John Edmond – My Toetsie

John Edmond is op 18 November 1936 in Luanshya, Noord-Rhodesië (nou Zambië), gebore. Sy ouers was van Skotse afkoms. Hy het op verskeie plekke skool gegaan, naamlik in Luanshya, in Edinburgh (Skotland), asook by Christian Brothers College in Pretoria. Van jongs af het hy in musiek belang gestel en kon op die ouderdom van 3 reeds die mondfluitjie bespeel. Op skool het hy tromme en die beuel bemeester (sekerlik in ‘n kadetorkes…).

Na skool het hy by die Roan Antelope kopermyn in Luanshya begin werk, maar later by die Rhodesiese Leër in Bulawayo aangesluit. Dis hier waar hy vir Bill Coleman ontmoet het, en saam met Eugene van der Watt en Ian Kerr het hulle die “Bushcats Skiffle Group” begin. Na sy ontslag uit die Leër het hy by Moore Hall in England rekenaarwetenskappe gaan studeer, en daarna deur Europa getoer en in kroeë op Amsterdam se hawegebied gespeel. Met sy terugkeer na Rhodesië (Zimbabwe) het die “Bushcats” weer bymekaar gekom en in kroeë en ander plekke oral in die land opgetree.

In 1967 het John in Suid-Afrika by Greatermans begin werk as ‘n rekenaarprogrammeerder / -analis. In sy vrye tyd het hy op “folk” musiek gekonsentreer, en by bekende bymekaarkomplekke, soos “Nite Beat” en “The Troubadour” in Johannesburg begin optree. Kort daarna het hy, saam met Allan Goodwin en Stevie van Kerken (later Stevie Lange nadat sy met Robert John “Mutt” Lange getroud is) “The New Trends” begin. Hulle het twee albums vir EMI vrygestel, “The New Trends” en “Coloured Rain”, beide in 1968. Twee jaar later het hulle opgebreek en John het begin konsentreer op liedjies skryf, met baie daarvan wat deur bekende name, soos Nick Taylor, Pat Gregory, John Berks, Four Jacks and a Jill, Dave Mills, Barbara Ray, en vele ander opgeneem is. In 1969 het Terry Dempsey (een van Suid-Afrika se bekendste liedjieskrywers) hom hoor sing, ‘n platekontrak aangebied, “and the rest is history”, soos die Engelsman sê. John het sewe SA Top 20 treffers gehad:

1. Fairy tales – 1970, #13, 5 weke
2. Round and around – 1970, #13, 8 weke
3. Boom sha la la lo – 1971, #10, 10 weke
4. Every day every night – 1972, #7, 17 weke
5. Pasadena – 1972, #17, 5 weke
6. Toy train – 1973, #6, 18 weke
7. Goodbye is the saddest song – 1975, #10, 7 weke

In 1970 het John Suid-Afrika verteenwoordig by die “World Song Festival” in Japan met “Round and around”, ‘n liedjie wat deur Terry Dempsey geskryf is. Terry het op 10 Februarie 2019 tragies in ‘n fratsongeluk by die Vaaldam gesterf toe hy deur die lemme van ‘n mikro-helikopter (“gyrocopter”) getref is.

John het later jare die rekenaarbedryf verlaat, het ‘n hoofbestuurder by Gallo Music Publishing geword, nog later professionele karate gedoen, en nog later sy eie platemaatskappy, Roan Antelope Music, gestig. Hy en sy vrou Teresa het ‘n wildsplaas in die Limpopo Provinsie gekoop, en dit “Kunkuru” (Tswana vir “Roan Antelope”) gedoop. Alhoewel hy nou reeds 86 jaar oud is, tree hy nog steeds van tyd tot tyd op.

Hierdie liedjie is in 1985 op solus sewe uitgereik (en dankie aan Marius de Vos daarvoor!).

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.