Jim Muller is op 10 Februarie 1898 naby Boksburg gebore as Fergus James Muller. Sy pa was ‘n mediese dokter wat van Duitsland na Suid-Afrika geëmigreer het. Hy het van vroeg af reeds in musiek belanggestel en het homself geleer klavier speel, en vanaf die ouderdom van sewentien het hy op partytjies en danse begin speel. Hy het uit die staanspoor ook sy eie liedjies geskryf en was lief daarvoor om tradisionele wysies in sy eie komposisies in te vleg. Na skool het hy by die ERPM-myn begin werk, en het tot en met sy aftrede 35 jaar later by hulle gebly. Hy het ook sy hele lewe lank in ‘n rooi dak skakelhuisie in Boksburg gewoon.
Jim was getroud met Louisa Maritz, en 10 kinders is uit die huwelik gebore, hoewel 2 op ‘n vroeë ouderdom oorlede is. Dit was Louisa wat hom in 1938 oorreed het om ‘n oudisie by die Gallo-Platemaatskappy af te lê, en hoewel hy baie teësinnig was om dit te doen, was Eric Gallo so beïndruk met sy klavierspel dat hy hom dadelik ‘n plate kontrak aangebied het. Sy liedjies “Keurspel nr. 1” en “Keurspel nr. 2”, wat beide in 1939 uitgereik is, was blitsverkopers en soos sy liedjies gereeld oor die radio gehoor is, het hy bykans oornag bekendheid verwerf. Aanvanklik het hy slegs ‘n klavier, met begeleiding deur ‘n basviool, tydens sy opnames gebruik, maar later het Henry Jansen hom dikwels op die Hawaise kitaar begelei.
Interessant genoeg het Jim die gebruik gehad om beide liedjies op ‘n plaat (die A- en B-kant dus) dieselfde titel te gee, en oor die jare het dit baie verwarring veroorsaak, aangesien “Keurspel nr. 1” byvoorbeeld óf ‘n polka óf ‘n wals kan wees, afhangend van watter liedjie gespeel word. Nog ‘n interessante feit is dat, hoewel hy “Keurspel nr. 1” tot “Keurspel nr. 15” geskryf het, kon daar tot vandag toe nog geen teken van die oorspronklike weergawe van “Keurspel nr. 5”, wat op ‘n 78-spoed asetaatplaat uitgereik sou gewees het, gevind word nie. Die vermoede bestaan dat “Keurspel nr. 5” in 1940, tydens die Tweede Wêreldoorlog, verlore gegaan het toe ‘n Duitse duikboot ‘n Britse skip gekelder het waarop die meester opname van die liedjie was. ‘n Tweede moontlikheid is dat verwarring oor die titel kon ontstaan het, aangesien die titels in daardie jare per hand op plate aangebring is, en die “5” dalk vir ‘n “6” aangesien kon word. Hierdie is die meer waarskynlike rede, aangesien daar 4 weergawes van “Keurspel Nr. 6” bestaan (dankie aan Marius de Vos vir hierdie inset!).
Nadat hy by die myn afgetree het, het hy in 1944 die Jim Muller Korrespondensieskool vir Klavier geopen, en het voornemende klavierspelers uit alle uithoeke van die land vir die kursus ingeskryf. Weens swak gesondheid was hy egter verplig om die skool in 1953 te sluit. In 1959 het die Juweel Platemaatskappy hom oorreed om vir hulle opnames van sy bekendste liedjies te maak, en ondanks sy gesondheid het hy die langspeelplaat “Jim Muller Speel Sy Eie Komposisies” uitgereik. Dit was die laaste opnames wat hy gemaak het voordat hy op 14 Oktober 1962, in die ouderdom van 64, oorlede is.
Hierdie liedjies is vanaf die album “Jim Muller Speel Sy Eie Komposisies” wat in 1959 vrygestel is. Dis oorspronklik in 1939 op ‘n 78-spoed asetaatplaat uitgereik.
