Karin Hougaard – Swaeltjie

Karin Hougaard is op 21 Februarie 1964 in Burgersdorp gebore, het reeds op die ouderdom van 3 ‘n strand talentkompetisie gewen, en het tydens haar skoolloopbaan aan die Laerskool Kuswag in Oos-Londen presteer in kunswedstryde en skool operettes. Nadat haar gesin na Johannesburg verhuis het, het sy ‘n oudisie vir die Brickhill-Burke-produksie van “The Sound of Music” geslaag. Sy het haar hoërskoolloopbaan aan Die Kruin voltooi en het onderrig in kuns, musiek en ballet ontvang. In haar standerd 9 skooljaar (graad 11) in 1980, het sy die ATKV se Crescendo-kompetisie gewen en toe reeds haar merk begin maak as komponis deur die tema musiek vir die Vrystaatse Leipoldt-gedenkfees te komponeer. Na matriek is sy na die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, en was vir 2 jaar lid van die Alabama Studentegeselskap en het daarna haar eie universiteit orkes gehad het waarmee sy die land plat getoer het.

Haar eerste langspeelplaat, “Eerste Afspraak”, is in 1983 uitgereik terwyl sy nog op universiteit was, en het, onder andere, die treffers “Lui-lui telefoon” en “Swaeltjie” opgelewer. Nadat sy haar studies voltooi het, was sy kortstondig onderwyseres en daarna skakelbeampte by die Departement van Gesondheid. Haar musiek het sy deeltyds beoefen, maar toe haar tweede langspeelplaat, “Herontmoeting” met die treffer “Gly op die reënboog” in 1988 vrygestel is, het sy voltyds begin sing en deeltyds by Tukkies klas gegee in sang en vertolking. In hierdie tyd het sy ook ‘n honneursgraad in Dramakunde behaal.

Oor die volgende paar dekades het Karin gereeld op TV verskyn en landswyd getoer. Haar album “Bly”, wat in 1994 uitgereik is, was ‘n waterskeiding deurdat sy wegbeweeg het van bestuur deur platemaatskappye, het sy beheer geneem oor alle artistieke besluite en het sy haar indiwidualiteit uitgeleef, soos om kaalvoet op te tree. Haar slagspreuk was – haar eie musiek op haar manier. Karin se uniekheid en veelsydigheid het haar herbevestig as ‘n huishoudelike naam in die Afrikaanse musiekbedryf.

In 2009 het sy geëmigreer na die VSA en tree sedertdien hoofsaaklik in Europa (as sanger en aktrise), en per geleentheid ook in Suid-Afrika, op. Buiten vir die 13 albums en die groot aantal enkel snitte wat sy tot dusver uitgereik het, het sy haarself ook by uitstek bewys as ‘n digter, skrywer, aktrise en skilder, met verskeie digbundels, kortverhale, teater stukke en kunswerke wat tydens haar indrukwekkende loopbaan vrygestel is.

Al woon Karin oorsee bly sy betrokke by Suid-Afrika en is sy ondermeer ambassadeur vir die nie-winsbejag onderneming Dreamcatcher Suid-Afrika wat fokus op die ontwikkeling van volhoubare toerisme en entrepreneurskap in klein gemeenskappe soos Melkhoutfontein.

Karin Hougaard woon tans in Oak Ridge, Noord-Carolina in die VSA maar hoop om binnekort permanent terug te keer SA.

Hierdie liedjie is vanaf haar eerste album, “Eerste Afspraak”, wat in 1983 vrygestel is.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.