Ronny Belcher – Ramkat

Ronald Kenneth Belcher is op 4 Oktober 1957 in Goodwood, Kaapstad gebore. Hy het op die ouderdom van vier begin sing, en het op nege die sang- en drama-afdelings van ‘n Johannesburgse kunswedstryd gewen. In matriek aan die Hoër Handelskool Tygerberg, het hy die ATKV se prys as toneelspeler van die jaar ontvang vir sy rol in die opvoering, “Die taal van ons hart”. Na matriek het hy ‘n drama-graad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, waarna hy diensplig as ‘n lid van die Weermag se vermaaklikheidsgroep voltooi het. In 1980 het hy hom in Pretoria by TRUK aangesluit en het hy rolle vertolk in, onder andere, Shakespeare se “TwaaIfde Nag” en N.P. van Wyk Louw se “Raka”.

In 1983 het hy sy debuut op televisie gemaak in die rol van Le Clue in die reeks “Fynbos”, en het hy hierna ook rolle vertolk in “Die Wel en Wee van Thys Coetzee”, Dodedans”, “Young Heroes”, “Soveel Slim Stories” en “Witgoud”. Dit was egter vir sy rol as dokter Daan Lategan in die reeks “CuI-de-sac”, wat in 1987 begin het, dat hy altyd onthou sal word.

As sanger het hy in 1988 sy eerste langspeelplaat, “Ek Is Verlief Op Jou”, uitgereik, maar het veral sukses gehad met sy tweede langspeelplaat, “Ramkat!”, wat in 1989 uitgereik is, en waarop hy die Afrikaanse lirieke vir ses van die liedjies self geskryf het.

Ronny het ook ‘n aanleg vir skilder en vir die skryfkuns gehad, en het in 1996 die digbundel, “My Hart Sing Sewe Moppies”, gepubliseer. In later jare het hy hom by die bediening aangesluit en het hy verskeie gospel CDs uitgereik. Hy is op 3 Julie 2005 op die Delmaspad, net buite Pretoria, in ‘n motorongeluk oorlede. Hy was 47.

Hierdie liedjie is vanaf die album “Ramkat!” wat in 1989 uitgereik is.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.