Leslie Greeff – Die dierbare moeder van my

Leslie Eugene Greeff is op 14 April 1921 op Bethanie in Namibië gebore, waar sy pa in diens van die S.A. Polisie was. In later jare het die gesin eers na Uitenhage verhuis waar Leslie sy laerskooldae aan Muir Kollege voltooi het, en toe na Wellington waar hy matriek aan die Hoër Jongenskool in die Paarl geslaag het. Hoewel hy geen formele musiekopleiding ontvang het nie, het hy gereeld tydens skoolkonserte opgetree. Na matriek het hy vir ‘n die Shell-oliemaatskappy op Walvisbaai begin werk, en is in 1945 na Johannesburg verplaas waar hy gou vriende gemaak het met orkesleiers soos Arnout Malherbe en Hansie van Loggerenberg. Hy het gereeld saam met hulle orkeste opgetree, ook in die ATKV-saal in Braamfontein tydens “Die Randse Vriendekring”, ‘n verskeidenheidskonsert wat direk oor die radio uitgesaai is. In 1948 het hy by Danie van Loggerenberg, Hansie se broer, se radio- en dansorkes aangesluit en vir sowat tien jaar lank saam met hulle opgetree by konserte en danse. Hulle het ook verskeie radio-uitsendings gedoen en ‘n aantal 78-spoed plate vir die Gallo, Trutone en Trek platemaatskappye opgeneem.

In 1956 het Leslie sy eie dansorkes, met die bekende Corrie Nortje as konsertinaspeler, gestig, en het hulle gereeld by die Newmarket Hotel in Alberton en die Mimosa Hotel op Springs opgetree. Na ‘n paar jaar het hy egter besluit om hom toe te spits op die plate mark en het hy ‘n groot aantal langspeelplate vir Trutone (op die Juweel-etiket) en vir Meteor (op die Kristal-etiket) uitgereik. Hy het ook ‘n hele paar transkripsie-opnames vir die SAUK gemaak saam met George Hayden se orkes. Tydens sy loopbaan het hy gereeld landwyd vertonings gelewer, en was selfs gewild in Nederland en in ander Europese lande. Behalwe vir sy ligte Afrikaanse liedjies was hy ook destyds geag as die gewildste sanger van gewyde liedere en hy word tot vandag toe beskou as die eerste ware Afrikaanse gospel sanger.

Nadat hy meer as tien suksesvolle Afrikaanse langspeelplate uitgereik het, het Meteor gehoor gegee aan versoeke van die publiek dat hy ook in Engels moes sing en is sy album, “Dancing With Memories”, in 1969 uitgereik. Hy het in 1975 sy laaste langspeelplaat, “Hou U My Hand”, uitgereik en toe die musiekwêreld vaarwel toegeroep, en nadat hy by die Shell-maatskappy afgetree het, het hy op Winkelspruit in KwaZulu-Natal gaan woon.

Leslie Greeff sal onthou word as ‘n baanbreker en vegter vir die “goeie” Afrikaanse lied, aangesien hy altyd wou gehad het dat die lirieke suiwer, eenvoudige en korrekte taal moes bevat. ‘n Ander interessante feit is dat sy foto nooit op enige van die omslae van sy plate verskyn het nie. Hy is op 30 Augustus 2006 in die ouderdom van 85 oorlede.

Hierdie liedjie is in 1966 op die album “Onthou Jy Nog” vrygestel.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.