegnikon ‘n kursus in film produksie voltooi waarna hy vir ‘n jaar lank by die Nasionale Filmraad gewerk, en toe vir 5 jaar by die Aula-teater as ‘n klank- en beligtingstegnikus.
Lucas het reeds op universiteit in dameskroeë en restaurante begin sing om ‘n ekstra inkomste te verdien, maar het hom toegespits op Engelse liedjies van bekende kunstenaars soos Bob Dylan, Cat Stevens en Neil Diamond. Sy eerste kennismaking met Afrikaanse musiek was toe ‘n vriend hom genooi het na Jannie du Toit se huis waar Jannie en Coenie de Villiers gereeld op Vrydagaande saam-sing-geleenthede gehou het. Lucas het hierna sy eie liedjies in Afrikaans begin skryf, met die eerste wat die liedjie “Laataand bedenking” was. Hy het toe ‘n pos as fotograaf by die Oggendblad aanvaar waar hy vir die baie gewilde sanger, Koos du Plessis, gewerk het. Deur Koos se bemiddeling het Lucas vir Nick Taylor ontmoet en het dit uiteindelik daartoe gelei dat hy sy eerste langspeelplaat, “Kiekies”, in 1985 op Nick se Inhuis-etiket opgeneem het. Tien van die elf liedjies op die plaat is deur Lucas self geskryf, met die 11de wat Lucas se weergawe is van Koos du Plessis se liedjie, “Vermiste Mense”. Die liedjie “Victoriabaai” op die plaat het hy opgedra aan sy ma Maggie wat baie lief was vir hierdie gewilde vakansieplek. Na haar dood is haar as ook hier oor die see gestrooi.
In 1989 het hy lid geword van Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek saam met Helena Hettema en Karlien van Niekerk, maar hulle politieke inslag het hom nie aangestaan nie en het hy kort daarna die groep verlaat. Hy het weer by die Aula begin werk en het in 1992 die CD “Miljoen” uitgereik, met die titelsnit wat sekerlik sy grootste kommersiële treffer geword het. “Droomvrou” vanaf hierdie album is ook baie gewild.
Lucas is in 1981 met Ilse Vosloo getroud en drie dogters, Monica, Linda en Carla is uit die huwelik gebore. Die gesin het in 1994 na Bloemfontein verhuis en Lucas het in die jare daarna nog vele albums uitgereik, met “Mot Om Die Kers” wat in 1999 die SAMA-toekenning ontvang het as beste Afrikaanse album van die jaar. In 2009 is hy met prostaatkanker gediagnoseer en is op 18 Februarie 2011, in die ouderdom van 56, oorlede.
Hierdie liedjie vanaf die album “Kiekies” wat in 1985 vrygestel is.
