Alec Debbo is op 22 Junie 1924 in Bloemfontein gebore. Sy ma was ‘n Afrikaanse nooi en ook ‘n begaafde sangeres, maar is oorlede toe hy slegs nege jaar oud was. Sy pa, Azar Debbo, was van Libanese afkoms en was ‘n winkelier in Bloemfontein. In hulle huis is Afrikaans, Engels en Arabies gepraat. Reeds van kleins af het hy die vermoë gehad om mense te vermaak deur sy oë te rol (wat aan hom die bynaam Pieringoog besorg het), en het ook buikspraak en toorkunsies aangeleer. Aanvanklik was Al by Grey Kollege op skool, en het op 15-jarige ouderdom sy eerste openbare optrede gedoen en daarna in talle skool operettes opgetree. Sy groot deurbraak het gekom toe hy op 16 saam met sy vriend Bart Oberholzer ingeskryf het vir African Theatres se talentkompetisie. Hulle was die wenners van die Vrystaat-streek, en het ‘n derde plek in die finaal in Johannesburg losgeslaan. Al het later die Excelsior Nywerheidskool op King William’s Town bygewoon en hom as loodgieter bekwaam. Nadat hy vir Hugo Keleti, Eve Boswell se pa, ontmoet het, het hy na Johannesburg verhuis en het Hugo hom die fyner kunsies geleer om ‘n vermaaklikheidskunstenaar te word.
Hy het ook vir Pierre de Wet, die bekende rolprent maker, ontmoet en dit het gelei tot ‘n akteurs loopbaan. Hy het sy debuut in 1948 gemaak in “Die Kaskenades Van Dokter Kwak”, en het hierna in ‘n groot aantal rolprente verskyn. Dit was veral die flieks waarin hy saam met Frederik Burgers opgetree het, onder andere “Kom Saam Vanaand”, “Hier’s Ons Weer” (1950), “Alles Sal Regkom” (1951), “Altyd In My Drome” (1952), “Die Avonture Van Kammie Kamfer” (1954), “Dis Lekker Om Te Lewe” (1957) en “Fratse In Die Vloot” (1958) wat baie gewild was. Al het tydens sy loopbaan in meer as 20 rolprente opgetree, asook in die televisiereeks “Attie en Joos” in 1981.
Alhoewel hy geen formele sangopleiding gehad nie, het hy ‘n baie suksesvolle loopbaan as sanger gehad. Sy groot deurbraak het gekom toe hy genooi is om saam met Hendrik Susan se orkes deur die land te toer, en het uiteindelik sewe landswye toere deur Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië onderneem, sommige met sy eie orkes en ook dikwels saam met Nico Carstens. Sy eerste plaatopname was in 1950 saam met Hendrik Susan & Sy Orkes toe “Tamatiesous En Kerriekos” op ‘n 78-spoed plaat uitgereik is. Nadat Nico Carstens in 1950 sy eie orkes gestig het, het Al kort daarna by hom aangesluit en so het ‘n lang verbintenis begin waartydens hulle baie suksesvolle liedjies uitgereik het, insluitend “Bokkie” (wat in 1950 die eerste Afrikaanse liedjie was wat #1 op LM Radio se treffersparade bereik het) en “Hasie” wat in dieselfde jaar vrygestel is. Laasgenoemde liedjie, asook baie van Al se ander gewilde treffers, is deur Nico Carstens en Anton de Waal geskryf. Al en Nico het ook 3 keer die Top 20 bereik met:
1. Baas Jack – 1968, #7, 10 weke
2. Sonbrilletjies – 1968, #7, 7 weke
3. Die tantes van Nantes – 1970, #11, 7 weke
Tydens sy loopbaan het Al Debbo ‘n groot aantal langspeelplate en solus sewes uitgereik, asook twee CDs, “Ek Lewe Nog” in 1996 en “Pieringoog Potpourri” in 2000. Hy is op 13 Julie 2011 in Bloemfontein oorlede nadat hy 3 weke vantevore in die hospitaal opgeneem is met longinfeksie en hartversaking. Hy was 87 jaar oud.
Hierdie liedjie is in 1967 op solus sewe uitgereik as die B-kant van “Baas Jack”.
