Kenneth McKellar (gebore op 23 June 1927) was ‘n Skotse tenoor. Hy het bosboukunde studeer aan die Universiteit van Aberdeen, waarna vir die Skotse Bosbou Kommissie begin werk het. Later jare het hy opleiding ontvang as ‘n operasanger by die Royal College of Music, maar het eerder bekendheid verwerf as ‘n solo sanger wat meestal tradisionele Skotse liedjies en ander werke gesing het. Vanaf 1957 het hy gereeld in verhoogstukke verskyn, onder andere “Old Chelsea” deur Richard Tauber, “A Wish For Jamie” en “A Love For Jamie”. Tussen 1959 en 1977 het hy gereeld deur die VSA en Kanada getoer, en het in hierdie tyd ook op BBC Televisie verskyn.
In 1966 het hy die Verenigde Koninkryk verteenwoordig by die Eurovisie Sangkompetisie met die liedjie “A Man Without Love”, wat in die 9de plek geëindig het. Die liedjie het #30 op die Britse trefferparade behaal in daardie jaar. In Oktober 1970 het hy deur Suid-Afrika getoer en het hy die album “Kuier By Ons” vrygestel.
Meeste van sy opnames was vir die Decca platemaatskappy, en hy het ook verskeie klassieke musiek werke opgeneem, insluitend Handel se “Messias” saam met Joan Sutherland. Nadat hy Decca verlaat het in die 1970s, het hy vanaf 1983 tot 1996 by Lismor Plate aangesluit voordat hy teen die einde van die 1990s uitgetree het.
Kenneth McKellar het meeste van sy lewe in Lenzie, Glasgow gewoon in ‘n huis met die naam “Machrie Mhor”. Hy is op 9 April 2010, in die ouderdom van 82 aan pankreas kanker oorlede by sy dogter se huis naby Lake Tahoe in die VSA.
Hierdie liedjie is in 1966 op ‘n verlengde solus sewe uitgereik.
