Hansie Roodt – Doedelsnare (bagpipe strings)

Hansie (Johannes Petrus) Roodt is op 28 Augustus 1938 in Krugersdorp gebore, en het in Carletonville groot geword. Hy het leer kitaar speel by sy pa en ouer broer, Roy, beide baie bekwame musikante. Roy het later jare ‘n solo kunstenaar in eie reg geword en het ook ‘n aantal albums uitgereik. Hansie het matriek geskryf aan die Hoërskool Carletonville, waarna hy as ‘n opnemer by ‘n myn op die dorp begin werk het. In 1962 het hy die geleentheid gekry om ‘n landswye toer saam met Al Debbo te onderneem, en het in 1964 saam met Al by Nico Carstens se orkes aangesluit. Tussen 1967 en 1979 het hy ‘n solo loopbaan gevolg, hoofsaaklik as ‘n sessie-musikant vir die SAUK en vir die EMI-platemaatskappy.

Afgesien van sessie werk in die ateljee, het hy ook kunstenaars soos Gene Rockwell, Bobby Angel, Barbara Ray, Lance James en Dan Hill tydens opnames en opvoerings begelei. In 1983 is hy aangestel as die leier van die Suid-Afrikaanse Polisie-Dansorkes wat op amptelike polisiefunksies gespeel het. In 1984 het die orkes die tweede plek in die baie gewilde TV boereorkeskompetisie behaal, en het in 1986 het hulle die kompetisie gewen.

Hansie het sy eerste solo album, “Hier Is Hansie Roodt”, in 1966 uitgereik op die Troubadour etiket, en het hierna nog vele albums op langspeelplaat en viniel uitgereik. Hy het ook baie van sy liedjies self geskryf.

Baie mense glo seker tot vandag dat Hansie die gemaskerde Kavalier was, wat natuurlik nie die geval is nie. Die Kavalier was Malcolm Watson van die Pietermaritzburgse groep “The Rising Sons”.

Hansie het in Orchards in die noorde van Pretoria gewoon tot en met sy dood op 16 September 2005. Hy was 67 jaar oud by afsterwe.

Hierdie liedjie is in 1969 op die album “Warmsnare” uitgereik.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.