Bitter skaars en waarskynlik die eerste opname van ‘n “boogie” plaat in Suid-Afrika.
Nico Carstens is op 10 Februarie 1926 in Kaapstad gebore as Nicolaas Cornelius Carstens. Hy het sy eerste trekklavier gekry toe hy 13 jaar oud was, en het sy eerste liedjie op 17 gekomponeer. Hy het ‘n lang en roemryke loopbaan gehad as musikant, orkesleier en komponis, het sowat 1,200 liedjies in sy lewe geskryf en meer as 100 albums vrygestel. Nico is op 1 November 2016 in die ouderdom van 90 oorlede.
Ronald Chesney was van Franse afkoms, maar sy ouers het hulle in Engeland gevestig toe hy nog ‘n kleuter was. Hy het die Franse Lycée-skool in Londen bygewoon, maar dit op die ouderdom van 16 verlaat en ‘n mondfluitjie-speler geword wat professioneel begin optree het vanaf die ouderdom van 17. Hy het ook sy Engelse naam begin gebruik. Hy het se loopbaan begin deur by die ABC Teaters op te tree, en het vanaf 1937 tydens BBC Radio-uitsendings gespeel. Hy is ongeskik verklaar om tydens die Tweede Wêreldoorlog te dien as gevolg van die feit dat hy ‘n nier moes laat verwyder wat deur tuberkulose beskadig is. Tydens die oorlog het hy troepe geleer om die mondfluitjie te bespeel tydens ‘n BBC-radio reeks wat vanaf die begin van 1940 vir 42 weke geduur het. Na die oorlog het hy begin diversifiseer en ook klassieke musiek begin speel. Chesney het ‘n bekende kunstenaar geword, troepe vermaak, by die Londen Palladium en Royal Albert Hall opgetree, en saam met Duke Ellington en Gracie Fields gewerk.
Hierdie liedjie is in 1951 op ‘n 78-spoed plaat uitgereik.
